Plaaslike dokumentêr oor renosterstropery vereer

stroop-01

STROOP – Journey into the Rhino Horn War word in Februarie die eerste keer in Suid-Afrika vertoon. Foto: Verskaf.

ʼn Suid-Afrikaanse dokumentêre rolprent, wat handel oor renosterstropery, het die Green Tenacity-prys op die agtste jaarlikse San Francisco Green-rolprentfees ontvang.

STROOP – Journey into the Rhino Horn War het die prys ontvang op die vooraand van die fliek se première tydens die fees wat van 6 tot 14 September in die VSA sal plaasvind.

Die rolprent plaas die soeklig op die skokkende storie van voortslepende stropery van Suid-Afrika se renosterbevolking en die handel van renostershorings.

“Ons is in die sewende hemel oor hierdie uitstaande toekenning. Dit maak al die harde werk en toewyding wat ons in hierdie projek ingeploeg het, die moeite werd.

“Hopelik sal dit nog meer bewusmaking van renosterstropery meebring en mense ook aanmoedig om die rolprent te kyk,” het die vervaardiger Bonné De Bod verheug gesê.

STROOP is een van ongeveer 350 inskrywings, waarvan net 26 uiteindelik vir die fees goedgekeur is en vyf pryse ontvang het. Die Green Tenacity-prys word aan rolprentvervaardigers toegeken wat “groot toewyding toon deur polsende omgewingsake in hul werk verken”.

De Bod, wat ook gereeld meningstukke oor omgewingsake vir Maroela Media skryf, en die regisseur, Susan Scott, het reeds vier jaar aan die dokumentêr gewerk toe hulle hul huise verkoop, uit hul werk bedank en by hul ma’s ingetrek het om dit te kon bekostig om dié storie te vertel.

Die rolprent se vervaardiging sou aanvanklik ʼn ses maande projek gewees het, maar dit het ʼn veel langer en gevaarlike ekspedisie geword waar De Bod en Scott die agterkamers van smokkelaars en handelaars in China en Viëtnam verfilm het. Hulle het ook eksklusief met die spesialis-veldwagterseenhede in die Krugerwildtuin, wat renosters oppas, gesels.

De Bod glo die rolprent bewys waarom renosters wat geteiken word, ʼn waardige bestaan verdien en vry van uitbuiting moet wees. “Die uiteinde van ons verfilming is ʼn aangrypende, roerende dokumentêr wat kykers skok en uitdaag.”

  • STROOP – Journey into the Rhino Horn War word in Februarie die eerste keer in Suid-Afrika vertoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Paul ·

En as ons net één van hierdie bewarings-aktiviste en omgee-mense vergeet sal dit ‘n kwade dag in die wêreld wees. Dankie Bonné, dankie Elise en ander wat hul lewe vir die bewaring van ons natuur, ekosisteme, opoffer en daardeur sin aan ons lewe gee. In hierdie dae het die versaak van ons skaars waterbronne baie aandag gekry. Mens sorg mos nie net vir jouself nie, maar ook vir dit wat die liewe Vader aan ons toevertrou het. Bewaar dit vir die nageslag én die oorlewing van die spesie, die leeu, die renoster, elke plant en dier. En die grootste van als is omdat jy ‘n bydrae gelewer het, die genoegdoening dat jy bygedra het om ‘n verskil te maak!

Paul ·

Maroela. jul eie mense leef vir die uitgestrekte grasvlaktes, ruie veld met olifante wat die takke kraak, hier en daar sien mens opdrifsels in die rivierlope, lalapalms teen die hange, buffles wat daar wei, bobbejane grawe in die rivierbedding, kek kék-kék-kék, kek kék-kék-kék , krys ‘n Natalse fisant.

Willem ·

En die realiteit is dat, by verre, meeste mense in die land het geen begrip daarvoor nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.