Plaaslike natuurdokkie oor SA kelpwoud, seekat op Netflix

“My Octopus Teacher” word op 7 September op Netflix uitgereik. (Foto: Verskaf.)

Die Kaapstadse nieregeringsorganisasie Sea Change Project se eerste dokumentêr, My Octopus Teacher, word op Maandag 7 September op Netflix uitgereik.

Hierdie natuurrolprent is ʼn vertoonkas vir die delikate ekostelsel van Suid-Afrika se eie reuse-kelpwoud wat onder die golwe van ons plaaslike kuslyn lê. Dit bevat ook skaars en uitsonderlike beeldmateriaal van ʼn man se onverwagte band met ʼn nuuskierige klein seekat.

Die kelpwoud van Suider-Afrika strek oor 1 300 km langs die kuslyne van Suid-Afrika en Namibië. Dit is ʼn wonderwêreld van oorvloedige biodiversiteit en die tuiste van talle wesens wat nêrens anders aangetref word nie. Die meeste Suid-Afrikaners is egter totaal onbewus van die uitgestrekte onderwaterwoud aan ons eie kuslyn.

My Octopus Teacher neem die kykers op reis na die kelpwoud. Dit volg Craig Foster, ʼn man wat aan uitbranding ly, waar hy begin met ʼn daaglikse duikregime in die yskoue seewater van die kelpwoud om sy batterye te herlaai.

Foster, ʼn bekroonde rolprentvervaardiger en medestigter van die Sea Change Project, het die afgelope nege jaar daaraan gewy om elke dag sonder ʼn duikpak in die Atlantiese Oseaan te duik en die kelpwoud te verken.

In dié tyd kom hy ʼn nuuskierige seekat teë en die rolprent dokumenteer die bewegings van dié dier – iets wat selde in die natuur gedoen word, laat staan nog onder die water – oor ʼn volle jaar. Dit ondersoek die seekat se gewoontes en persoonlikheid as ʼn wese wat die meeste mense nog net op ʼn bord teëgekom het.

Pippa Ehlrich is die regisseur van die plaaslike natuurrolprent. Sy is ook ‘n lid van Sea Change Project. (Foto: Verskaf.)

Pippa Ehrlich, die regisseur van die rolprent, is ʼn plaaslike rolprentmaker en omgewingjoernalis wat spesialiseer op die gebied van mariene wetenskap en bewaring. Sy het al saam met van die wêreld se voorste mariene navorsers en onderwaterfotograwe gewerk en is ook ʼn lid van die Sea Change Project.

“Dit is oorweldigend om te weet dat miljoene mense wêreldwyd na ons rolprent gaan kyk. Dit is opwindend vir my as rolprentmaker, maar ook as natuurbewaarder.

“Ons hoop dat die prent plaaslike en internasionale belangstelling in die groot Afrika-kelpwoud sal prikkel en ʼn sinvolle gesprek oor die bewaring van die habitat sal aanwakker – al moedig dit mense net om hulle kinders daar te laat snorkel,” het Ehrlich gesê.

Sy sê bewaring handel net soveel daaroor om na mense om te sien as wat dit is om die natuur te beskerm.

“Op ʼn internasionale vlak hoop ons die rolprent inspireer toeriste om Suid-Afrika se kelpwoud te besoek want dit is broodnodig om werk in die omgewing te skep. Suid-Afrika kan nie net op die ontginning van ons natuurlike hulpbronne staatmaak om werkgeleenthede te verskaf nie.”

Hierdie dokumentêr is die eerste stap in ʼn poging om die publiek en besluitnemers te oortuig om die besonderse natuurjuweel te help bewaar. Dit is veral belangrik aangesien daar in die afgelope dekade ʼn merkbare agteruitgang in 40% van die wêreld se kelpwoude was. Sommige van hierdie habitatte het stil-stil al heeltemal verdwyn. Dit is veral kusontwikkeling, klimaatsverandering en oorbevissing wat die waterhabitat bedreig.

Die natuurhistorikus sir David Attenborough het al gesê die groot Afrika-kelpwoud is van onskatbare waarde en het vir die bewaring daarvan gepleit.

Suid-Afrika se wetenskapgemeenskap is ook al meer bewus van hoe belangrik dit is om die boodskap oor bewaring van die land se ryk mariene biodiversiteit uit te dra. Die groot Afrika-kelpwoud word deur talle bedreigings in die gesig gestaar, wat wissel van stropery en besoedeling tot oorbevissing, maar die eerste stap om dit te hanteer is om die gebrek aan bewustheid en wetenskaplike kennis oor dié waterhabitat aan te pak.

‘n Band tussen Craig Foster en ‘n klein seekat is die verhaal waarteen die dokumentêr afspeel. (Foto: Craig Foster.)

Tog is daar oor die afgelope dekades verbasend min wetenskaplike navorsing oor die kelpwoud van Suid-Afrika gedoen. Dit is kommerwekkend want om ʼn ekostelsel te bewaar, is dit noodsaaklik om die ekologie en biologiese funksies daarvan te verstaan.

“Tot dusver was daar bykans geen voorspraak vir die beskerming van die kelpwoud nie. Dit is ons rol by Sea Change Project om stories te vertel wat ʼn emosionele band tussen mense en die kelpwoud bevorder. Ons wil dié kelpwoud ʼn wêreldbekende ikoon maak sodat dit erken word as ʼn internasionale skat wat vir geslagte bewaar moet word,” sê Carina Frankal, die hoof van die Sea Change-stigting.

“Met geldinsamelingsprojekte en die uitbreiding van ons vennote kan ons as span ons beywer vir die behoud van ons mariene omgewings. Ons hoop dat hierdie dokumentêr sal bydra tot die wêreldwye veldtog om 30% van ons oseane teen 2030 as bewaringsgebiede te beskerm.”

My Octopus Teacher is ʼn trots Suid-Afrikaanse produksie en het reeds talle benoemings, en selfs ʼn paar pryse op rolprentfeeste ingeoes.

Dit het agt benoemings vir die Jackson Wild-mediapryse, een van die belangrikste natuurrolprent-toekennings ter wêreld, gekry, wat meer is as enige ander rolprent vanjaar. Dit het ook onlangs die prys vir die beste rolprent by Earth X gewen en nog vier bewaringsrolprentpryse ontvang, waaronder twee gesogte Panda-pryse op die Wildscreen-rolprentfees.

Ehrlich het saam met James Reed die regie van die dokumentêr behartig en Craig Foster is die vervaardiger. Die projek is saam met die Sea Change Project, Off the Fence Productions in Nederland en Netflix aangepak. Kevin Smuts het die oorspronklike klankbaan vir rolprent geskep terwyl Barry Donnelly die klankontwerp en Refinery Cape Town die post-produksie behartig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.