Plaaslike skrywers se boeke eersdaags in Frans, Albanies

(Foto: Charl Folscher/Unsplash)

Die Afrikaanse boeke Die hemeltuin en Donker spoor gaan binnekort met die hulp van die PEN Afrikaans Vertaalfonds in Frans en Albanies vertaal word.

Lesers van Frans kan daarna uitsien om Pierre-Marie Finkelstein se vertaling van Die hemeltuin deur Karel Schoeman in 2023 op die winkelrakke te sien. Finkelstein is ʼn ervare en bekroonde literêre vertaler van onder meer werke deur Nathan Trantraal, Ronelda Kamfer, Marlene van Niekerk en Ingrid Winterbach. Hy het ook al verskeie Schoeman-titels vertaal en is een van die min Franse vertalers wat direk uit die Afrikaanse bronteks werk.

Actes Sud, die uitgewer wat die vertaalregte aangeskaf het, is ʼn gerekende en gevestigde uitgewery wat groot skrywers uit die wêreldletterkunde op hul lys het. Die uitgewery is in 1978 gestig en het hulself juis vanweë die fokus op vertaalde letterkunde onderskei en só gegroei en uitgebrei.

Die hemeltuin het oorspronklik in 1979 by Human & Rousseau, ʼn druknaam van NB-Uitgewers, verskyn. In Die geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde meld JC Kannemeyer dat Schoeman daarin slaag om met hierdie teks een van sy beste werke te lewer, deur “die fyn organisasie, sensitiewe karaktertekening en die kuns van suggestie”. Ook JP Smuts meld in sy resensie van die roman dat dit een van die beste werke in Schoeman se oeuvre is.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds het voorheen ook ’n Nederlandse vertaling van Die hemeltuin ondersteun, wat intussen by Uitgeverij Aldo Manuzio die lig gesien het.

Vir die eerste keer sedert die totstandkoming van die PEN Afrikaans Vertaalfonds, sal ʼn vertaling na Albanies ook gefinansier word.

Ons gesels met die skrywer, Martin Steyn, oor sy debuut misdaadroman, Donker Spoor. Foto: Argief.

Donker spoor, die debuutroman van gevierde spanningskrywer Martin Steyn, sal in Albaniese vertaling deur Ombra GVG, een van Albanië se voorste uitgewerye, uitgegee word.

Donker spoor het al in Engelse en Turkse vertaling verskyn. Dit het in 2014 by Lapa Uitgewers verskyn en met dié “stewige en oorspronklike debuut” het Steyn ʼn naam geraak om dop te hou in die misdaadspanningsgenre, sê Riaan Grobler in sy resensie. In sy lowende bespreking van die roman sê Jonathan Amid “Steyn het hier iets geskep wat die leser lank sal bybly”. In 2015 is Steyn met die ATKV-Woordveertjie vir spanningslektuur vir dié roman bekroon en in 2018 is die Engelstalige uitgawe in die VSA met ʼn Kirkus Star Review vereer.

Die beoogde publikasiedatum van die Albaniese uitgawe is Mei 2022. Dit sal in Albanië, Kosovo en Noord-Masedonië versprei word en die vertaler is Elvi Proko.

Die PEN Afrikaans Vertaalfonds se sentrale doelstelling is om Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak deur die toekenning van vertaalsubsidies aan buitelandse uitgewers wat suksesvol daarvoor aansoek doen. Die fonds bestaan te danke aan die ruim ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys.

Die twee sperdatums vir aansoeke is 15 Mei en 15 November van elke kalenderjaar. Die reglement met volledige riglyne en bepalings is beskikbaar op PEN Afrikaans se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.