Plaasskool in stad span unieke filosofie in

Laerskool Die Krans-leerders. Foto: Verskaf

Laerskool Die Krans-leerders. Foto: Verskaf

Janetta van Niekerk, die stigter en skoolhoof van Laerskool Die Krans, sê háár onderwysfilosofie het tot groot sukses gelei vir ʼn unieke plaasskooltjie in die stad.

Janetta is in 2004 gevra om ʼn kleuterskool te begin vir die NG gemeente Skuilkrans. Dié skool was deel van die jeugbediening wat sy geriewe tot beskikking van die skool gestel het.

Die skool het aanvanklik net 12 kinders gehad en nou, in 2016, is daar 330. “Ons bedryf die skool as drie afsonderlike afdelings: Kransjakker-kleuterskool, Die Krans Grondslagfase en Die Krans Intermediêre fase. Kleintjies van 18 maande tot vyf jaar is by die kleuterskool. Van graad R tot 3 is hulle in die Grondslagfase van Laerskool Die Krans. In die Intermediêre fase het ons nou ons eerste graad 5’s. Ons glo dat elke ouderdomsgroep besonders is en dat ʼn kind die kans moet hê om daardie fase ten volle uit te leef sonder dat ʼn ouer kind domineer of meerderwaardig toekyk.”

Sy sê die Christelike karakter van die skool verseker dat daar ʼn groot aanvraag is. “Die aanvraag groei heeltyd – waarskynlik danksy die besondere karakter, Christelike aard en familiegerigte werkswyse van ons skool. Ons volg nie ʼn keuringsproses nie. Dié wat eerste aansoek doen, word eerste gehelp. Boeties en sussies van reeds ingeskrewe kinders kry voorkeur. Ons is gewoonlik teen Mei reeds vol vir die volgende jaar. Ons het kinders wat al twee jaar lank op ʼn waglys is.”

Die Atterbury Trust is ook betrokke by dié skool. “Ons noue pad met die NG gemeente Skuilkrans het begin skei en ons het toe ʼn maatskappy sonder winsbejag gestig. Alle ouers wat skoolgeld betaal, is lede van hierdie maatskappy. Ons het vinnig besef dat ons ʼn beduidende verskil in mense se lewe maak en moes daarom seker maak dat die skool ontwikkel. Ons het ʼn sakeplan saamgestel en sakelui begin spreek. Ná verskeie draaie het ons by Atterbury Trust uitgekom, wat as een van sy hoofdoelstellings die bevordering van Afrikaanse opvoeding het,” het sy oor dié instansie vertel.

Sy sê ʼn kind se skoolervaring gedurende sy eerste nege jaar is van sleutelbelang. “Ek glo dat ’n mens dan besig is om die fondament van ʼn lewenshuis te grawe. As die fondament sterk is, kan ’n mens ʼn kasteel daarop bou.”

Dit is uiteraard ook belangrik dat leerders in die skool toegelaat word om foute te maak en wel hul potensiaal bereik. “ʼn Kind op hierdie ouderdom moet sukses ervaar en in homself glo. Hy moet beleef dat die lewe vir hom ‘ja’ sê, ongeag sy potensiaal. Kinders wat gelukkig is, veilig voel en tuis is, wil leer. Kinders moet toegelaat word om foute te maak; dit is deel van die lewe.”

Dit is ook belangrik om kinders se menswaardigheid te ontwikkel en te vertroetel. “Tot en met ongeveer nege jaar is ʼn kind in ʼn selfsugtige fase van sy lewe. Ek glo dat dit met ʼn doel is: Hulle is nog besig om hulself te ontdek en te bepaal wie hulle is. By ons is daar elke oggend ʼn onderwyseres aan diens by die skoolhekkie. Elke kind word persoonlik gegroet en daar word nog toepaslike vrae gevra: “Ek sien jou hare is gesny?” of “Kuier Ouma nog by julle?” Die ondersteuning wat hierdie belangstelling in ʼn kind se lewe uitstraal, is van onskatbare waarde. Om ’n kind se eiewaarde te verhoog, glo ons ook dat hulle onvoorwaardelik aanvaar moet word.”

Dit is vir haar belangrik om ʼn privaat skool as maatskappy te bestuur waarby die ouers betrokke is. “Elke kind verdien die voorreg om aanvanklik in die moedertaal onderrig te word. Taal is meer as net ʼn kommunikasiemiddel, dit is deel van ’n mens se identiteit. Engels as tweede taal is belangrik, want dit is hoe ons met mekaar en die wêreld kan kommunikeer. Onderwys, veral by laerskole, is ons land se enigste oplossing. Ons is baie ver van ʼn ideale onderwyskultuur vir elke kind in hierdie land en ek glo dit is moontlik.”

Oor Laerskool Die Krans koester sy groot drome. “Vir my is die heel belangrikste dat die skool sy besondere karakter sal behou. Ek sou egter eerder nog so ʼn skool wou begin as om die skool te groot te laat word. Ons hoop om oor 11 jaar ʼn volledige skool te wees tot graad 7 met twee klasse per ouderdomsgroep. Ons is op nóg ʼn vlak baie dankbaar teenoor Atterbury Trust en dit is dat hulle dit vir ons moontlik gemaak het om deel te wees van die vennootskap wat nuwe sportterreine langs die N1 en N4 ontwikkel – dis naby ons skool en gaan groot verligting bring vir ons sportbehoeftes.”

Vir meer inligting oor Die Krans, besoek hulle webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ruby ·

Wow, dis nou ‘n SKOOL!

Basta met “koop ‘n kind” sindroom van meeste skole deesdae. Skoolhoofde, kyk hoe word dit gedoen!

Hier gaan dit oor die kind se groei, nie die skool, 10/10 vir julle en dankie ook aan Atterbury Trust.

Liefie ·

Ek is baie trots om n werkgewer van Atterbury te wees. Dis is voorwaar n fantastiese instansie!!!!

Melani ·

Wat n wonderlike skooltjie is dit nie. Beide my kinders was daar. Ek kan nét met lof praat van n ieder en elk by die skool. Janetta is n besonderse vrou by wie ek so baie kon leer. Opreg en eg. Ek kan net dankie sê vir die grondslag wat my kinders daar kon kry. Die Krans bo!!

Winnie Tromp ·

Ons het drie kleinkinders by hierdie skooltjie en die oudste is in Gr 5. Die Christelike karakter en liefde by die skool word uitgestraal. Elke kind is belangrik ongeag sy prestasie. Ons loof ons Hemelse Vader vir so skool en sy onderwysers!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.