Plak ons pleisters of maak ons gemeenskappe gesond?

Dr. Elsha Hermann. (Foto verskaf)

Gemeenskappe met goeie harte het twee opsies: om pleisters te plak of om gesond te maak.

Gemeenskappe met goeie harte wat swoeg en sweet om pleisters te plak om die nood te verlig, bedoel goed.

Probleme, behoeftes en krisisse is onafwendbaar in enige gemeenskap, ongeag of daardie gemeenskap ryk of arm is. Alle gemeenskappe word deur uitdagings getref. Goedhartige mense se harte is oop; hulle help, hulle gee.

Die gesin sonder tuiste het min hoop; hulle kry huisraad en warm komberse. Die krisis is groot en die pleisters word geplak.

Die sopkombuis op die hoek gee weekliks warm etes. Die man stap aan en wag vir die volgende ete. ’n Vragmotor bring ’n groot skenking kospakkies wat tydelike verligting bring. Die pleister word geplak.

Die bedelaars langs die pad ontvang ’n geldjie en soms ook ’n broodjie. Hulle sakke raak vol, maar net so vinnig weer leeg. Die eensame ouma in die tehuis ontvang ’n fraai versierde kolwyntjie en geniet die kindergesiggies wat so vrolik sing. Maar wanneer die kinders die tehuis verlaat, is sy steeds eensaam. Die pleister kon net tydelik verligting bring.

Die man wat sy werk verloor het se kop sak moedeloos, maar daar word ’n pakkie vir sy gesin afgelaai. Die pleister help ’n maand lank.

Bure is ongeskik met mekaar en motoriste aggressief. Kinders gooi papiere in die strate en is ongeskik met ’n ou oom wat hulle vermaan. Om matriek te skryf is vir seker nie vir hulle nie. Rook, drank- en dwelmmisbruik is ’n groter trekpleister. Die juffrou by die skool het ’n goeie hart en help uit haar eie sak met skoolgeld. Sy probeer met goedheid pleisters plak. Die kinders se nood word groter en die juffrou armer. Die pleisters is nie genoeg nie.

Die stapel lêers op die maatskaplike werker se tafel word al hoe hoër. Dag ná dag word vure doodgeslaan. Die swere bars oop; die pleisters help nie meer nie.

Die kerk probeer help, maar die nood is te groot, die geld word min en almal raak emosioneel moeg en afgemat.

Die armoede en agteruitgang word al hoe groter, die hoop al hoe minder, want daar is min of geen volhoubare oplossings nie. Die klein vlammetjies hoop word vinnig geblus, want die nood is te groot en die hulpbronne te min. Die gemeenskap met die goeie hart raak moedeloos, magteloos, uitgebrand en gefrustreerd, want ’n volhoubare antwoord is daar nie. Die pleisters is nie genoeg nie.

Gemeenskappe met goeie harte wat swoeg en sweet om die nood op ’n volhoubare wyse te verlig, bring die vooruitsig op voorspoed en groei.

Elkeen in die gemeenskap voel die probleme en nood aan eie lyf. Die ekonomie maak almal moedeloos; die vooruitsigte lyk bleek. Die kinders het min hoop en praat van ’n ander plek met beter geleenthede. Die ouers raak stil, want die konflik is te veel. Die daaglikse stryd om oorlewing is ’n realiteit. Werksverliese bring angs. Daar is geen hoop, geen toekomsvisie, geen heenkome nie.

Maar die gemeenskap staan op en sê hokaai, kom ons beraam saam planne. Hulle weet waarop hulle hoop. Hulle dink saam, werk saam, bid saam en bou saam. Hulle besluit om vir hulself ’n toekoms in hierdie plek te skep. Hulle begin by ’n komitee en maak planne om mekaar te ondersteun. Hulle gee om en vra uit en sorg dat niemand swaarkry nie. Hulle help ’n ouetehuis of kleuterskool om volhoubaar te wees. Hulle gee vir mekaar werk en help dat ander kan gaan studeer. Nie ’n geldjie by die verkeerslig nie, maar ’n werkie in die tuin. Nie ’n kospakkie vir ’n dwelmverslaafde nie, maar voorkomingsprogramme by skole. Nie bloot ’n kombers vir die drankverslaafde onder die boom nie, maar ‘n rehabilitasieprogram. Hulle maak planne om op hulle eie bene te staan. Hulle glo HELP MEKAAR is die antwoord. Dis ’n gemeenskap wat self doen en nie vir ander wag om te doen nie, maar wat ook weet om raad te vra as dit nodig is. Hierdie gemeenskap weet elkeen het ’n doel en ’n roeping. Hulle doen self en vat hande met instellings en netwerke. Hulle skep hoop en ’n toekoms en verseker so volhoubare voorspoed.

Hoe lyk jou gemeenskap? Plak julle pleisters of werk julle saam om almal gesond te maak?

Wil jy wag tot ander doen, of gaan jy saam met Solidariteit Helpende Hand die hoop op volhoubare voorspoed vir die toekoms in jou gemeenskap verseker? Hierdie proses is dikwels stadiger en moeiliker en daar is meer uitdagings, maar die opbrengs daarvan strek tot voordeel van ons nageslag. Daar is soms minder foto’s om op Facebook en ander sosiale platforms te plaas, maar dit is die enigste wyse om werklik ’n verskil in gemeenskappe te maak. Dit vra meer opoffering en geduld, maar is roepingsgedrewe en fokus op volhoubare resultate.

Op 17 Mei 2022 bespreek ons by Solidariteit Helpende Hand se simposium oor gemeenskapsontwikkeling hoe ons ’n volhoubare verskil in gemeenskappe kan maak. Die simposium se tema is Volhoubare gemeenskapsontwikkeling in die Afrikaner-konteks. By hierdie geleentheid  gaan ons saam dink, gesels en vrae vra oor hoe ons ons gemeenskappe op ’n volhoubare wyse kan opbou en ontwikkel. Hannes Noëth, Flip Buys, Dirk Hermann en Kallie Kriel gaan as sprekers optree. Kom kyk saam met ons met nuwe oë na die opbou en herstel van ons gemeenskappe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.