Plan gemaak om bejaardes se eensaamheid te klop

(Foto: Verskaf)

ʼn Versorgingsfasiliteit vir bejaardes in Pretoria het ʼn oulike manier gevind om hul inwoners se eensaamheid te verlig tydens die afsonderingstydperk.

Die span by die Fleurenville Aged Care Facility in Montana het ʼn restaurant begin wat sosiale distansiëring toepas sodat die inwoners in ʼn mate sosiaal kan verkeer en nie té eensaam raak terwyl hul geliefdes nie by hulle kan gaan kuier nie.

Cobus Locke, Fleurenville se uitvoerende hoof, sê om eensaamheid te beveg is een van die grootste take wanneer ʼn mens na bejaardes omsien. As gevolg van die nasionale afsonderingstydperk het eensaamheid onder hierdie mense toegeneem.

“Ons inwoners is nie net geskei van hul vriende wat hier saam met hulle woon nie, maar ook van hul geliefdes en familie wat voorheen so veel as wat hulle wou kon kom kuier het,” sê Locke.

“Ons span het koppe bymekaargesit om met ʼn oplossing vorendag te kom wat inwoners in staat stel om steeds te sosialiseer, maar wat ook steeds koronavirus-veiligheidsmaatreëls toepas.”

(Foto: Verskaf)

Hulle het toe begin met ʼn spesiale restaurant-styl middagete. Tafels is so opgestel dat slegs een persoon aan tafel sit en dat almal 1,5 meter uit mekaar sit. Almal kry ʼn beurt om saam met ʼn groep middagete te eet.

Hulle word dan bederf met ʼn driegangmaaltyd wat deur die “kelners” bedien word wat ook beskermende drag dra.

“Ons wou die ervaring om saam met jou vriende by ʼn restaurant te wees vir middagete so eg moontlik namaak.”

Locke sê hierdie tipe interaksie en aktiwiteite is belangriker vir hul inwoners as wat mense besef.

“Vir die inwoners se geestes- en emosionele welstand, moet hulle sosialiseer. En om weg van hulle families te wees, is natuurlik moeilik vir hulle. Ons het hierdie ervaring geskep om vir hulle ʼn kans te gee om te sosialiseer in ʼn omgewing wat amper normaal voel,” sê hy.

Volgens Locke was die terugvoer van die inwoners ongelooflik en is hulle absoluut mal daaroor.

“Baie van die inwoners is vriende wat daagliks met mekaar gesels. En tydens inperking het hulle regtig na mekaar begin verlang. Ons kon sien hulle word geaffekteer deur die isolasie, maar nou sien ons weer glimlagte op hul gesigte!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kaptein67 ·

Baie goeie idee!! Ons kan die idee ook in die restaurant bedryf toepas, dan kan die bedryf weer begin werk.

Queline ·

Bly om te sien dat daar nog tehuise vir bejaardes is wat om gee oor hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.