Plastiek ingesamel vir bewusmaking én uilhuise

Pretoria FM het Woensdag hul skoleprojek afgeskop (Foto: Verskaf)

Pretoria FM, in samewerking met King Price, het die “Omgee-wings”-skoleprojek van stapel gestuur om skoolkinders se belangstelling te prikkel in natuurbewaring.

Dié projek is Woensdag bekendgestel en sal fokus op die eenmalige gebruik van plastiek.

Pretoria FM het ses skole in die omgewing naamlik Eldoraigne, Gerrit Maritz, Overkruin, Hendrik Verwoerd, Wonderboom en Waterkloof genader en dié skole sal nou met mekaar meeding om te kyk wie die meeste plastiek in ses weke kan versamel.

“Plastiekafval raak ál die wêreld se oseane en baie min pogings word tans in Suid-Afrika aangewend om hierdie probleem hok te slaan. Daar word beweer dat ongeveer 8,8 miljoen ton plastiekafval jaarliks in die oseane gestort word en dat daar dus wesenlike skade aan die marienelewe veroorsaak word,” het Pretoria FM in ʼn verklaring gesê.

“Die doel is nie net om plastiek te versamel nie, maar om ook bewusmaking op sosiale media te skep. Ouers word ook aangemoedig om deel te neem. Mense kan die projek op sosiale media volg deur te soek vir #Makingadifference, #Pretoriafmskoleprojek @pretoriafm @kingprice en @OwlRescuecentre,” het die radiostasie gesê.

Owl Rescue Centre, ʼn geregistreerde nie-winsgewende rehabilitasiefasiliteit wat fokus op die welsyn van alle uilspesies in Suider Afrika, het met ’n unieke gebruik vir herwinde plastiek vorendag gekom en dit sal gebruik word in die skoleprojek.

Die organisasie se stigterslede, Brendan en Danelle Murray, het onlangs besluit dat al die sentrum se natuurbewaringsprodukte, insluitend uilhuise, vlermuishuise en byekorwe van herwinde plastiek in plaas van hout vervaardig sal word.

“Die plastiek wat deur die skole in die Pretoria FM “Omgee-wings”-projek versamel word, sal ook deur die sentrum aanvaar word om in uilhuise te omskep,” het hulle gesê.

Die projek het ook ’n oseaanopruimingsmissie in die pyplyn en die verkryging van ʼn skip is op die agenda. “Ons poog om ses honderd ton plastiek per jaar te herwin, wat dit ʼn waardige en haalbare omgewingsprojek maak,” het Pretoria FM gesê.

Die bekendstelling van die skoleprojek het op Woensdag 25 Julie by King Price afgeskop en op 27 Julie sal ʼn vertoning van die dokumentêr A Plastic Ocean by Kleinkaap Boetiek Hotel in Centurion gehou word vir die leiers van elke skool.

Die eerste regstreekse radio-uitsending vanaf ’n skool sal op Vrydag 3 Augustus tussen 08:00 en 09:00 plaasvind. Bly ingeskakel op Pretoria FM of besoek hul Facebook-blad vir meer inligting.

Die skool wat die meeste plastiek insamel ontvang ʼn konsert met Joshua na die Reën as prys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Griet ·

Waarom word net sekere skole genooi om aan die kompetiesie deel te neem? Wat van John Voster tegnies, Tuine, Garsfontein, Die Wilgers, Silverton en Centurion?

Griet ·

Dan is daar nog Oos-Moot, CR Swart, Voortrekkerhoogte, Montana. Of is die Hoêrskole tersprake net genooi omdat die personeel van Pretoria FM se kinders daar skoolgaan?

Carly Fritz ·

Hello,

Ons het meer as 30 + skole genader. Dié skole het heel eerste ingestem met ons aangesien ons `n afsluit datum in plek het vir die projek.

Paul ·

Ek lees vanoggend op Netwerk24 van hierdie waterskok.

Groot hoeveelhede mikroplastiek is deur navorsers in die kraanwater van Johannesburg en Pretoria gevind, asook in riviere in Gauteng en Noordwes. Mikroplastiek is stukkies plastiek wat elk kleiner as 5 mm is.

Boonop is mense wat op die oewer van die Vaalrivier woon woedend oor die rioolbesoedeling van die Emfuleni- munisipale gebied af wat visse, en selfs bome, blykbaar op groot skaal laat doodgaan.

Paul ·

Daar word ook berig dat tot 70 visse het sedert Dinsdag op die rivier se oppervlak buite Parys begin dryf. Krappe, visvangers en selfs kolganse is blykbaar slagoffers van die besoedeling soos dit die voedselketting besmet.

Inwoners van Parys en oewerbewoners het ook ’n WhatsApp-groep, Vaal Ramp!, gestig. Die inwoners beoog om regstappe te doen, hulle sê dit is nou hul lewenstaak om die rivier te probeer red.

Anoniem ·

Watter soort plastiek word herwin? Daar is mos verskillende soorte (nommers) plastiek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.