Plastiek vir gehekelde broodsakke nou ook in Pta ingesamel

(Foto: Verskaf)

Die “Re.Bag.Re.Use”-projek wat aanvanklik tydens die Covid-19-inperking in Houtbaai as ’n stokperdjie begin het, gaan steeds van krag tot krag, en brei nou na die Jakarandastad uit.

Vroue van die Re.Bag.Re.Use-projek samel leë broodsakke in en omskep die herwinde materiaal in gehekelde inkopie- en strandsakke, sowel as ander bruikbare produkte.

“Die projek bly groei,” sê Regine le Roux, die dryfveer agter die inisiatief. “Die ondersteuning vir Re.Bag.Re.Use is ongelooflik.

“Die idee is om vernietigende plastieksakke in bruikbare produkte om te skakel om sodoende te verhoed dat dit langs die pad, in ons pragtige natuur of in stortingsterreine beland.”

Re.Bag.Re.Use bied gemeenskapslede ’n manier om hul inkomste aan te vul met ‘n bietjie ekstra sakgeld. “Dit is nie ’n voltydse werk nie en die vroue wat deel is van die inisiatief, is nie in diens van Re.Bag.Re.Use nie. Hulle kry toelae vir die sny en hekel van Re.Bag.Re.Use-produkte,” vertel Le Roux.

Jacqueline Nompumelelo Morake, een van die Re.Bag.Re.Use-werkers in Gauteng, vertel dat die inisiatief haar weer hoop gegee het. “Met die ekstra geld wat ek maak om plastiek vir Re.Bag.Re.Use te sny, kan ek nou uiteindelik genoeg kruideniersware en noodsaaklikhede vir ons huis koop.”

(Foto: Jacqueline Nompumelelo Morake sny die plastiek en haar Ma Maggie Radebe hekel ‘n sak/Regine le Roux)

“’n Persentasie van al die verkope gaan aan plaaslike liefdadigheidsorganisasies, waarvan die Sungardens-hospies in Lynnwood Glen, Pretoria, een van die vele begunstigdes is,” sê Le Roux.

“Ek wil dié projek graag oor die hele land uitbrei. Ons het ongelooflik talentvolle mense in ons gemeenskappe, en daar is soveel plastiek wat in die omgewing beland en die natuurlewe beskadig.

“Ons is verheug om te kan sê dat Hirsch’s se winkels in Centurion en Silverlakes ons insamelpunte vir plastiek in Gauteng sal wees.

“As jy leë broodsakke, koeriersakke, vrugte- of groentepakkies of selfs ou video- of kassetbande het, laai dit asseblief by Hirsch’s af,” moedig Le Roux aan.

“Die plastiek wat geskenk word, sal dan na Koedoespoort aangestuur word, waar dit sorteer word, en daarna in pragtige Re.Bag.Re.Use-produkte omskep word.”

Margaret Hirsch, bedryfshoof van Hirsch’s, vertel dat hulle dié projek ten volle ondersteun.

“Om vroue in ons gemeenskap te bemagtig en om meer plastiek uit die omgewing te hou, is sleutelaspekte van ons onderneming. Dit is vir ons fantasties om te sien hoe vroue van die gemeenskap hul hekelvaardighede gebruik om iets wat lelik en vernietigend is, te omskep in iets moois wat ’n modestelling kan maak.”

Hoe kan jy die Re.Bag.Re.Use-projek ondersteun?

  1. Bêre jou leë broodsakke en skenk dit aan die Re.Bag.Re.Use-span. “Ons span is gretig en gereed om dit op te sny en in pragtige herbruikbare inkopiesakke te omskep,” sê Le Roux. Lesers wat skenkings wil maak, kan Le Roux direk op WhatsApp by 083 302 1528 kontak.
  2. Koop ’n Re.Bag.Re.Use-inkopie- of strandsak.
  3. Maak ’n skenking deur BackaBuddy om geld vir dié kreatiewe sakeonderneming in te samel.

Regine le Roux hardloop vanjaar 100 keer 10 km.

As jy ’n kilometer wil borg, besoek gerus die Re.Bag.Re.Use-kampioenbladsy op die BackaBuddy-platform: https://www.backabuddy.co.za/champion/project/re-bag-re-use.

Die geld wat hier ingesamel word, sal gebruik word om meer hekelwerkers en snyers aan te stel sodat produksie kan toeneem en sodoende meer huishoudings gevoed kan word.

’n Persentasie van die geld sal ook direk aan die Neighbourhood Old Age Home (NOAH) en Sungardens-hospies geskenk word.

Vir meer inligting kan jy die projek op Instagram https://www.instagram.com/re.bag.re.use/ volg.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.