Plattelandse dorpie lok honderde met inrykerk

NG kerk Moorreesburg se eerste inrykerk (Foto: Verskaf)

“Ons Afrikaners het maar net die behoefte om bymekaar te wees. Dit is onnatuurlik vir ons om nie saam te kom nie. En veral hier op die platteland, waar almal mekaar ken, raak die behoefte net al hoe groter om weer in mekaar se teenwoordigheid te wees.”

Só sê ds. Morné Bruwer van die NG kerk op Moorreesburg in die Wes-Kaap.

Dié dorp het onlangs ʼn groot inrykerk gehou wat honderde mense gelok en opnuut weer ʼn samehorigheid in die dorp geskep het.

Bruwer vertel dat dit wonderlik was om weer God se nabyheid te voel in ʼn scenario waar mense as gemeente bymekaar kon kom.

“Dit is ʼn groot probleem in kerke dat die regering sê ons mag nie in groot groepe bymekaarkom nie. As ons slegs 50 mense mag wees, wie mag kom en wie mag nie? Daarom het ons aan ʼn plan gedink waar almal saam kan kom, al is dit dan in hul motors.”

NG kerk Moorreesburg se eerste inrykerk (Foto: Verskaf)

Bruwer vertel dat die inrykerk ʼn gemeenskapsinisiatief en nie soseer ʼn kerkprojek was nie.

ʼn Boer in die gebied het ʼn stuk grond waar graan gestoor word, beskikbaar gestel waar die inrykerk kon plaasvind. ʼn Ander inwoner het ʼn sleepwa (low-bed) gegee waarop die orkes en die dominee kon staan terwyl nog ʼn vrywilliger die lyne op die grond gaan trek het om aan te dui waar die motors kan parkeer. ʼn Plaaslike musikant het sy klanktoerusting vir die geleentheid beskikbaar gestel.

Bruwer sê dit was wonderlik om te sien hoe die gemeenskap saamspan om dit te verwesenlik.

Die kerk het ʼn sender gekoop waardeur mense by hul motors se radio’s kon inskakel en na die preek luister. Hulle kon ook vooraf liedjies aflaai en in hul motors saam met die orkes sing.

Bruwer vertel ʼn bonus was dat die inwoners van die dorp se ouetehuise ook by hul radio’s in hul kamers kon inskakel, aangesien hulle nie die ouetehuise mag verlaat nie. So kon hulle ook weer deel van die gemeenskap wees.

Bruwer sê hulle was verbaas oor die 132 motors (die meeste met meer as een mens in) wat Sondag in rye gestaan het om die inrykerk by te woon. Die kerk se diakens het die aanwysings gehanteer en elke voertuig het drie meter uit mekaar stilgehou.

NG kerk Moorreesburg se eerste inrykerk (Foto: Verskaf)

Mense van omliggende dorpe soos Porterville en Piketberg het ook die diens kom bywoon.

Bruwer sê die Covid-19-pandemie, en die meegaande inperkingsvlakke, hou groot uitdagings vir kerke in.

“Mense het regtig ʼn behoefte om bymekaar uit te kom. Vir die eerste keer in ons lewe mag ons nie naby aan mekaar wees en ook nie kerk toe gaan nie – dit is die teenoorgestelde van wat ons nog altyd geleer is!

“Daar is ʼn paar ouer mense wat baie swaar kry, en hul kinders kan hulle nie besoek nie. Dit is ʼn groot uitdaging vir ons. Dit is nie so maklik om iemand oor die telefoon te beraad as om langs hulle te sit en hul hand vas te hou nie.”

Maar hy sê ook die afsonderingsregulasies bied ʼn geleentheid om nuut te dink oor die kerk en geloof.

“Dit het ons weereens net laat besef dit gaan nie oor die kerk nie, maar oor die mense. ʼn Mens kan enige plek kerk hou, dit gaan nie oor die gebou nie.”

Bruwer sê vir hom was een van die wonderlikste dinge wat die afsonderingstyd meegebring het dat die evangelie die wêreld ingestuur word met tegnologie en dat mense nou wêreldwyd eredienste kan bywoon of luister.

Volgens terugvoer wat Bruwer by mense gekry het, was die inrykerk ʼn groot sukses en iets wat almal graag weer sal wil doen.

“Dit was vir hulle ʼn besonderse ervaring om weer te voel dat hulle in die teenwoordigheid van God was. Almal was daar om dieselfde rede en daarom was dit ook so ʼn groot emosionele belewenis. Almal kon vir die eerste keer in maande weer saamkom om dieselfde God te aanbid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Adri ·

Ek is bewus van verskeie kerke in die land wat dit vir ‘n geruime tyd reeds doen. Waar ‘n wil is, is ‘n weg.

Adeline ·

Wonderlik – een ding is verseker ons Hemelse Vader is ‘n Boer en ‘n Skepper. Ons wat hom dien as ‘n volbloed Boere nasie maak altyd ‘n plan. So wonderlik om sulke nuus te lees – laat ‘n boere meisie se hart sommer warm klop!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.