Pleegkinders beleef ‘sprokiesland’ saam met Doringrosie

(Foto: Artery Fotografie)

(Foto: Artery Fotografie)

Pleegkinders van Huis Ki-Deo en Huis Gideon in Lyttelton in Gauteng se lewe is Woensdag omtower in ʼn sprokie toe die vervaardigers van die verhoogproduksie Doringrosie die kinders vir ʼn dag in jong prinse en prinsesse verander het.

Charlize Berg en Marno van Merwe, wat die hoofkarakters in die produksie vertolk, was ook daar. Dié akteurs, opgetooi in ʼn pienk balrok en ʼn fluweelmanelpak, het die kinders ingewag wat deur MRC Shuttles afgelaai is.

Huis Ki-Deo is ʼn tuiste vir kinders wat uit traumatiese omstandighede geneem is. Theresa Geldenhuys en haar man, die pleegouers, woon al 11 en ʼn half jaar lank in hierdie huis waar hulle die kinders versorg en liefhet.

“Die kinders kon wegkom van die harde werklikheid en net ontspan,” sê Geldenhuys. “Ons kinders moes soveel keer baklei teen omstandighede net om te oorleef dat hulle eintlik vergeet het hoe om kind te wees, hoe om nog te glo in die fantasie wat vandag hier vir hulle geskep is.”

Charlize Berg en Marno van der Merwe (Foto: Artery Fotografie)

Charlize Berg en Marno van der Merwe (Foto: Artery Fotografie)

Sy vertel daar is baie moeite gedoen om die kinders te bederf. Die kinders het die ete veral baie geniet. Burgers, skyfies, sjokoladekolwyntjies en roomys is vir hulle voorgesit. Daar was ook vir elke kind ʼn persoonlike geskenkpakkie wat deur Toys R Us verpak is. Die geleentheid is by Emperors Palace gehou waar die kinders laggend kon speel op die grasperk. “Die venue was vir hulle ongelooflik mooi,” voeg sy by.

Geldenhuys vertel dat die kinders agterna nie uitgepraat kon raak oor die geleentheid nie. “Hulle het oor en oor gesels oor alles wat gebeur het.”

Dié fantasiewêreld van sprokies en romanse herleef van 5 Mei tot 4 Junie in Emperors Palace in Kempton Park wanneer dié klassieke verhaal te sien is as ’n splinternuwe Afrikaanse pantomime, Doringrosie.

Doringrosie is te sien om 11:00, 15:00 en 19:30 op Saterdae en Sondae sowel as 19:30 op Donderdae en Vrydae.

Kaartjies kos tussen R170 en R270 by Computicket of enige Checkers. Vir groepbesprekings of spesiale afslag vir Winners Circle-lede, bel die Emperors Palace-kaartjiekantoor by 011 928 1297.

Die borge vir hierdie geleentheid was Emperors Palace, MRC Shuttles en Toys R Us.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.