Politikus kuier by Erfenisstigting vir familienavorsing

Dr. Pieter Mulder het die Erfenisstigting se naslaanbiblioteek besoek om navorsing te doen oor sy familie se geskiedenis. (Foto verskaf)

Dr. Pieter Mulder, voormalige leier van die Vryheidsfront Plus, het onlangs besoek afgelê by die Erfenisstigting se naslaanbiblioteek om navorsing te doen oor sy familie se kleurryke politieke geskiedenis.

Op 29 Januarie 1903 het Pieter Willem Adriaan Mulder en Maria Margaretha Catharina (née Potgieter) in die huwelik getree en só begin die verhaal van vier geslagte politici.

Dié verhaal wat oor generasies vertel word, begin op Muldersdrift (buite Krugersdorp) waar Mulder se oupagrootjie, Andries Hendrik Mulder, verkies is tot Paul Kruger se Volksraad in die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek.

Mulder vertel dit was juis die navorsing wat hy as ʼn jong student oor sy ouma gedoen het, wat hom motiveer het om aan te klop by die Erfenisstigting en navorsing te doen oor sy oupagrootjie, die man wat die Mulders se belangstelling in die politiek begin het.

“Ek het ’n boekie geskryf oor my ouma, ‘die jong meisie met ’n grootmens se las’, wat as ’n meisie van 14 of 15 jaar oud vir die eerste keer in ’n Britse konsentrasiekamp in Krugersdorp aangekom het. Haar ma is reeds voor die oorlog oorlede en sy moes die rol van ouer oorneem om na haar vier broers om te sien terwyl haar pa, kommandant FJ Potgieter, in die Krugersdorp-kommando gedien het.

“Dit het my laat besef dat ek nie werklik inligting het van my oupagrootjie of my oupa, waar die storie eintlik begin het nie.”

PWA Mulder (Mulder se oupa) was ’n bittereinder in die Anglo-Boereoorlog en later ’n rebel in 1914 wat daarvoor tronkstraf saam met genl. Christiaan de Wet uitgedien het.

Isabel Groesbeeck van die GGSA help dr. Pieter Mulder met sy navorsing. (Foto verskaf)

Hy is in 1920/21 verkies tot provinsiale raadslid van die Nasionale Party. Hy het ook die eerste NP-tak in dié omgewing gestig. Sy broer het teenoor hom gestaan (SAP), maar hy het uiteindelik die verkiesing met 42 stemme gewen.

In 1958, 38 jaar nadat sy pa as NP-verteenwoordiger in Krugersdorp gewerk het, is Connie Mulder, die jongste van tien kinders, tot die parlement verkies en het hy die tradisie van sy pa en oupa voortgesit. In sy loopbaan as politikus het Connie Mulder ook tien jaar lank (1968-1978) as minister gedien.

Pieter (PWA) Mulder en sy jonger broer Corné het ook uiteindelik in die voetspore van die drie geslagte voor hulle gevolg en elk die politiek betree. In 1988 is Mulder tot die parlement verkies en in 2017 het hy ’n loopbaan van bykans 30 jaar afgesluit.

“Ek het my loopbaan op ’n hoë noot afgesluit en ek kan nou terugkyk op ’n lang loopbaan saam met sewe presidente en talle lewenslesse.”

By sy huis in Potchefstroom of agter ’n lessenaar by die Erfenisstigting leer Mulder nog daagliks uit die verlede om ’n nalatenskap van harde werk en respek aan die jonger geslagte oor te dra.

Die FAK en Erfenisstigting het die Genealogielessenaar juis gevestig om by te dra tot die bewusmaking en bewaring van persoonlike familiegeskiedenis as onderbou van algemene Afrikaanse kultuurerfenis. Die FAK-Genealogielessenaar wil ’n genealogiese inligtingsdiens aan die breër publiek lewer, genealogiese navorsing aanmoedig, belangstellendes met wetenskaplike navorsingsmetodiek toerus en ’n genealogiese dataregister opbou.

Belangstellendes kan ’n e-pos stuur aan [email protected] vir meer inligting oor toekomstige genealogiewerkswinkels of besoek www.genealogielessenaar.com vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.