Poolhonde trek slee oor sand

Die poolhonde kan nie wag vir hulle oefensessie om te begin nie. (Foto: Alessandro Iovino / AFP)

Muizenberg buite Kaapstad spog met goue strande, kleurvolle strandhutte en wonderlike branders, maar die gewilde strand is ook die plek waar jy spanne van 30 poolhonde op ʼn slag ʼn slee kan sien trek.

Elke Saterdag word toeriste en drawwers getrakteer op tonele so reg uit die Noordpool waar dié honde die sneeu vir die sand verruil, alles in ʼn poging om voldoende oefening in te kry.

Plaaslike inwoners en vakansiegangers staan gewoonlik verstom wanneer die honde blaffend langs die wit sand af teen 25 km per uur draf.

Sam Gunter (43) het die oefensessies vir poolhonde ingestel. Die blouoog honderas, met sy skerp snoet en dik pels wat jou aan ʼn wolf laat dink, is uiters gewild in Suid-Afrika. Tog kry die honde dikwels nie die regte hoeveelheid oefening wat hulle nodig het nie. ʼn Poolhond moet eintlik twee ure ʼn dag oefen en kan maklik tot 20 km in een so ʼn sessie kafdraf.

Gunter het aanvanklik self twee sleë gebou en eienaars van poolhonde genooi om hul honde elke Saterdag vir oefening na die strand te bring. Nou, 11 jaar later, is daar sowat 100 poolhonde wat gereeld kom sleë trek oor naweke. Sommige eienaars ry tot ʼn uur na die strand vir hierdie oefensessies.

Die poolhonde word met blou harnasse ingespan en sodra al die honde veilig ingespan is, word daar net “go” gegil en die honde doen wat natuurlik vir hulle is. Saam draf hulle in ʼn reguit lyn teen die strand op en af, terwyl daar kort-kort ʼn blaaskans geneem word.

Die poolhonde en hulle eienaars draf teen die strand af. (Foto: Alessandro Iovino / AFP)

“Dit is die perfekte oefening vir poolhonde, wat geteel is om sleë te trek. Hulle is eenvoudig dol daaroor,” sê Gunter, ʼn finansiële makelaar wat self in die Strand woon, ʼn klein dorpie sowat 40 km van Muizenberg af.

“Die honde raak so opgewonde, hulle kan eenvoudig nie wag om aan die gang te kom nie. Dit is vir my ʼn soort terapie en wonderlik om te aanskou na ek self in die week hard gewerk het.”

Regan (17), Sam Gunter se oudste seun, help hom op die poolhonde in te span. (Foto: Alessandro Iovino / AFP)

Op die wyse kry die vierpotige drawwers minstens een keer per week ʼn goeie vyf kilometer se treksessie in, wat tussen 35 tot 45 minute duur.

Die honde hardloop slegs in die aand of wanneer die temperatuur 15 °C of laer is. “Dit is Nordiese honde en ʼn mens moet dus versigtig wees dat hulle nie in die Suid-Afrikaanse klimaat oorverhit nie.”

Afhangende van die dag, kan die poolhondslee nogal ʼn skare toeskouers lok.

Gunter sê hy is die enigste persoon in Afrika wat poolhondsleë aanbied. “Die kyke wat jy van sommige sonbaaiers kry wanneer daar 30 poolhonde verbykom met Kersvaderhoede terwyl hulle ʼn slee trek, is werklik iets om te aanskou.

“Hierdie tyd van die jaar wil mense op die uitkyk wees vir rendiere wat ʼn slee deur die lug trek, maar in ons geval kan hulle eerder hul oë oophou vir poolhonde wat ʼn slee op ʼn strand trek,” sê Gunter skertsend.

Sam Gunter, die man wat die poolhonde se oefensessies begin het, warm op deur frisbee te speel op die strand. (Foto: Alessandro Iovino / AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.