Potch-studente seëvier by debatskompetisie

Van links na regs: Daniël Eloff, Louis Boshoff, Reuben Coetzer, Rian Retief, Jack Coetzer en Nicolene Muller. (Foto: Verskaf)

In ʼn spannende woordestryd het die debatspan van Noordwes-Universiteit (NWU) Saterdag 2 April naelskraap gewen in die finale ronde van AfriForum se Dink of Sink, ʼn onvoorbereide debatskompetisie vir universiteitstudente. Die tema het gehandel daaroor of Britse imperialisme se invloed oorwegend goed of sleg was.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, het agt deelnemende spanne van NWU, die Universiteite van Pretoria en Stellenbosch, Akademia en De Goede Hoop Koshuis vanjaar in Maart weekliks aanlyn teen mekaar meegeding. Die vier beste spanne het Saterdag in Pretoria saamgetrek vir die laaste uitdunne en spannende eindstryd.

“Dit was weer eens ʼn reusevoorreg vir AfriForum om hierdie kompetisie aan te bied en die spanne se entoesiasme en vaardigheid met woorde in Afrikaans te beleef. Ons bedank al die deelnemers en beoordelaars vir hulle betrokkenheid.

“Met hulle kennis van aktuele sake en woordvaardigheid is die spanne ʼn voorbeeld vir almal. Ons hartlike gelukwensinge gaan aan die wenners.”

Bailey sê verder dat die kompetisie vanjaar grotendeels teruggekeer het na die formaat van voor 2020.

Daniël Eloff, hoofbeoordelaar van die kompetisie, sê dit was ʼn wonderlike ervaring om die studente weer persoonlik te verwelkom.

Van links na regs: Nicolene_Muller, Milda van Dyk, Ernst Pieterse, Henri van der Westhuizen, Adriaan van Wyk, en Daniël_Eloff (Foto: Verskaf)

“Dit was vir ons ʼn groot voorreg om weer studente te kon verwelkom om in lewende lywe te debatteer. Diegene wat aan die kompetisie deelgeneem het, is werklik die room van hulle onderskeie kampusse en die spanne wat aan die afgelope naweek se finale ronde deelgeneem het, is die room van die room.

“Dit is bemoedigend om te sien hoe ons land se volgende leiers hier gekweek en bemagtig word om in Afrikaans hulle sê te sê.”

Die NWU se span het bestaan uit Louis Boshoff, Reuben Coetzer, Rian Retief en Jack Coetzer. Die span van Studenteplein 1 van die Universiteit van Stellenbosch (US) het die tweede plek behaal met Henri van der Westhuizen, Ernst Pieterse, Milda van Dyk en Adriaan van Wyk as spanlede.

Henri van der Westhuizen (Studenteplein 1-span, US) is as die beste spreker aangewys. Die prys vir die beste taalgebruik is aan Ernst Pieterse (Studenteplein 1-span, US) toegeken en dié vir die beste navorsing aan Waldo Pienaar (Studenteplein 2-span, US).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

B-Man ·

Dankie Afriforum dat julle volhou met hierdie tradisie. Ek twyfel sterk of die ou “intervarsity”-toernooie nog plaasvind. Dit was ‘n hoogtepunt gewees om te gaan kyk hoe koshuise en universiteite teen mekaar deelneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.