Potchefstroom se helpers bly ’n inspirasie

Dirk Venter en Christo van der Walt is Potchefstroom se ystermanne wat slaggate vinnig vasvat. (Foto: Verskaf.)

Deur Alta Pretorius

In Potchefstroom maak die AfriForum-tak drie dae per week slaggate reg, want hier is baie slaggate. Lewensgevaarlike slaggate.

Hierdie mooi storie het ’n aantal jare gelede begin toe Dirk Venter die slaggate naby sy huis wou herstel. Hy het ou teer bekom en ’n plan uitgewerk om die teer weer te smelt en die slaggate dan te vul. Harde werk. Dit was egter vir hom so bevredigend om ’n verskil te maak, dat hy eenvoudig aangehou het daarmee en op Kwêla beland het. Die land het kennis geneem van Dirk Venter van Potchefstroom wat slaggate herstel en baie het hom gekontak om kers op te steek oor hoe en waar van die herstelwerk.

Iewers langs hierdie pad, sonder slaggate, het Christo van der Walt aan boord gekom. Christo het afgetree en is ’n kranige houtwerker wat hom nou daarmee besig hou om darem nie die pensioen op te eet nie, want dalk word hy 94!

Intussen het die plaaslike AfriForum-tak vir Dirk gekontak en gevra of hy nie die slaggate by die tak sal herstel as hulle die teer en ander benodigdhede verskaf nie. Gelukkig het Dirk die aanbod aanvaar.

Om by die mooi van my storie uit te kom, moet ek verduidelik dat Dirk nog heeltyds werk. Hy het ’n skrootwerf in Potchefstroom. Soos genoem, doen Christo heeltyds houtwerk om voorraad op te bou vir die mark aan die einde van die jaar. Dus het hulle nie bedags tyd om slaggate te herstel nie.

Nou wanneer dan? Drie oggende per week, halfses in die somer en kwart oor ses in die winter, tree hierdie twee manne aan om vir die gemeenskap van Potchefstroom, namens AfriForum, slaggate te herstel. Klokslag op hul pos! Daarna gaan hulle met hul dagtake aan. Terloops, Dirk moes aan die begin van die jaar ’n hartoperasie ondergaan en kon nie wag dat hy weer kan slaggate herstel nie.

So is ek einde verlede jaar na Potchefstroom verplaas, waar ek distrikskoördineerder vir die Mooirivierstreek van AfriForum is. Ek was opgewonde om hierdie manne te ontmoet. Dit is toe inderdaad ook nie ’n teleurstelling nie! Ek staan vroeg op, wat nie vir my natuurlik kom nie, om saam in te val. Ek kry die verantwoordelike pos van stoker en ek stook die vuur om die teer warm te maak. Weens ander verpligtinge in die distrik kan ek nie elke keer by wees nie, maar ek leer baie en geniet elke oomblik.

Toe kom Dirk se hartoperasie en kort op die hakke, die grendelstaat… en vir ’n tyd lank word daar nie slaggate herstel nie. Maar die oomblik toe hulle weer kon begin werk, was hierdie twee manne op hul pos. Dis nou al bietjie koud, dus sukkel ek so bietjie met kooikoors. Maar gelukkig het ek ’n gewete en klok weer saam met hulle in. Lekker! Mens voel nie eers die koue nie. Die atmosfeer maak jou hart warm. Dis regtig vir hulle lekker om te doen wat hulle vir die gemeenskap doen.

Nou vir die mooiste deel van my storie: Vanoggend sukkel ek om hulle te kry, want Christo het vir my van noord beduie en ek is nie goed met noord en suid nie. Toe ek daar aankom, is net Christo se voertuig daar. Dirk se bakkie wat die waentjie sleep met alles op wat ons nodig het, het onklaar geraak. Hy beduie my om net bietjie te wag, hy gaan hom gou help. Ek wag vir die oproep wat sê dat ek maar moet huis toe gaan, dat ons nie vanoggend kan werk nie.

Die oproep kom nie. Wat wel daar aankom, is Christo wat vir Dirk met bakkie en waentjie tou na waar ons moet werk. Op die wa brand my vuur reeds. Ons maak slaggate reg. Gat vir gat maak ons ’n verskil.

Nou wonder ek: as daar in elke dorp wat vol slaggate is, sulke mense na vore wil kom en begin slaggate herstel, watter tamaai verskil gaan ons nie maak nie? As daar in Potchefstroom nog mense na vore kom en hulp aanbied, dan is ons pragtige dorp en binnekort ook ons pragtige land, mos slaggatvry!

Ek sê nie dat hulle die beste of die maklikste metode gebruik nie, maar ek weet, die slaggate wat hulle herstel het, het die bogemiddelde reënseisoen oorleef – die gate is nog toe. Wat ek wel sê, is dat hierdie twee gewone inwoners ’n allemintige verskil maak.

Jy kan ook. Glo my, dis heerlik. En dit skep hoop.

  • Alta Pretorius is AFriForum se streekskoördineerder in die Mooirivier-omgewing.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Michael 1 ·

Betaal belasting en maak self reg ,klink nie vir my baie slim nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.