Prentjiemooi Kersfees in Duitsland

‘n Tradisionele Kersmark in Jena, Duitsland. Foto: Rene Schwietzke/Flickr

Die reuk van glühwein hang in die lug met orkeste en koorgesange in die agtergrond terwyl mense deur die straatjies van die Kersmarkte loop.

Dit is die prentjie wat inwoners en talle besoekers oor Kerstyd in Duitsland begroet.

Kersmarkte dateer terug uit die 14de eeu in Duitsland, maar word vandag in verskeie lande gehou. Elke jaar word baie moeite gedoen met die markte wat in Duitsland asook in ander Europese lande plaasvind, en dit is soms die hoofrede waarom toeriste na dié lande reis.

Sommige van die markte trek tot vier miljoen besoekers oor die maand van Desember en word in die platz of te wel die plein van Europese dorpies en stede gehou.

‘n Kersmark in Konstanz, Duitsland. Foto: LenDog64/Flicr

Die markte bied ʼn verskeidenheid van aktiwiteite vir besoekers. Nadat behoorlik deur al die stalletjies gesnuffel is, kan ʼn mens ʼn draai by die biertent maak of jou op die ysskaatsbaan gaan geniet of ʼn koetsrit deur die dorp neem.

Verskillende markte bied verskillende produkte en aktiwiteite aan besoekers en dikwels is daar spesialiteitsprodukte, insluitend tradisionele kossoorte, wat hier verkoop word.

Selfs in moderne tye word vasgehou aan die verlede en tradisies en word dieselfde produkte steeds vandag verkoop soos dit in die verlede was, onder meer handgemaakte ornamente, Kersboomversierings, figure en speelgoed uit hout, glas, tin en ander materiale. Die disse om van te kies is ook tradisionele kos wat vandag nog gemaak word. Daar is niks so lekker soos tradisionele glühwein en warm okkerneute om die koue af te weer nie.

Daar is iets om die hele gesin besig te hou tydens ʼn besoek aan Duitsland se Kersmarkte en besoekers kan verseker wees om ʼn groot verskeidenheid Kersgeskenke te vind wat so eg as moontlik aan Kerstyd is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.