Presteer is die beste verweer

Lucinda-Kruger-en-Atterbury-Trust

Lindie Strydom van Grootfm 90.5 saam met Lucinda Kruger, Mariana du Toit en Zahn Hulme, bestuurder van die Atterbury Trust. Foto: Atterburytrust.org

Atterbury Trust se beursprogram bring ons in kontak met baie voornemende studente wat dit moeilik het, maar die storie van Lucinda Kruger, vir wie ons danksy Lindie Strydom van Grootfm 90.5 ontmoet het, het ons hartsnare geroer.

Lucinda het geweet haar ouers sou sukkel om haar universiteit toe te stuur en dus  het sy in haar matriekjaar ontsaglik hard gewerk om die beste moontlike uitslae te kry. Maar in haar matriekvakansie in Desember 2013, terwyl sy nog gewag het op haar uitslae, is albei haar ouers tragies in ’n motorfietsongeluk oorlede. Toe die wonderlike nuus van haar agt onderskeidings kom, was dit net sy en haar ouer broer, Gustav, wat dit kon vier.

Anders as haar mede-eerstejaartjies moes Lucinda daardie Januarie sonder die ondersteuning van haar ouers haar studies by Tukkies aanpak. Sy het ingeskryf vir ’n graad in geo-informatika en danksy haar goeie matriekpunte het sy vir die eerste jaar ’n beurs gehad. Sy en haar broer en oupa het ‘n ruk in die familiehuis in Moreletapark aangebly, maar daar was heelwat skuld en uiters beperkte inkomste.  Deur die verloop van verlede jaar het haar broer en oupa uitgetrek en Lucinda is toe deur ’n oudskoolmaat se gesin gehuisves.

Ondanks al die swaarkry het sy positief gebly, hard gewerk en einde verlede jaar haar eerste jaar met 15 vakke en ’n gemiddeld van 77% geslaag. Maar die beurs was op, en dit is toe dat sy deur Grootfm 90.5 van Atterbury se beursprogram te hore gekom het  – en hoe bly is ons dat ons paaie met hierdie merkwaardige 19-jarige gekruis het!

Welkom by die Atterbury-familie! Ons hoor ons moet jou musiekonderwyseres bedank dat ons jou leer ken het?

Ja, dit was my hoërskoolmusiekjuffrou, Mariana du Toit, wat my na Grootfm 90.5 geneem het vir ’n onderhoud. Die Atterbury-beurs was die verrassing aan die einde.  As dit nie hiervoor was nie, sou ek dalk nie my studies kon klaarmaak nie, want die geld was nie daar nie.

 Jou vakrigting klink ingewikkeld. Waaroor handel geo-informatika en hoe het jy daarby uitgekom?

’n Mens leer hoe om met inligting te werk wat te doen het met die aarde. Deur die inligting en die fisiese voorkoms van die aarde te kombineer met inligtingstegnologie, kan ’n mens nie net sien hoe die aarde lyk nie, maar ook hoe hy werk. Ons rigting is toepaslik by byvoorbeeld die programmering van geografiese sagteware, GPS en Google Earth. Ek het in graad 11 ’n geo-informatikataak gedoen in geografie, waar ons die skool en al die paaie en geriewe rondom hom moes karteer. Ek het redelik goed gedoen, want ek het dit so geniet en my juffrou het my aangemoedig om meer daaroor te gaan lees. Vandaar het ek besluit dis wat ek wil doen.

 Is dit ’n mansgedomineerde studierigting, of klink dit net so?

Nee, ons is eintlik meer meisies in my tweedejaarklas; ek dink die wêreld het soveel verander wat mansgedomineerde rigtings betref. Dit is lekker om te weet dat ek as vrou met gemak in hierdie rigting kan instap, veral omdat ek uit ’n meisieshoërskool kom.

Ondanks al die hartseer wat jy beleef het, kry jy dit reg om uitstekende uitslae te kry. Hoe motiveer jy jouself deur die donker tye?

Ek glo regtig dat my geloof my dryf en ek is regtig dankbaar vir my ma-hulle wat hul alles ingestoot het in my skoolloopbaan. Ek weet ook ek is die gawe gegee om hard te werk. Ondanks die moeilikste tyd in my lewe, wil ek steeds graag my beste doen met wat ek nog het.

En hoe lyk jou ondersteuningsnetwerk nou – wie is jou steunpilare?

Ek het so baie mense wat my emosioneel ondersteun, van om net ’n koffie saam te drink tot om ’n bord kos in die aand te kry. Laasjaar was baie deurmekaar; ek het tussendeur ingetrek by mense wat regtig al soos my familie is en dit help my verskriklik baie. Ek het my boetie en sy verloofde, my oupa en familie. Hoërskoolvriende en nuwes wat ek op universiteit ontmoet het, is almal net so dierbaar.

Dit moet baie ure se harde werk verg om so goed te doen. Wat doen jy vir ontspanning?

Ek hou daarvan om musiek te luister of in die natuur te wees, om net bietjie weg te kom van die stad en al daardie dinge. Ek hou ook baie daarvan om met my familie en vriende te kuier, of dit nou ’n vinnige koffie tussen klasse of ’n fliek by die Brooklyn Mall is.

Is daar enige aspek van studentelewe wat anders is as wat jy verwag het?

Ek het regtig nie geweet daar sou so baie groeptake wees nie, veral in groot groepe. Dis baie moeilik om almal bymekaar te kry, terwyl mens in die hoërskool alles op jou eie gedoen het. Jy kon self jou punte bepaal. Maar ’n mens moet ook leer dat jy eendag saam met baie mense gaan werk, en die universiteit is ’n goeie leerskool.

As jy by enige maatskappy ’n vakansie internskap kon gaan deurbring, watter een sou dit wees?

O, definitief Nasa (National Aeronautics and Space Administration) of Sansa (South African Space Agency)!

En as jy absoluut enigiemand kon kies as ’n mentor, wie sou jy graag op “speed dial” wou hê?

Sjoe, dis ’n moeilike een want ek sien almal in my lewe as mentors, al my ma se vriendinne en die ouers van my vriende. Maar dit sou baie spesiaal gewees het as ek my pa hier kon gehad het as my mentor om my te help met struikelblokke. Hy was ’n elektroniese ingenieur wat baie met mense in geografiese inligtingstelsels gewerk het…

En op ‘n ligte noot: Kom ons kyk in ’n kristalbal. As jy groot droom, waarvoor wil jy eendag onthou word? Watter soort navorsing sal gedoen word in die Lucinda Kruger-vleuel van ’n beroemde universiteit van die toekoms?

Dit sal navorsing wees oor die potensiële gebruik van geo-informatika om die effek van natuurlike rampe en epidemies op die mens en die omgewing te beperk of te voorkom. Hulle sal werk aan maniere waarop inligting en waarskuwings oor dreigende en ontwikkelende rampe wyd, vinnig en effektief versprei kan word sodat die menslike tol beperk word.

  • Daar is bietjie minder as ‘n week oor om aansoek te doen vir ‘n Atterbury-beurs. Die aansoeke sluit Dinsdag 30 Junie. As jy ‘n hardwerkende Afrikaanssprekende student ken wat graag verder wil studeer, maar dit nie finansieel kan bybring nie, moenie versuim om aansoek te doen nie. Besoek die Atterbury Trust se webwerf vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.