Pretoria FM se winterprojek bied lafenis vir Wollies-diereskuiling

Pretoria FM se winterprojek het vir vragte vol speelgoed, komberse en kos vir Wollies-diereskuiling gesorg. (Foto: verskaf)

Bakkies, bussies en vragmotors vol komberse, speelgoed, honde- en katkos is Vrydag by die Wollies-diereskuiling in die noorde van Pretoria afgelaai.

Dié reuseskenking was deel van Pretoria FM se winterprojek, ʼn inisiatief wat jaarliks deur die radiostasie aangepak word ten bate van diere in nood.

“Ons besef die winter is op ons voorstoep, en Wollies se nood is ongelooflik groot. Hulle benodig elke dag gemiddeld vier swart vullisdromme se kos net om die 700 honde wat tans daar versorg word, te voer,” sê Carly Esterhuysen, wat aan die stuur staan van die radiostasie se winterprojek.

“Dis ʼn reg-tot-lewe-skuiling, en Cilla Trexler en haar span se harte is op die regte plek. Hulle versorg elke dier wat daar afgelaai word met die grootste deernis. Dit is waarom ons Wollies vir ons winterprojek gekies het.”

Esmarie Yssel, omroeper by Pretoria FM, was deel van die projek en skryf die reuseskenking toe aan die stasie se getroue luisteraars.

“Hierdie projek is tekenend van wie ons luisteraars is. Dis mense wat altyd – ongeag van hoe min of baie hulle het – ʼn ruim hart en oop hand het. Ons sê dankie aan elke luisteraar wat ʼn bydrae gemaak het. Julle maak van die wêreld ʼn mooi plek,” sê Esmarie.

Die klerehandelsmerk Boerboel Wear, bekend vir hulle knap kakiebroeke, het hande gevat met Pretoria FM deur R15 000 vir die projek te skenk.

Hulle het ook ʼn egte leersak ter waarde van R5 000 geskenk om luisteraars aan te moedig om skenkings vir die projek na Pretoria FM se kantoor in Loftus Park in Arcadia te neem.

(Foto: verskaf)

Bostu Boerboele, die grootste boerboeltelers ter wêreld, het ook aan boord gekom. Thys en Chereen von Solms, wat aan’t stuur van dié organisasie is, het ʼn bussie vol Royal Canin-hondekos geskenk.

Die skenking is deur ʼn paar Boerboel-modelle by die diereskuiling afgelaai.

Cilia het gesê dié reuseskenking red die skuiling in ʼn tyd van nood, aangesien daar reeds vir een dag nie kos vir die diere was nie.

“Ek het nie woorde om ons dankbaarheid na behore uit te druk nie. Wollies en ons diere is ʼn roeping, en daarom móét ons hulle goed versorg … Al wat ek uit my hart kan sê, is baie dankie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Seder op die horison ·

Ek het geen probleem met versorging nie, maar ons moet oor die diere heers nie hulle oor ons nie. jammer dat diere belangriker geword het as mense. Hoeveel honger magies kon met R15 000 gevoed word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.