Pretoria se eie ‘baken van hoop’

Die kruis van hoop is onlangs opgerig en is ses verdiepings hoog (Foto: Nichelle Steyn)

Deur Nichelle Steyn

Motoriste op die N1 in Centurion van beide rigtings word deesdae met ’n massiewe baken van hoop begroet. Dié baken is in die vorm van ʼn verligte kruis van 18 meter hoog wat deur weldoeners op Afrimat se gronde opgerig is. Dit pryk op ’n heuwel naby die Bothalaan-afrit.

Die kruis is Vrydag amptelik tydens ’n seremonie onthul. Talle geestelike leiers van verskeie kerke en denominasies het in eenheid om die kruis saamgekom. Warren Brosnihan, voormalige Springbok-rugbyspeler, het die seremonie gelei. “Die doel van die kruis is om aan inwoners wat sonder hoop is, weer nuwe hoop te gee. Dit is ’n simbool van wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het,” het hy gesê.

Raadslid Gert Visser is deur Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane, afgevaardig om die metroraad te verteenwoordig en was die eerste een om ’n sogenaamde Stad van liefde en eenheidverklaring, gebaseer op Psalm 133, saam met die geestelike leiers te onderteken. Die verklaring lui dat Pretoria voortaan bekend sal wees as ’n stad van hoop, broederliefde en eenheid.

“Ons wil bekend wees as die stad waar inwoners empatie met mekaar het, en mekaar bystaan,” het Brosnihan bygevoeg. “Ek sien in my geestesoog motoriste wat moedeloos van die werk af kom, of selfs van ’n laataand kuier, en ek hoop dat die kruis dan vir hulle ’n baken van hoop sal wees.”

Visser het gesê dis ’n voorreg om deel te wees van só ’n gebeurtenis. “Dit is ʼn veldtog wat alle inwoners van die stad met oorgawe kan ondersteun.”

Carolle Watson, ’n plaaslike gebedsleier, het die mense in gebed gelei. “Ons is oorwinnaars oor ons omstandighede in God,” het sy verklaar. Sy glo dat wat vandag in Pretoria gebeur het, as ’n voorbeeld vir die res van die land dien.

Louis Loubser, besturende direkteur van Afrimat, het gesê hulle het eers twee vlae opgerig wat nou langs die kruis wapper. Die een vlag is Afrimat sʼn en die ander is die landsvlag. “’n Vlag herinner ons aan die verlede, maar is ook ’n simbool van waarheen ons op pad is.” Hy het dadelik ingestem toe Daryl Hardy, ’n gemeenskapsweldoener, met die voorstel van die kruis kom. “Ek kon nie aan ’n beter manier dink om weer hoop in ons gemeenskap terug te ploeg nie en dit is vir ons ’n groot voorreg om deel te kon wees van die projek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Ekke ·

Sien die kruis al seker vir n maand lank. Kan hom duidelik vanaf John Vorster drive sien.
Bly daar is nou n duidelike verduideliking oor dit

Adéle ·

Dankie Jesus – U is ons enigste hoop! Hierdie is ñ wonderlike inisiatief vir Pretoria! Sien uit om die kruis te sien!

Johan Neuteman ·

Gaan dit oor vrede en liefde tussen mense vir ons gerief, of om God te eer en ‘n stadsgemeenskap te wees wat weer luister na God se gebooie? En gaan dit bly by die oprig van ‘n kruis, of gaan ons opnuut mekaar oproep om God te eer? Wat in die berig gesê word, klink of dit gaan oor aardse hoop en mense se versugting na rustige lewe. Wat van die eer van God? “Stad van liefde” vir mense onderling, of die brandende liefde om die ware God alleen te dien?

Jaap ·

Liefde van watter are ook al ken nie sleg wees nie. Dis die teenoorgestelde van haat. Dis n goeie begin.

Afrikaanse Knaap ·

Mr Msimanga is ‘n goeie leier. Ek het baie respek vir hom.
Ek het die baken gisteraand gesien. Was baie mooi. Dankie Pretoria.

Wim ·

Laat die kruis ons lei na die Een wat daar gesterf het in ons plek. Ons wat die hel verdien, wat in sonde gebore en ontvang is en God se regmatige oordeel verdien in die hel, kan kyk na Jesus, wat daar die regmatige wraak van God die Vader in ons plek op Homself geneem het! Die straf wat ons verdien het Hy gedra aan die kruis. Dis die beste nuus ooit! Laat die kruis ons lei tot ware verootmoediging en bekering. Vir God die Vader gaan dit alles oor sy Seun, en die kruis is waar ons na die Lam van God moet kyk wat vir ons geslag is en ons vir God met Sy bloed gekoop het. Geen goeie werk kan die mens red nie, slegs deur die Here Jesus te soek, en die plek waar ons Hom vind, is daar by die Kruis. Bestudeer die ware evangelie, tot dit lei tot wedergeboorte, nuwe lewe in Christus, Dit is die enigste oorvloedige lewe. Hy is die Enigste hoop!

Alice ·

Dankie Wim vir die pragtige bewoording van waaroor dit eintlik gaan. God se onverdiende liefde

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.