Pretoria-skole ding mee vir goeie doel

Argieffoto

Pretoria FM het onlangs sy “OMGEEwing”-skoleprojek van stapel gestuur en vanjaar is die fokus op eenmalige gebruik van plastiek en die belangrikheid van herwinning.

Pretoria FM het verlede jaar dié projek saam met Owl Rescue Center, ’n geregistreerde nie-winsgewende rehabilitasiefasiliteit wat fokus op die welsyn van alle uilspesies in Suider Afrika, aangepak. Owl Rescue Centre het besluit dat al die sentrum se natuurbewaringsprodukte, insluitend uilhuise, vlermuishuise en byekorwe van herwinde plastiek in plaas van hout vervaardig sal word.

Die bekendstelling van die tweede Pretoria FM OMGEEwing skoleprojek het op 15 Maart plaasgevind.

Tydens die geleentheid het verteenwoordigers van die sewe skole wat vanjaar aan die kompetisie deelneem (Hoërskool Die Wilgers, Hoërskool Oos-Moot, Hoërskool Gerrit Marritz, Hoërskool Montana, Hoërskool Tuine, Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Pretoria Noord) meer inligting oor die kompetisie ontvang.

Die gewilde dokumentêr “A Plastic Ocean” is aan die leerders vertoon sodat hulle die belangrikheid van omgewingsbewaring kan besef en dit met hul medeleerders kan deel.

Die sewe skole sal mekaar die stryd aansê om te kyk wie die meeste herwinbare plastiek in ses weke kan insamel. Die omgewingsvennoot The Waste Group kom haal weekliks die plastiek by die skole en dan vergoed hulle die skole met kontant. Die skole skenk dan die kontant aan ’n liefdadigheidsorganisasie na aan hul hart. Dus word daar geld ingesamel vir sewe verskillende liefdadigheidsorganisasies.

Die wen-skool word getrakteer met ’n konsert by die skool deur Willem Botha, en ontvang ook ’n advertensie-veldtog op Pretoria FM.

Foto: Verskaf.

“Die doel is nie net om plastiek in te samel nie, maar om ook bewusmaking op sosiale media te skep oor die nadelige effek wat die eenmalige gebruik van plastiek op die omgewing het,” het Pretoria FM in ʼn verklaring gesê.

Dít word gedoen wanneer skole die hutsmerke #PretoriaFMSkoleProjek en #MakingADifference met #Jouskoolsenaam gebruik wanneer hulle plasings maak oor die kompetisie.

“Plastiekafval raak al die wêreld se oseane en baie min pogings word tans in Suid-Afrika aangewend om hierdie probleem te takel. Daar word beweer dat ongeveer 8,8 miljoen ton plastiekafval jaarliks in die oseane gestort word en dat daar dus wesenlike skade aan die marienelewe veroorsaak word.”

Maroela Media het vroeër berig Suid-Afrika produseer 54,8 ton gemors per dag, die 15de hoogste ter wêreld, maar net 10% daarvan word herwin. Boonop is net 17% van alle materiaal wat in Suid-Afrika herwin word, plastiek.

“Pretoria FM is radiostasie wat omgee vir die nalatenskap van ons kinders. Daarom beywer ons om nie net deur die insameling van plastiek ’n daadwerklik verskil in die omgewing te maak nie, maar ook om deur opvoeding die volwassenes van die toekoms toe te rus met die nodige kennis om die regte besluit rakende ons omgewing te neem,” lui die verklaring van Pretoria FM.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

J ·

Ek samel ook in, maar ekt besluit na al die rassistiese dinge wat na my as witman toegesnou word, dat ek net vir my nasie sorg en liefdadigheid en als gee.

willem Botha ·

Dit is n baie goeie inisiatief om afrikaanse skole op te hef,gebruik die geld om julle sport velde en geboue in stand te hou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.