Pretoria-vroue vertel oor ongewone halfeeu lange tradisie

Die drie generasies van koeke word saam in ‘n vertoonkas uitgestal (Foto: Maorela Media)

Volgens jare lange tradisie neem vroue hul mans se vanne aan en seuns kry familiename met geboorte.

Sommige mense breek weg van tradisie, maar ná honderde jare is dit steeds die norm om dié tradisies te volg. Martha Grobler het wel besef dat sy die vroue in haar familie as nét so belangrik ag, en het daarom ʼn nuwe tradisie vir vroue begin.

Met die geboorte van elke dogtertjie in die familie word ʼn pragtige Barbie-koek gebak. Lang golwende hare hang oor haar skouers en ʼn wye fondantromp laat dit amper lyk asof die pop sweef. Tog is elke koek uniek – nes die vroue wat dit verteenwoordig. Dié koeke word nie gesny nie, maar vorm deel van ʼn uitstalling – die oudste koek nou al amper ʼn halfdekade oud.

Daline Nell (48), Martha se dogter, was die eerste wat só ʼn koek gekry het. Sy laat die tradisie voortleef.

Daline (voor), Nadine (links agter), Euvaldi (regs agter) en Gabriella (Foto: Maroela Media)

“Ek het twee dogters en my dogter het ook vanjaar ʼn meisiekind gekry,” het sy gesê. Daar is vir hulle elkeen ’n koek gebak.” Vir Daline (Nell) ʼn ligpienke, vir Nadine (27), haar oudste dogter, ʼn gele, vir Euveldi (22), haar jongste dogter, ʼn oranje koek en vir Gabriella (sewe maande), Nadine se baba, ʼn pienke.

“Elke familie het mos maar sy tradisies, maar ons is so geneig om net op die mans te fokus. Hoekom kan ʼn mens nie iets vir die vroue doen nie? Ongelukkig het die mans in ons familie ook nie baie lank gelewe nie. My oupa en my pa is vroeg oorlede, en my dogters se pa is ook dood toe hulle nog jonk was, so ons is maar net ʼn klomp vroue in die familie. Nou maak ons ons eie tradisies!” het Nell gesê.

“Die koeke is altyd ʼn vrugtekoek, want dit kan baie lank hou. As jy dit reg maak, hou hulle vir altyd,” het Nell gesê.

Nell se ma het háár koek in 1970 laat bak by Anglo Swiss, ʼn bakkery in Brakpan, en Nell het toe in 1991 ook haar dogter se koek daar laat bak. Vir klein Gabriella se koek in 2018 moes hulle wel iewers anders regkom omdat dié bakkery sy deure gesluit het. Die Barbie-romp op Gabriella se koek het sewe dae lank geneem om die fondant die golwende effek te gee.

“Die koeke staan almal in ʼn vertoonkas wat ek by my oorlede ouma gekry het. Ek is ʼn baie sentimentele mens, so al my ou sentimentele goedjies staan in daardie kas. En die koeke trek saam met die kas waar hy ook al gaan,” het Nell gesê.

Gabriella se koek is die nuutste van almal en lyk nog pragtig (Foto: Maorela Media)

Nadine, Nell se oudste dogter, het gesê dit was altyd haar grootste wens as klein dogtertjie om ʼn happie van een van die koeke te kan kry. “As kind het ek dikwels gedink wat ek sou doen om die koeke in die hande te kry. Ek en Euveldi wou so graag in daardie kas kom. Dit is so mooi en ons wou net daaraan vat. Ons wou ook die Barbie-poppe uithaal om mee te speel, maar gelukkig het my ma die kas gesluit! Dis al hoe sy ons daar kon uithou,” het sy gesê.

Terwyl die kleur van die fondant al verdof het en die versiersuikername op die koekbord al afgekerf is, lyk dit amper soos “vals koeke”, maar wanneer jy dit in jou hande neem, sal jy dadelik twee keer dink.

“Wanneer ons vriende die koeke sien, dink hulle dikwels dit is ʼn bietjie vreemd,” het Euveldi, Nell se jongste dogter, gesê. “Die meeste mense dink dit is polistireenkoeke, hulle glo ons nie dat dit regte vrugtekoeke is nie. Maar dan laat ek hulle net een optel, want dié koeke is regtig swaar.”

Dié familie maak die koeke vir elke dogter se doop waarna dit dan in die vertoonkas geplaas en eers weer met die dogter se eerste verjaardag uitgehaal word, saam met die vorige koeke. ʼn Kersie word dan daarin geplaas om die eerste verjaardag te vier.

Die koeke word nooit gesny nie, maar ʼn aparte koek word gebak wat by die geleentheid geëet word.

Daline se doopkoek was ligpienk (Foto: Maorela Media)

Nadine het gesê sy is dankbaar vir die tradisie en hoop Gabriella sal ook daaraan wil voortbou as sy dalk eendag ʼn dogtertjie kry.

“Dis ʼn baie mooi tradisie, dit is iets waarop ons kan terugkyk. As ek die koek sien wat vir my gebak is, laat dit my aan my ouma Martha dink. En ek hoop as Gabriella eendag ouer is en alles kan verstaan, sal sy ook na die koek wat vir haar gebak is, kyk en aan my ma dink, en weet haar ouma het dit spesiaal vir haar laat maak.”

Nell het gesê hoewel dit ʼn tradisie is wat ontstaan het weens die hartseer oor die mans in die familie se dood, is dit nou vir hulle lekker om die vroue in die familie te vier.

“Vroue het nou maar as meerderheid in ons familie oorleef. Maar ʼn mens het soveel hartseer in die lewe. Jy moet van die hartseer iets goeds maak, en van dit wat lelik is, moet jy iets moois maak. Die koeke is vir ons mooi, dis fyn en vroulik. Ek dink my pa en my kinders se pa sou baie van dié nuwe tradisie gehou het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elsie. ·

Dis PRAGTIG !!! Waar kan ek die petroon kry? Dis soos daai wat my moeder die tolet roll in gesit het maar dit was gebrei.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.