Prinshofskool presteer goed

Mongezi Mbata en Rohan Crafford. Foto: Brenda Masilela/ANA

Rohan Crafford en Mongezi Mbata se siggestremdheid het nie in die pad van akademiese prestasie gestaan nie. Albei is by die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, se ministeriële ontbyt vir toppresteerders vereer.

Rohan het met vier onderskeidings geslaag, in Afrikaans, Engels, wiskunde en lewensoriëntering, en gaan BA Taal en Kultuur by die Universiteit van Pretoria studeer. ʼn Onlangse skenking van die Lions-klub in Pretoria-Suid het Rohan se studiedrome ʼn hupstoot gegee, omdat hy nou sagteware kan aanskaf wat die inhoud van ʼn rekenaar vir hom teruglees, asook ʼn toestel wat teks in braille omskakel en ook braille na gewone teks verwerk. Hy sien baie uit na universiteit en gryp die nuwe uitdaging met albei hande aan.

Mongezi het onderskeidings in Afrikaans, lewensoriëntering en rekenaartoepassingstegnologie (CAT) verwerf. Hy word ook binnekort ʼn Tukkie en beoog om Informatika te studeer.

Prinshofskool se hoof, Karen Swart, vertel Rohan het ʼn fyn sin vir humor en sien altyd die positiewe in ʼn situasie raak.

“Hy strewe nog altyd daarna om sukses op alle gebiede te behaal en is baie lief daarvoor om oor enige onderwerp te debatteer en filosofeer. Ons wens hom sterkte toe met sy verdere studie in tale en glo dat hy ʼn verskil in mense se lewe sal maak.”

Van Mongezi sê sy dat hy altyd doelgerig op sy skoolwerk gefokus het. “Hy glo in homself en strewe daarna om ʼn verskil te maak in die wêreld. Hy is behulpsaam en beskik oor baie sterk leierseienskappe. Ons is baie trots op sy prestasie en glo dat hy nog ongelooflike sukses gaan behaal, ongeag wat hy studeer.”

Prinshofskool in Pretoria bied gehalte-onderrig aan 435 blinde en swaksiende leerders vanaf graad R tot graad 12. In 2018 het 17 leerders die Nasionale Senior Sertifikaateksamen afgelê.

Leermateriaal word, na gelang van die individuele leerders se behoeftes, in grootdruk of braille verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Annie ·

Fantasties! Ek as nie- gestremde het nie ‘n idee watter uitdagings hierdie twee seuns( manne) te doen mee gehad het en nog sal hê nie. My grootste respek en bewondering vir julle! ( en ook ander wat nie die media haal nie)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.