Proefleser nou wynmaker by Nederburg

Zinaschke Steyn, Nederburg se nuwe rooiwynmaker. (Foto: Verskaf)

Met die eerste oogopslag blyk dit ʼn onwaarskynlike sprong te wees vir ʼn proefleser, oorspronklik van Klerksdorp in die noorde van die land, om te begin wynmaak.

Zinaschke Steyn, wat pas as Nederburg se nuwe rooiwynmaker aangestel is, se sprong van proeflees na wynmaak is egter nie so vergesog as wat dit dalk klink nie.

Dié 33-jarige wynmaker het haar beroepsloopbaan as proefleser by ʼn drukkery op Worcester begin nadat sy in 2005 matriek behaal het. Sy het toe al beplan om ʼn BSc-graad in chemiese ingenieurswese aan die Universiteit van Stellenbosch te voltooi met die doel om later brandewyn te maak. Maar toe gryp die lewe in, soos dit maar soms gebeur.

“Ná byna twee jaar in die Kaap het ek agtergekom dat wynmaak my persoonlikheid beter pas,” verduidelik Steyn. “Ek hou daarvan om my hande vuil te kry en van die begin af fisiek by die proses betrokke te wees. Dit is ook die afwagting en nuwe uitdagings, nuwe grense en nuwe antwoorde wat elke jaar na vore kom – daardie toestand van veranderlikheid – wat my opgewonde maak.”

Nadat sy in 2010 haar BAgric-graad in wynmaak en wingerdbou by Elsenburg buite Stellenbosch verwerf het, het Steyn wyn gemaak by Overhex-privaatkelder, die KWV en GlenWood Vineyards.

In 2018 het Nederburg vir haar die pos as assistent-rooiwynmaker aangebied. Sy was baie in haar noppies en het die aanbod dadelik aanvaar.

“Dit het beteken dat ek vir ʼn internasionaal bekende wynmakery sou werk wat in markte op alle vastelande verteenwoordig is,” sê Steyn. Sy volg Samuel Viljoen op wat nou in beheer staan van die hele Nederburg-kelder.

“Ek is opgewonde oor die nuwe uitdagings, maar besef ook ek het groot skoene om vol te staan. Met Samuel se ondersteuning, wat my twee jaar lank onder sy vlerke geneem het, voel ek slaggereed. Ek is ook dankbaar vir my span by die kelder en sien daarna uit om nou met hulle saam te werk. Hulle almal is ʼn onmisbare deel van my wynmaakreis op Nederburg.”

Wat maak haar nuuskierig, honger vir nuwe ontdekkings en die kans om voortdurend op haar beste pogings te verbeter?

“Nederburg bied ʼn wonderlike omgewing om klassieke wyne te verfyn, om byvoorbeeld ons kultivarheld, cabernet sauvignon, verder uit te bou, maar ook om te eksperimenteer met ander, minder bekende kultivars, nuwe denke en praktyke, en om te sien hoe nuwe tegnologie dit wat ons doen, kan verbeter. Hoe gelukkig is ek om voortdurend te kan besin, hersien en ontwikkel. Dit hou my op my tone en stel my in staat om te groei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.