‘Projek Jessica’ baken van hoop vir gemeenskap se kinders

Die klein Jessica se verhaal het ‘n simbool van hoop vir die gemeenskap van Kleinfontein en Afrikaner kindertjies geword. Haar identiteit moet volgens die wet beskerm word. Foto: Verskaf.

ʼn Tengerige, vierjarige blondekopdogtertjie wat om 06:30 op ʼn reënerige oggend in April saam met haar ouma in die straat af stap, se hartseer verhaal is deur die gemeenskap van Kleinfontein in ʼn storie van hoop omskep.

Volgens Dannie de Beer, direksielid van die kultuurgemeenskap net buite Bronkhorstspruit, oos van Pretoria, het dié klein Jessica die simbool geword van ʼn opheffingsprojek wat vinnig besig is om wyer uit te kring as haar en haar gesin se behoeftes.

“Lede van die organisasie Vriende van Kleinfontein het dié oggend in April Jessica en haar ouma langs die pad sien loop en hulle twee ʼn saamrygeleentheid aangebied,” vertel De Beer. “Jessica was geklee in ʼn swartsak om haar te beskut teen die reën.”

Die barmhartige Samaritane kon vasstel dat Jessica saam met haar ouma in ʼn sinkhuis in Dagbreek woon, ʼn ouer gedeelte van Kleinfontein. “Die ouma verdien nie genoeg geld om skoolfonds vir ʼn kleuterskool te bekostig nie.”

Die Vriende van Kleinfontein het besluit hulle wil die ouma en haar kleindogter help en het hulle daarom tot sosiale media gewend. Hulle het besef as die dogtertjie nie die geleentheid kry om aan vroeë kinderontwikkeling blootgestel te word nie, sy dalk nooit die kans sal kry om ʼn wrede kringloop van armoede te ontsnap nie.

Een inskrywing op Facebook met Jessica se verhaal het mense se harte behoorlik aangegryp.

“Die inskrywing is ʼn paar duisend keer op sosiale media gedeel. Só het ons gou genoeg geld gehad om Jessica skool toe te stuur en om sommer nog twee ander behoeftige kinders se skoolgeld by die plaaslike CVO-skool óók te borg,” sê De Beer.

Van die bouers wat ingespring het om ‘n nuwe huis vir Jessica en haar ouma te bou. Hulle het selfs in die reën gewerk om dié projek binne drie weke te voltooi. Foto: Verskaf.

Hy meen Jessica het sedertdien ʼn simbool van hoop in die gemeenskap geword.

“Ons het nog ʼn borg ontvang wat haar skoolfonds vir ʼn jaar vooruit vereffen het. Sy het ook ʼn skooltassie van Solidariteit Helpende Hand ontvang. Jessica was aanvanklik maar skaam en teruggetrokke by die skool, maar later het haar persoonlikheid behoorlik begin blom. Sy het selfs ʼn paar sertifikate ontvang om haar prestasies aan die einde van die jaar te vier.”

Die gemeenskap het daarna besluit om in te spring en ʼn splinternuwe twee-slaapkamerwoning vir Jessica en haar ouma te bou.

Die span van 15 bouers het die hele projek in minder as 15 werksdae voltooi en Jessica en haar ouma het in Desember in hulle nuwe huis ingetrek. Die twee het ook skenkings van klere, ʼn bed en selfs ʼn paar teddiebere ontvang.

“Dit was so lekker om aan hierdie omgee-projek te werk want hier is beslis nie net aalmoese uitgedeel nie. Dit het ʼn domino-effek gehad waar ʼn hele gemeenskap saamgewerk het om ʼn ekonomiese volhoubare projek te begin wat ook wys hoe Afrikaners en die Kleinfonteiners vir mekaar omgee.”

De Beer sê die projek word in 2020 voortgesit. “Ons het reeds 31 kinders geïdentifiseer wat met skoolfonds sukkel. Tot dusver het ons ook reeds donasies van sover as Dubai ontvang wat 15 van hierdie kinders se skoolgeld sal help betaal.

Jessica en haar ouma by hulle nuwe huis wat hulle Desember ontvang het. Foto: Verskaf.

“Hierdie kindertjies is versaak en uitgelewer. Ons sal moet besef dat ons na ons eie mense en kinders moet omsien, anders gaan ons ʼn verlore generasie hê.

“Die projek is vir my net weer eens ʼn bewys van boeregasvryheid en omgee,” het De Beer bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Anna Mostert ·

Ek help baie graag blankes. Want hulle kan nie op die regering staatmaak vir enigiets nie. Dankie aan almal wat hier gehelp het.

Marlene ·

So baie dankie aan elke liewe persoon wat gehelp het, ek bid dat daar deure sal oopgaan vir almal wat swaar trek en dat elkeen wat kan help, sal uitreik. Liefde en seënwense aan alle goedhartige mense.

Sarel ·

Baie Dankie vir julle onbaatsugtige diens. Dra hierdie boodskap van Hoop en Vertroue uit asn soveel mense as moontlik.

Alma ·

Dis fantasties! So bly vir die klein dogterjie en vir elke kindjie wat deur hierdie projek gehelp word.

My mening ·

Wonderlik! Baie sterkte met die projek. Mag dit baie geseënd wees en nog baie soos Jessica en haar ouma help.

Engela ·

Wonderlik, baie dankie dat daar nog so baie mense is wat omgee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.