Pta-kinderhuis vat hande met sakegemeenskap

Pieter Koen tydens die President Kruger-kinderhuis se “Hart van jou besigheid”-geldinsamelingsgeleentheid. (Foto: President Kruger-kinderhuis/Facebook)

“As gemeenskap moet ons mekaar ondersteun. Met slegs staatsondersteuning, sal ons glad nie die diens kan lewer wat ons doen nie.”

Só sê Kobus Vorster, hoof van die President Kruger-kinderhuis in Pretoria, oor die noodsaaklikheid van gemeenskapsbetrokkenheid by kinderhuise se aktiwiteite.

President Kruger-kinderhuis het Donderdagaand ’n klein, maar suksesvolle, “Hart van jou besigheid”-geldinsamelingsgeleentheid by Monte de Dios in die ooste van Pretoria gehou om plaaslike sakelui aan te moedig om geldelik by dié kinderhuis betrokke te word.

“Die groot doel was om sakeondernemings te nooi om in te koop by die versorging van ’n kind, deur ’n kind vir ’n jaar lank te borg.”

“Die staat se bydrae dek slegs 30% van dit wat ons nodig het; alternatiewe versorging vir kinders is maar duur. Ons het gemeenskapsondersteuning nodig.”

Vorster kan nog nie met sekerheid sê hoeveel deur die loop van die aand ingesamel is nie, maar hy beskou die geleentheid as uiters suksesvol.

Alhoewel die kinderhuis se grootste fokus tans op maandelikse versorging van hul inwoners geskoei is, benadruk Vorster dat dit ideaal sal wees as elke kind jaarliks geborg word. Die hoeveelheid kinders wat deur die kinderhuis versorg word, wissel jaarliks van 63 tot 69.

Een van die items wat tydens die veiling beskikbaar was. (Foto: President Kruger-kinderhuis/Facebook)

President Kruger-kinderhuis het ook ’n tehuis vir skoolverlaters geopen om te verseker dat inwoners ’n behoorlike toekomshupstoot ontvang.

“Ons beoog om kinders te versorg op dieselfde wyse as wat hulle voor gesorg sou word in ’n verantwoordelike huishouding,” het Vorster gesê.

“Van die kinders kom uit traumatiese huisomgewings uit; ons wil net die beste vir hulle hê, op ’n skolastiese én terapeutiese vlak.”

Vorster lê klem daarop dat dit vir hulle nie net oor die fisiese welstand van die kinderhuis se inwoners gaan nie.

Sowat 150 mense het die kinderhuis se onlangse geldinsamelingsgeleentheid bygewoon. Dié individue is per uitnodiging na die geleentheid genooi, juis om klem daarop te lê dat plaaslike sakeondernemings betrokke raak by die kinderhuisaktiwiteite.

Die gaste is deur Riaan Benadé vermaak en Pieter Koen het as seremoniemeester opgetree.

Tydens die veiling wat deur die loop van die aand geskied het, is daar ook kunswerke van ’n 16-jarige inwoner van die kinderhuis vir duisende rande opgeveil.

Die kinderhuis gaan die geld, wat met die kunswerk ingevorder is, in ’n studiefonds omskep vir die jong entoesiastiese kunstenaar.

Vorster nooi sakeondernemings uit om na die President Kruger-kinderhuis uit te reik om ’n kind te borg.

“Ons wil graag meer bied as net die oppas van kinders. Ons wil in alle aspekte na hulle omsien.”

Klereskenkings kan direk by die President Kruger-kinderhuis afgelaai word by 31ste Laan 728, Villieria, Pretoria. Enige ander hulp vir die kinderhuis kan met Alex Botha bespreek word by 012 332 1367.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.