Pta-ma se dankie-boodskap bereik weldoener

'n Skermskoot van die ma se boodskap op Facebook.

‘n Skermskoot van die ma se boodskap op Facebook.

ʼn Boodskap op sosiale media van ʼn ma van Pretoria aan ʼn vreemdeling wat ʼn hospitaalrekening namens die desperate gesin vereffen het, het binne ʼn week die weldoener bereik.

Maroela Media het vroeër berig die ma moes met haar kleuterdogter hospitaal toe jaag nadat sy by die skool van ʼn klimraam af geval het en steke moes kry. Afgesien van die skok van die nuus dat hul kind seergekry het, was die ouerpaar ook skielik in ʼn finansiële penarie gedompel en moes hulle selfs geld leen vir brandstof om tot by die hospitaal te ry.

ʼn Vreemdeling, wat in die wagkamer met die ma ʼn geselsie aangeknoop het, was uiteindelik die uitkoms in hul tyd van nood en het, terwyl hulle in die dokter se spreekkamer was, hul rekening ten volle vereffen.

Die ma het Maandag aan Maroela Media vertel ʼn vriendin het haar boodskap op sosiale media raakgesien en dit vir haar ma aangestuur wat as verpleegkundige by die ongevalle-afdeling van die betrokke hospitaal werk. Sy het die weldoener gebel en van die ma se sosiale media-inskrywing vertel. Hoewel die ma steeds nie weet wie die weldoener is wat hulle gehelp het nie, sê sy sy is dankbaar om te weet haar boodskap het by die vreemdeling uitgekom en sy weet hoe dankbaar die gesin is.

“Intussen haal ons nou weer makliker asem,” het die ma gesê “Twee mense het ons gekontak na Maroela se berig en het elk vir ons ʼn geldjie bygedra. Ons het belowe om die geldjies eksklusief vir ons drie kinders aan te wend en het die naweek die kinders se winter-klerekaste bietjie aangevul. Ons kon ook die nodige Voortrekkerklere koop vir ons oudste wat hierdie naweek op haar eerste Vorie-kamp gegaan het. En jogurt! Sommer 18 van daardie klein houertjies. Die kinders het meer as die helfte reeds verslind. Wat ʼn lekker bederf!”

Sy vertel sy was aanvanklik baie ongemaklik om hulp van ander te aanvaar, maar sy het ook besef die Here sorg op hierdie besonderse manier vir sy kinders. “Ek het ʼn groot les geleer uit ons ervarings die afgelope week. Daar is waarde in weerloosheid, want om weerloos te wees, beteken nie dat jy waardeloos is nie,” het sy gesê.

“Dit beteken nie jy sit bakhand nie. Nee, jy doen jou deel en leef verantwoordelik. Maar almal kom in situasies waar hulle in die knyp is, of dit nou werk, finansies of verhoudings is. Dalk moet mens soms weerloos wees. Wanneer ons weerloos is, voor mense en veral voor God, maak Hy Sy genadehand vir ons oop en wys deur Sy vrygewige liefde vir ons hoeveel waarde Hy aan ons heg.

“Ek dink dit is omdat die wêreld vir ons hierdie standaard voorhou van ‘alles moet perfek wees’ dat ons so bang is vir weerloosheid. Ons werk so hard om hierdie front voor te hou om oukei te wees, maar agter die skerms spook en spartel ons almal en mis ons uit op soveel ondersteuning.

“Ons almal voel al meer waardeloos, want ons kyk in ander se fronte vas en wonder wat ons verkeerd doen, want ons lewe is ʼn gemors! As ons almal in die weerloosheidsbootjie klim en met mekaar begin gesels, sal ons besef ons waarde lê nie in die front wat ons voorhou nie, maar in ons menswees agter die skerms. In die groei ná die storms. In die ondersteuning wat ons graag vir mekaar wil gee.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

jo-anli ·

ASB EK BLY ANONIE. Ek het n dierbare sielsvolle wonderlike eerlike liefdevolle man en ook twee liefdevolle wonderlike goed manierde kinders. Ek weet nie wat is moedersdag nie. Ouma word bederf ek staan reg. Ek gee nie om ek het God aan my kant.

juliana vorster ·

In ons familie is daar nie n spesefikie moeders – of vadersdag nie, want ons voel dat ons elke dag die dae moet vier, selfs Valentines dag, elke dag is ‘n dag van liefde en omgee. Slegs verjaarsdae wat ‘n persoonlike spesiale dag tel en dan met die regte entensie word Kersfees as Jesus se geboorte dag herdenk. Sonder al die swier en tierlantyntjies. Dit is immers ‘n Christus fees.

blommetjie ·

So n mooi artikel vol waarheid en opregtheid! As jy iemand kan bless doen dit sonder om terug te kyk mens weet nooit wat dit vir iemand beteken nie!

Mooi storie ·

Aaan al die mense wat so op die regte tyd die regte ding gee – julle is fantasties en dit maak die mooiste storie. Dit maak die week sommer vol voorspoed en hoop! Aan hierdie Ma wat so waardeer en dankbaar is, dankie dat jy dit met ons deel en mag dit net beter en beter gaan elke dag!

Hannelie ·

Twee mammas om trots op te wees – dankie se mamma- trots op jou omdat jy die omgee mamma so hartlik bedank vir haar onbaatsugtige optrede en -omgee mamma-trots op jou vir jou omgee hart waarmee die Here jou geseen het, ek sou persoonlik graag beide van julle wou ontmoet – om dankie te kon se aan beide van julle vir die voorbeeld wat gestel is :)

Piet Snot ·

Aan die taalgebruik kan jy sien dis fyn mense dié. Geld of te not.
Kyk vorentoe.
En terloops, die Voortrekkers gaan julle kind net goed doen.

boet van heerden ·

Glo my daardie weldoener het dit uit hulle harte gedoen en is meer genoeg as die ouers en die dogterjie wie gehelp is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.