Pta-man op eetstaking vir honger diere

Herman H le Roux (Foto: Facebook)

Herman H le Roux van Montana in Pretoria-Noord het verlede Maandag met ʼn eetstaking begin ten bate van honger diere.

Hy poog om geld in te samel vir diere wat nie kos het nie en het tot dusver, op sy 10de dag, al meer as R30 000 ingesamel.

“Ek het met die projek, The H Project, begin toe my hond, Seun, baie siek geword en uiteindelik doodgegaan het,” het Le Roux (45) aan Maroela Media gesê. “Ek was vir jare verslaaf aan dwelms en alkohol, maar is sedert 7 Desember 2015 skoon. Ek ly ook aan bipolêre gemoedsversteuring en het gaandeweg agtergekom dat diere baie help met die hantering van gemoedsversteurings.”

Le Roux het al voorheen ʼn geldinsameling vir diere gedoen toe Seun 15 jaar oud geword het. Hy wou R1 000 vir elke jaar van Seun se lewe insamel, en het toe die geld aan diereorganisasies geskenk.

“Seun was vir 15 jaar deel van my lewe. Dit was vir my ʼn manier waarop ek vir hom dankie wou sê vir wat hy vir my beteken het,” het hy gesê.

Die eetstaking is wel ʼn bietjie anders as die vorige projek. Hy het beloof om tot 24 Desember geen kos te eet nie, om in solidariteit te wees met diere wat honger ly. Hy vra ook mense om geld te skenk om kos vir honger diere te koop.

“Dit is eintlik nie so erg soos wat ek gedink het dit gaan wees nie. Ek is baie, baie honger, maar as ek dink aan waarvoor ek dit doen, dan vat dit eintlik die honger ʼn bietjie weg. Verder voel ek goed en ek het energie,” vertel hy.

“Ek drink net water, en niks anders nie. Dit is eintlik ook ʼn spirituele ervaring vir my. Ek reinig myself ná al die jare van dwelm-en-alkoholverslawing.”

Wanneer die eetstaking klaar is, sal Le Roux en The H Project “tonne en tonne kos koop en dit by diereorganisasies in Pretoria, Johannesburg en KwaZulu-Natal aflaai”.

“Gelukkig is al my vriende baie ondersteunend. Hulle is ook diereregte-aktiviste, so hulle verstaan waaroor dit gaan. My ma gaan ook die laaste tien dae van die eetstaking by my kom bly om seker te maak alles is reg en dat ek nie flou raak of iets nie.”

Le Roux sal wanneer hy op 24 Desember met die staking klaarmaak stadig maar seker weer begin eet. Hy sê hy het toestemming by sy dokter gekry om die eetstaking te doen en word gemonitor.

“Ek stel nie voor dat enigiemand dit doen nie, praat eers met jou dokter. Ek doen dit absoluut in my eie hoedanigheid,” het hy gesê.

Besoek The H Project se Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Besemryer ·

Herman jy is ‘n absolute wonder! Bitter min mense gee vandag nog werklik om vir diere. Mag jy sterk bly. Jy is ons almal se hero!!!!!

Miems Heyman ·

Ek is baie trots op jou. Ek wil in jou span wees.
” Together we are the voice for the voiceless”

Janine ·

Staan sterk Herman! Almal wat jou ken is so ontsettend trots op jou! Liefde en ‘n vet druk vir Mitch! :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.