Pta-skole maak harte oop met skenkings van blikkies, baadjies

Matrikulante aan Hoërskool Waterkloof werkskaf reeds van vroeg om die skenkings van blikkies en baadjies reg te kry. (Foto: Verskaf.)

Die matrikulante van Hoërskool Waterkloof het Donderdag vir oulaas bymekaar gekom voor die rekordeksamen vir hul jaarlikse kaalvoetsonsopkoms waar hulle blikkies en baadjies vir GROOTfm se winterprojek geskenk het.

“Dit was sommer skielik weer ʼn grys en koue oggend – jy voel dit sommer so aan jou lyf en vir matrieks is dit ʼn gedoente om met kaal voete skool toe te kom, maar hulle het die geleentheid aangegryp om tasbare hoop in ʼn vreemde jaar te skep,” het Lindie Strydom, projekkoördineerder by GROOTfm, gesê.

Lindie Strydom saam met die matrikulante van Hoërskool Waterkloof. (Foto: Verskaf.)

Dié hoërskool se leerders neem al vyf jaar aan die plaaslike gemeenskapradiostasie se projek deel. Hulle samel jaarliks ʼn krieketbladkolf se klere en kos vir die projek in, wat die skool vanjaar saam met GROOTfm aan Solidariteit Helpende Hand geskenk het.

“Ek dink dit was vir die kinders ʼn kans om na die Covid-19-pandemie weer hoop te sien, te weet daar is lig en hul harte oop te maak om hartlikheid en liefde aan ons gemeenskap te wys,” het Chris Denysschen,  hoof van die Hoërskool Waterkloof, gesê.

Met die pandemie se inperkingsmaatreëls is die geleentheid na Augustus uitgestel waar dit gewoonlik die afskop van GROOTfm se winterprojek om en by Hemelvaart was.

“Hulle wou hierdie geleentheid steeds so graag hou. Dit is net nog ʼn manier om te wys ons gaan nie dat Covid-19 ons onderkry nie; daar is hoop en ons dien ʼn almagtige God, wat ons nie in die steek sal laat nie,” het Denysschen bygevoeg.

Woensdagoggend se geleentheid is aangebied deur die nuwe leerderraad van 2021 en hulle het saam met die matrieks van 06:00 gewerkskaf om die skenkings van baadjies en blikkies bymekaar te maak. Die res van die leerders kon ʼn regstreekse stroming van die geleentheid kyk en Refentse het as ʼn verrassing vir die skool kom sing.

(Foto: Hoërskool Waterkloof/Facebook.)

Strydom het met die skool gesels oor sin en betekenis. “Ek dink hierdie is ʼn vreemde jaar waar die dae inmekaar kan blur. Kinders wonder dalk wat het geword van rugby of die kultuuraktiwiteite wat eens sin aan jou lewe gegee het, maar dit wat jy deel met ander mense is die eintlik dinge wat betekenis aan jou lewe gee. Boonop is dit iets wat ʼn mens kan aanhou doen, selfs in ʼn pandemie met sy inperkings.”

Laerskool Louis Leipoldt het blikkies en baadjies, asook “bersies” vir troeteldiere in te samel. (Foto: Laerskool Louis Leipoldt/Facebook.)

Laerskool Tygerpoort en Laerskool Louis Leipoldt is nog twee laerskole van die Jakarandastad wat ook planne beraam het om te midde van die pandemie ruim skenkings aan GROOTfm se winterprojek te maak.

Tygerpoort het hul skoolgemeenskap in Mei gevra om skenkings van baadjies deur die dag aan die skool se heining te kom ophang. So kon sosiale afstand gehandhaaf word terwyl daar steeds donasies vir die projek bymekaargemaak is.

Louis Leipoldt se gemeenskap het op hul beurt vroeër in Augustus besluit om blikkies en baadjies, asook “bersies” vir troeteldiere in te samel. “Buiten die gebruiklike skenking van blikkies en baadjies, het die Leipies nog R50 000 se skenkings van kos en komberse vir troeteldiere in die tyd ingesamel,” het Strydom gesê.

Hier is video van Laerskool Tygerpoort se projek:

#GoeieNuusVrydag – #BlikkiesenBaadjies Winterprojek 2019Joekie Ahlers is ‘n Graad 3 Juffrou van Laerskool Tygerpoort wat met haar klas gesels het oor die nood van maats nés hulle wat dalk nie eers een wintersbaadjie het nie. Die Graad 3’s het begin baadjies bymekaar maak, maar sommer gou-gou het die res van die skool ook ingespring om te help. Joekie en haar span het Woensdagmiddag ‘n wasgoeddraad gespan en so by hulleself gehoop dat daar genoeg baadjies sal inkom om hom mee vol te kan hang. Groot was hulle verbasing (en ons dankbaarheid!) toe daardie draad teen Donderdagoggend, as deel van hulle Hemelvaartviering, sommer met 4 tot 5 lae se baadjies behang is! Die Graad 7’s het blikkies kos ook ingesamel, want soos hulle vir Juffrou Joekie verduidelik: “Dis scary om te dink daar is honger mense wat hier langs ons leef.” Die ontwikkeling van ons kinders se omgee-harte is seker die mooiste bydrae wat ons kan maak, want so stuur ons verskilmakers die wêreld in! ‘n #GROOTfm905 dankie namens elke begunstigde van PEN en Helpende Hand – Deel van die Solidariteit Bewegingwat gaan baat hierby – wat gaan warm wees met ‘n vol magie en sal kans sien om nog ‘n wintersdag deur te maak oppad na sy/haar roeping en droom wat die Here vir hom of haar ingedagte het.

Posted by GROOTfm 90.5 on Thursday, May 30, 2019

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.