Pta-skole wys hulle gee om vir gemeenskap

Laerskool Bakenkop het aan GROOTfm se Skool met die GROOTste G(ee)-projek deelgeneem. (Foto: Psalm en Cedar/Jislaaik-JA Photography)

Op 6 Mei het GROOTfm 90.5 se winterprojek vir hoër- en laerskole van Pretoria afgeskop en oor die laaste paar maande het altesaam 13 skole meegeding om te kyk wie die meeste goedere vir liefdadigheid kan insamel.

Met ʼn totaal van 57 806 goedere het Laerskool Monumentpark as wenners uit die stryd getree. Die skool wen ʼn kontantprys van R10 000 en Kairos en Generaal Nicholaas Smit, die organisasie waarvoor hulle goedere ingesamel het, ontvang R20 000.

Sonet Stofberg, projekkoördineerder, sê hoewel dit nie ʼn kompetisie was nie, maar eerder ʼn geleentheid vir skole om ʼn verskil in die gemeenskap te maak, is die prysgeld daargestel as ʼn simbool van dankbaarheid.

“Dit gaan nie oor die wen nie, maar die oorwinning. Dit is uiteindelik wanneer ons gee, wat ons die meeste ontvang.

“Baie van ons dink ons moet ʼn hospitaal bou om ʼn verskil te kan maak, maar die verskil maak begin die oomblik wanneer iemand hul hand opsteek, na ʼn kos- of klerekas toe stap en ʼn item uitkies wat vir iemand anders die wêreld kan beteken. Daardie item word ʼn bewysstuk van die Here se guns en goedheid,” sê Stofberg verder.

Die 13 skole wat aan GROOTfm se Skool met die GROOTste G(ee)-projek deelgeneem het, het altesaam sowat 157 923 goedere vir sowat 22 welwillendheidsorganisasies ingesamel.

Die projek behels die “soektog” na die ware essensie van gees. Die “s” staan vir sagmoedigheid, spanwerk, saamstaan en natuurlik, vrug van die Gees, wat wellewendheid en goedhartigheid beklemtoon.

Hiermee is skole aangemoedig om ʼn wyer, groter verskil in die gemeenskap van Gauteng te maak. Skole het die “gee”-leentheid gehad om ʼn welwillendheidsorganisasies van hulle keuse te kies, en volgens daardie organisasie se spesifieke behoeftes goedere in te samel. Dit kon enigiets van blikkieskos, tot sopbottels en klere wees.

Die skole het hierdie goedere in die vorm van ʼn hoofletter “g” uitgepak, wat toe in lengte en breedte gemeet is, en daarna is elke item afsonderlik getel. Die getal leerders in die skool is ook in ag geneem, sodat kleiner skole nie benadeel word nie. Met behulp van hierdie formule is elke skool se totale bydrae bereken, en daarvolgens is die wenner van die Skool met die GROOTste G-projek aangewys.

HTS John Vorster het aan GROOTfm se Skool met die GROOTste G(ee)-projek deelgeneem. (Foto: Psalm en Cedar/Jislaaik-JA Photography)

Ander hoërskole wat ook hieraan deelgeneem het, sluit in Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, Duo Edu Senior Onafhanklike Skool, Hoërskool Eldoraigne, HTS John Vorster, Montana, Overkruin en Waterkloof.

Die laerskole wat deelgeneem het, is Laerskool Bakenkop, Curro Hazeldean, Elarduspark, Lynnwood en Menlopark.

Die Gidshond-vereeniging van Suid-Afrika, Gift of the Givers, Harmonie Park-tehuis vir bejaardes, Helpende Hand, Huis Jabes, Jakaranda Kinderhuis, Wespoort-Uitreikprojek, Wetnose‑diereskuiling, Wollies‑diereskuiling, Clothes to Good en deelnemende skole se eie onderskeie liefdadigheidsbene vir behoeftige leerders, is van die organisasies wat by hierdie projek baat.

Stofberg het haar dank uitgespreek teenoor elke skool, personeellid, beheerliggaamlid en leerder wat hieraan deelgeneem het.

“Ons dankbaar vir elkeen wat gesorg het dat iemand wat voel hulle word nie raakgesien nie, raakgesien word. Dat iemand wat niks het nie, bevestiging gekry het dat die Here hulle nog nooit verlaat het nie. Dankie aan almal wat hande en harte gevat het om ʼn ‘gee’meenskap te vestig wat ʼn volgende ‘gee’meenskap sal mobiliseer om dieselfde te doen.”

Indien jou skool belangstel om in 2023 aan GROOTfm se Skool met die GROOTste G(ee)-projek deel te neem, stuur ʼn epos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.