Pta-tiener (15) het visier op internasionale skoonheidskroon

Marike Nel (Foto: Verskaf)

ʼn 15-jarige Pretoriase skoonheidskoningin se grootste droom om Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig gaan binnekort bewaarheid word wanneer sy na Amerika reis om aan die Royal International Miss 2018 deel te neem.

Marike Nel, ʼn leerder aan die Hoërskool Eldoraigne in Centurion, gaan op 7 Julie na Orlando in die Amerikaanse deelstaat Florida reis om saam met deelnemers van verskeie lande in dié kompetisie mee te ding.

Nel is gekies as een van die Suid-Afrikaanse verteenwoordigers nadat sy in Oktober verlede jaar tydens die Mini Miss RSA-kompetisie as Teen Miss RSA aangewys is.

Hieroor is sy ernstig: Beide dié kompetisies gaan nie bloot oor skoonheid nie. “Dit is vir my baie belangrik dat die kompetisies nie nét oor skoonheid gaan nie,” verduidelik sy. “ʼn Paneel beoordelaars fokus baie op onderhoude met die deelnemers, daar is ʼn talentgedeelte in die kompetisie en die loopplankgedeelte tel ook baie punte. Dis belangrik dat daar ʼn groter doel agter dié kompetisies is.”

Marike Nel (Foto: Verskaf)

Dié doel is onder meer haar betrokkenheid by die liefdadigheidsorganisasie Kairos – ʼn organisasie wat hom beywer om minderbevoorregte mense by te staan. “Ek hou van die platform wat dié kompetisies skep omdat mens baie betrokke kan raak by organisasies of kwessies wat vir jou belangrik is. Ek persoonlik wil in die toekoms meer betrokke raak by Kairos en meer bewusmaking oor die organisasie bewerkstellig. Ek is baie passievol oor diere en sal daarom ook meer betrokke wou raak by die Dierebeskermingsvereniging (DBV) en oor die algemeen ook ʼn verskil in ander se lewens maak.”

Nel meen haar voorbereiding vir die Royal International Miss 2018-kompetisie is ʼn kritiese komponent om uiteindelik goed te vaar. Sy het ook ʼn mentor wat haar onder meer voorberei vir die voorstelling en onderhoude, asook die kompetisie en die onvoorbereide vrae. “Die onderhoude is my eerste kans om uit te staan, daarom bestee ons baie aandag daaraan om reg voor te berei. Buiten vir dit word sommige van my uitrustings nog voltooi en ek oefen ook vir die loopplankgedeelte van die kompetisie. Ek is baie opgewonde.”

Ongeag of sy met dié kroon huis toe kom of nie, is haar visier steeds op die Mej. SA-kroon. “As ek die kroon wen, sal ek my heel beste doen om die kwessies waaroor ek passievol is te bevorder. Later wil ek dan ook aan die Mej. SA-kompetisie deelneem en dan aan Mej. Heelal. Ek het baie respek vir Demi-Leigh Nel-Peters [Mej. Heelal] en sal graag eendag in haar voetspore wil volg.”

Die Royal International Miss 2018 vind plaas tussen 7 en 20 Julie vanjaar.

Marike Nel (Foto: Verskaf)

Marike Nel (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Oud kleuterskool onnie ·

Marike,jy maak juffrou baie trots!!! Vandat jy al klein was het jy al n groot indruk op my gemaak. Mag al jou drome waar word en baie sterkte!! Jy is pragtig!!! Xxx

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.