Pta’ners gevra om toiletware vir behoeftiges te skenk

(Grafika: Atterbury Trust/Facebook)

Kom haal ʼn handgemaakte shweshwe-sakkie af en maak dit vol met noodsaaklike toiletware. So help jy om die lewe makliker te maak vir mense wat nie nou hierdie soort luukses kan bekostig nie.

Dit is die boodskap van die Atterbury Trust wat verlede week hulle omgee-projek vir Mandelamaand afgeskop het. Die trust het hande gevat met die Afrikaanse Toekomstrust (ATT), die Atterbury-eiendomsgroep, GROOTfm 90.5, die Atterbury-teater en WeBuyCars om soveel as moontlik toiletware vir behoeftige persone die maand in te samel.

Begunstigdes wat van die sakkies sal ontvang, is gesinne wat afhanklik is van kospakkies wat by skole uitgedeel word en werklose kelners in die Pretoria-omgewing.

Ananja Koen van die Atterbury Trust het vroeër op Die Groot Ontbyt-program gesê dat Eljada-huis in Pretoria-Wes se naaldwerkprogram die shweshwe-sakkies sal maak wat met toiletware gevul sal word.

“Mense kan so ʼn sakke afhaal en dit vul, of skenkings van enige van die toiletware op die lys kan in houtbokse by sekere punte in Pretoria afgelaai word.

“Indien iemand nie tyd het om ʼn aflewering te doen nie, kan jy ook ʼn kontantbydrae vir hierdie projek maak by die Atterbury Trust se aanlyn winkel. Die voorgestelde donasie van R200 sal help dat iemand wat dit werklik nodig het toiletware in hierdie maand van gee en omgee sal ontvang,” sê sy.

Die ATT sê dit is vir hulle ʼn voorreg om deel van die Atterbury Trust se Mandelamaandprojekte te wees.

“Mense sal bevraagteken hoekom ons as ʼn weldaadsorganisasie by ʼn ander organisasie se projek betrokke wil raak. Dit is egter net weereens ʼn demonstrasie dat dit nie saak maak hóé jy gee nie, maar dat jy gee. Alle liefdadigheidsorganisasies het dieselfde doelwit: om ʼn verskil te maak,” sê Dinah Bronkhorst, uitvoerende hoof van ATT.

Die projek benodig die volgende:

  • Seep
  • Sjampoe
  • Reukweerder
  • Tandeborsels
  • Room
  • Sanitêre doekies
  • Maskers
  • Handsaniteerders

Alle donasies moet die Atterbury Trust teen Saterdag 28 Julie bereik. Die skenkings kan vanaf Maandag tot Vrydag tussen 08:00 en 16:00 by die volgende punte afgelewer word:

  • GROOTfm 90.5,
  • Atterbury Teater,
  • Atterbury Property (Die Klubhuis),
  • Woolworths in The Club Retail in Hazelwood,
  • WeBuyCars Silver Lakes en Midstream,
  • Centurion-teater
  • ATT se kantore by die Voortrekkermonument.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Martie Smartie ·

Ongelukkig assossieer ek my nie met Mandela of sy party wat SA afgebreek het en steeds besig is daarmee nie. Dus projekte wat hulle daarmee assossieer, hoe edel ookal, kan ek nie ondersteun nie. Ek ondersteun net projekte wat nie hulle naam koppel aan ‘n anargistiese rassistiese onderdrukkende party nie.

MakersMark ·

Daar is reeds genoeg affirmative shopping wat plaasvind meeste het reeds baie meer as ‘n toiletsakkie geneem…….teen die wet. So geen skenkings van my af aan our people nie.

Jessey ·

Ongelukkig moet ek myself ook skaar by die mense wat niks in die naam van Mandela en sy afbrekende party wat net volg met vernietiging van ‘n eens pragtige land waar mense werklik omgegee het en ‘n pad vorentoe wou bou. Kan net eenvoudig nie. Ek sal ook nie ag slaan op Mandela Dag nie. Dit is net vernietigend al die pad en siels dodend om te aanskou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.