Publiek kan Zulu nou ontmoet

Deur Megan Gittins

Zulu het in minder as twee weke reeds merkwaardig goed herstel. (Foto: Verskaf)

Zulu, die perd wat ʼn gewisse dood wonderbaarlik vrygespring het en talle Suid-Afrikaners se harte gesteel het, herstel só goed dat die publiek hom einde vandeesmaand in sy stal te siene kan kry.

Veronica van Greunen, ʼn inspekteur by die Wetnose-dierereddingskuiling waar Zulu tans aangehou word, vertel aan Maroela Media dat hulle op 27 Julie die skuiling se 20ste verjaardag vier. “Mense wat die storie [oor Zulu] gevolg het, kan dan sommer net kom ‘hallo’ sê,” sê sy.

Dis egter nie al wat Wetnose vir dié spesiale dag beplan nie. “Ons dink daaraan om ʼn tipe memorabilia aan mense te gee om Zulu mee te onthou,” sê Van Greunen. Boonop gaan daar talle hondeskoue, kosstalletjies, uitstallings en musiek as deel van die feesviering wees.

Zulu is nuuskierig van aard en volg die personeel by Wetnose gereeld om te loer wat hulle by hulle het. (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig dat Zulu einde Junie langs ʼn grondpad oos van Pretoria aangetref is nadat ʼn getuie gesien het hoe sy eienaars hom van ʼn sleepwa aftrek, langs die pad laat en wegjaag, met ʼn tweede perd steeds aan die sleepwa vasgemaak.

Sowat tien dae ná die voorval gaan dit aansienlik beter met Zulu en is hy goed op pad na volkome herstel, sê Van Greunen. Zulu se geswelde pote en die koliek wat hy aan die begin van die maand opgedoen het, het heelwat verbeter. “Hy is nou op ʼn streng dieet en die veearts behandel hom twee keer per dag om seker te maak sy wonde is skoon,” sê sy.

Zulu is ook baie gelukkig en verskriklik nuuskierig. “As jy hom nou roep dan reageer hy dadelik. Sy ore is orent en hy kyk, luister en loop agter jou aan. Hy wil gedurig weet wat jy by jou het,” lag Van Greunen.

Zulu sal wel vir aanneming beskikbaar gestel word, maar eers sodra hy volkome herstel het. “Ons moet eers sy gesondheid regkry. Sy hoewe kort nog werk en hy is nog nie heeltemal gesond nie,” sê Van Greunen.

Gegewe Zulu se onstuimige verlede is die aannemingsproses egter uiters streng. Van Greunen verduidelik dat voorgenome eienaars eers Wetnose toe moet gaan en met Zulu moet werk. “Ons gaan ook hulle perseel besoek en seker maak alles is voldoende. Ons moet seker maak hulle het die finansiële vermoë om na hom om te sien en dat hulle hom die nodige liefde, tyd en aandag sal gee.

Zulu het almal by Wetnose se harte gesteel. (Foto: Verskaf)

“Ons wil nie hê hy moet weer mishandel word nie. Hy verdien ʼn kans op geluk. [Sy volgende tuiste] moet vir ewig wees,” sê Van Greunen.

Hoewel Zulu se vooruitsigte belowend lyk, is die eienaars wat hom op só ʼn afgryslike manier mishandel het en die tweede perd op die sleepwa nog nie opgespoor nie. ʼn Lid van die publiek het intussen ʼn beloning van R25 000 uitgeloof vir inligting wat kan lei tot die vervolging van hierdie mense.

Besoek Wetnose se Facebook-blad vir meer besonderhede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Tina du Toit ·

Dis baie goeie nuus en so bly hulle kon Zulu red. Mag hy heeltemal herstel en die beste aanneem ouers kry. En mag sy vorige eienaars opgespoor en hard gestraf word. Al die beste vir jou Zulu.

Chantel ·

Gaan beslis plan maak om jou te kom ontmoet Zulu. So dankbaar dit gaan beter met jou.

Tornado ·

Dis wat ek jou noem. Jy gaan nog net so sterk word soos Zorro se perd.
Daai naam wat hulle hom gegee het voel nie reg nie.
Ek hoop hulle spoor die ander perd ook op.

Zettie ·

So bly om te hoor dit gaan soveel beter met Zulu. Baie dankie aan al die partye wat betrokke is met sy helende proses. Julle is ysters!

Kobus ·

Bravo Zulu en jou versorgers. Die skuldiges- bring hulle vind aan boom met rooimiernes en ver sy anatomie met heuning. Al straf wat sal werk.

Ronel ·

Ek gaan verseker ook daar wees die 27ste! Mag daar tog iemand na vore kom wat weet aan wie Zulu behoort het, en dat die ander perd ook opgespoor word!! Dankie aan almal wat hulle harte en beursies vir Zulu oopgemaaak het

Lizelda ·

Wetnose julle doen fantastiese werk baie dankie. Ek was al n paar keer daar en die diere is regtig gelukkig en goed versorgd en lyk baie rustig. Mag julle van krag tot krag gaan. En Zulu…jys in d beste hande.xxxx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.