Puk vra haar die ja-woord

Foto: Facebook/Paula Ackermann

Gert Kemp (24) Paula Ackermann (23) Foto: Facebook/Paula Ackermann

Die NWU se Potchefstroom-kampus is ʼn mooi plek – veral wanneer jy verlief is. Dit is hier, reg voor die Hoofgebou, waar Gert Kemp (24) Paula Ackermann (23) om die jawoord gevra het.

Dié twee verliefdes begin ʼn nuwe fase van hul lewe op die plek waar hulle mekaar leer ken het en Gert sê hy het sommer dadelik geweet hy gaan met Paula trou.

Die paartjie het mekaar op die joolplaas ontmoet en Gert sê toe hy vir Paula sien, het hy dadelik na haar toe gestap (met behulp van ʼn sopie sterk doepa om die moed aan te wakker) en vir haar gesê hy gaan met haar trou.

“Sy het gesê ek moet loop, maar kyk nou net, nou gaan ons trou!” Gert verduidelik hy het Paula se nommer opgespoor en vir twee weke vlerkgesleep voordat sy ingestem het vir hul eerste ontmoeting by die Jonge Akker, ʼn restaurant op die kampus.

Paula is tans besig met haar LLB-graad en het reeds ʼn BA-graad in regte verwerf. Gert sê dis juis om dié rede dat hy haar voor die Hoofgebou die jawoord gevra het. Dié gebou dien as die regsfakulteit – ʼn plek wat Paula baie goed ken.

“Ek het vir haar skripsieleier gevra om ʼn ontmoeting met haar te reël om haar na die Hoofgebou te lok. ʼn Paar van my pelle het reg gestaan met die baniere wat sê: “Trou met my”. Sy het dié eers nie gesien nie!”

Gert sê hy het ʼn hele toespraak voorberei, maar toe die oomblik kom, was als verlore.

“Ek het vir haar gesê ons ken mekaar al lank, en toe vra ek of sy bereid sal wees om my van as haar eie te vat. Sy het ‘ja’ gesê, en toe was daar ʼn gejuig!”

Dit is Paula en Gert se laaste jaar op die Puk en die tweetjies sal hulself in Namibië vestig – dit is daar waar hul sprokiestroue ook sal plaasvind.

“Ons trou volgende jaar op 29 April!” sê Gert opgewonde.

Die Puk het ook op sy Facebook-blad die goeie nuus gedeel:

Gert Kemp en Paula Ackermann het gister verloof geraak hier by die NWU-Puk! Die twee trotse NWU-Pukke het destyds mekaar op die JOOL-komitee ontmoet en die res is geskiedenis! Gert het gistermiddag 17:00 die “Ja-woord” by Paula ontvang, voor ons eie Hoofgebou! Baie geluk julle twee! Ons wens julle net voorspoed! #‎MyNWU #‎ProudNWU

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

johann cb ·

Wow, fantasies, romanties, mooi, oulik, tog te pragtig, ens! Welgedaan en baie geluk julle twee, mag julle leeftyd saam ‘n fees wees!

JC ·

Awesome!
Dis oulik om sulke goed nog te sien in ons vervelige en droewige wereld.
Amper soos ‘n sprokie hehe!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.