Pure liefde uit ’n diereskuiling

(Foto: Helena Lopes/Pexels)

Daar is niks wat die gevoel kan klop van Wagter wat snags by jou voete lê of Kieterkat wat op jou skoot opgekrul lê terwyl jy jou gunsteling-TV-program of -boeke geniet nie.

Die inperkingstyd het talle uitdagings meegebring, maar een positiewe aspek was dat ons meer tyd saam met ons troeteldiere tuis kon geniet. Ons troeteldiere was eintlik nog altyd daar om saam met ons te kuier en te speel en bied soms ʼn skouer om op te huil, maar in dié tyd het ons huisdiere ons deur die emosionele tyd gedra.

Suid-Afrika vier vandag (30 April) Nasionale neem-ʼn-skuilingtroeteldier-aan-dag en vanjaar is hierdie dag selfs nog belangriker as ooit te vore.

Volgens Marycke Ackhurst, ʼn dieregedragskenner by Hill’s Pet Nutrition, het talle diereskuilings weens die inperkingstyd gesluit. Daarmee saam is die skuilings wat staande gebly het, toegestroom met troeteldiere wat ʼn andere heenkome weens finansiële verknorsings van hulle eienaars moes vind. Talle diereskuiling steier nog weens ʼn verlies aan inkomste en die bykomende las van al meer troeteldiere wat versorging nodig het.

“Selfs al wil mense help, moet jy weet die besluit om ʼn troeteldier aan te neem, is nooit een wat ligtelik geneem kan word nie. As jy onlangs groot verandering in jou lewe gemaak het, of nie beplan om lank op een plek te bly nie, is dit dalk nie nou die regte tyd om ʼn dier aan te neem nie,” het Ackhurst bygevoeg.

Buiten aanneming is daar ook ander maniere waarop ʼn mens ʼn verskil kan maak tydens dié dag. “Besoek jou plaaslike diereskuiling en bied jou dienste as vrywilliger aan of maak ʼn finansiële skenking.”

(Foto: Dex Ezekiel/Unsplash)

Ackhurst het die volgende wenke gegee om ʼn sukses van troeteldier se aanneming te maak:

  • Dit is ʼn groot verantwoordelikheid; so oordink jou besluit baie goed. Dit is maklik om vir die eerste, oulikste of hartseerste hond of kat wat jy sien, ʼn huis te wil gee. Jou eerste keuse is egter miskien nie die beste nie. Onthou, jy onderneem om die res van jou troeteldier se lewe vir hom te sorg. Dit is nie net ’n lang verbintenis van tyd en geld nie, maar dit behels ook die hantering van emosionele of gedragsprobleme wat jou troeteldier kan hê.
  • Alhoewel jy, of jou kinders, dalk net te gretig is om ’n nuwe snoesige metgesel aan te neem, is die keuse van die regte troeteldier ’n proses wat tyd, navorsing en deeglike beplanning verg. Dit is egter ’n goeie idee om oopkop te bly tydens die aanneming van ’n huisdier. Alhoewel jy ’n spesifieke ouderdom, ras of “voorkoms” in gedagte het, kan jy ’n beter pasmaat vind op grond van temperament, aktiwiteitsvlak en die fiksheid van jou gesin.
  • Ken jou beperkings: Dit is belangrik om baie vrae te stel oor die troeteldier en enige spesiale behoeftes. Die meeste skuilings sal hul bes doen om seker te maak dat jy bewus is van die bykomende behoeftes van hierdie troeteldier om te bepaal of die dier goed by jou sal aanpas. Terwyl skuilings wil hê dat die troeteldier aangeneem moet word, is dit belangrik om ’n liefdevolle huis vir ewig te verseker. Moet dus nie ontmoedig word as hulle voel dat jy meer geskik sal wees vir ’n ander troeteldier nie.
  • Daar is niks meer verwelkomend as ’n veilige, warm bed wanneer jy jou nuwe troeteldier huis toe bring nie. Onthou dat ’n nuwe omgewing vir enige troeteldier stresvol is. Dit is belangrik om hulle baie tyd te gee om hulle te vestig en om hul vorige lewe te verwerk, wat baie verskil van die lewe wat jy nou aan hulle bied. Gee jou nuwe vierpotige huismaat die nodige spasie en tyd om jou en die huis te leer ken voordat jy hulle aan die uitgebreide familie voorstel. Dit is ’n goeie idee om vooraf die reëls vas te stel, soos na watter kamers jou troeteldier toegang sal hê, waar hy of sy sal slaap en of jou troeteldier op die meubels toegelaat sal word.
  • Bespreek ook die beste voedselopsies vir jou troeteldier wanneer jy hom of haar na die veearts neem vir sy eerste ondersoek. Dit is belangrik om jou troeteldier nie heeltemal met ’n nuwe kos te begin nie, want dit kan sy maag omkrap. Meng die kos wat jou troeteldier by die skuiling ontvang het met die nuwe soort. Verhoog die nuwe kos se hoeveelheid geleidelik terwyl die ou kos oor ’n tydperk van minstens sewe dae verminder word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.