R15 000 vir Kersgeskenke – dán waai sy baard

Westley Kirsten (Foto: Verskaf)

ʼn Gautengse man gaan Sondag sy yslike baard van 32 cm – wat hy reeds drie jaar lank kweek – laat skeer nadat talle mense sy veldtog om geld vir minderbevoorregte kinders in te samel, ondersteun het.

Westley Kirsten, stigter en eienaar van die Belgian Beard-maatskappy, vertel dié veldtog is begin as ʼn inisiatief van hom en sy vriende, Hennie, Graham en Shawn – die eienaars van die Gas Monkey-restaurant in Vanderbijlpark.

Kirsten se maatskappy het saam met dié restaurant die veldtog Vrydag van stapel gestuur met die doel om R15 000 teen Sondag in te samel om geld vir minderbevoorregte kinders te bekom.

“Kersfees is wéér om die draai – en dié jaar is daar weer hope kinderhuise waar kinders nie die liefde kry wat hulle verdien nie. Ons wil net iets doen om die dag vir hulle beter te maak deur vir hulle geskenke te koop,” vertel hy.

Meer as R15 000 is al teen Saterdagoggend ingesamel. Die twee maatskappye beoog nou om “soveel moontlik” geld in te samel.

Al die geld word aan die Catherine Robson-kinderhuis in Vereeniging geskenk.

“Ek het ʼn passie vir kinders, diere en baarde – maar dié naweek laat ek my baard skeer sodat ʼn groep kinders dié Kersfees ook kan glimlag.”

Kirsten se baard word Sondag om 14:00 by die Gas Monkey-restaurant in Vanderbijlpark afgeskeer.

Vir meer inligting oor die veldtog of besonderhede vir skenkings, besoek Belgian Beard of Gas Monkey se Facebook-blaaie. Besoek ook Belgian Beard se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.