R250 000 se kuns aan renosterprojek geskenk

Een van Jacques Müller se kunswerke. (Foto: Verskaf)

Een van Jacques Müller se kunswerke. (Foto: Verskaf)

Die Voortrekkers se bewusmakingsveldtog teen renosterstroping, getiteld “Renoster red is vet pret”, het onlangs nóg ʼn gesonde finansiële hupstoot gekry nadat ʼn Pretoriase kunstenaar van sy skilderye en bronsbeelde ter waarde van R250 000 vir dié projek geskenk het.

Die verhaal van die renosterkalfie, Arthur, wat langs sy gestroopte ma se karkas gevind is, het die skilder en beeldhouer Jacques Müller só aangegryp dat hy ʼn skenking van vyf olieverfskilderye van 1,2 m x 1 m, ter waarde van R30 000 elk, asook vier versamelaarsbronsbeelde, met bronsafbeeldings van renosters op klip en marmer, ter waarde van R12 500 elk, geskenk het.

Müller giet ook vyf unieke bronsbeelde van Arthur, Die Voortrekkers se renoster-penkop, ter waarde van R10 000 elk.

“Ek besoek jaarliks die Krugerwildtuin en het besef as ons die unieke natuur wil bewaar, het elkeen van ons ʼn verantwoordelikheid om betrokke te raak,” het Müller luidens ʼn mediaverklaring gesê.

“Ons kan nie langer net toeskouers bly nie, maar moet betrokke raak om renosters van uitwissing te red. Ons moet meer doen as om te sê hoe bekommerd almal oor die renosterslagting is.”

Volgens dr. Danie Langner, hoofleier van Die Voortrekkers, het dié organisasie reeds in 2017 by die bewusmaking van renosterstropery en die bewaring van dié deel van die natuurerfenis betrokke geraak.

Jacques Müller (links) en Carinda Habig (regs), ’n Voortrekkeroffisier van die Rietvallei-Voortrekkers, wat die bewusmakingsprojek, 'Renoster red is vet pret, in werking gestel het, met een van die kunswerke. (Foto: Verskaf)

Jacques Müller (links) en Carinda Habig (regs), ’n Voortrekkeroffisier van die Rietvallei-Voortrekkers, wat die bewusmakingsprojek, ‘Renoster red is vet pret, van stapel gestuur het, met een van die kunswerke. (Foto: Verskaf)

“Laerskool- en hoërskool-Voortrekkerspanne het met sente en rande in renosterspaarbussies ʼn bedrag van R100 000 vir die versorging van renosterwesies by Care for Wild ingesamel,” het Langner gesê.

“Tydens dié geleentheid is Arthur simbolies as ʼn Voortrekker ingelyf as deel van ons bewusmakingsprogram.”

Arthur is een van die renosterwesies in die sorg van die Care for Wild-organisasie nadat hy in Mei verlede jaar self onder die kapmesse van stropers deurgeloop het toe sy ma vir haar horings gestroop is.

Care for Wild is die grootste renosterweeshuis en -toevlugsoord ter wêreld. Dit is een van ’n klein aantal rehabilitasiesentrums in Mpumalanga wat amptelik deur die Krugerwildtuin gebruik word om na renosterwesies om te sien en hulle te huisves. Dié niewinsgewende organisasie is in 2001 deur Petronel Nieuwoudt begin.

Volgens Seugnet van Zyl, kommunikasiebeampte van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), sal Müller se kunswerke binnekort opgeveil word en die opbrengs sal aan die renosterprojek gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.