R38 miljoen sodat behoeftige studente kan studeer

Taylor van Staden (regs) en Rosarie Kemp, ‘n weldoener wat Taylor onder haar vlerk geneem het. Foto: Verskaf

Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum (SFS) het R38 miljoen se geldelike steun gewerf om meer as 1200 behoeftige Afrikaanssprekende studente in 2019 te help om te studeer.

Volgens Stefan Pieterse, hoof van SFS, is dit die produk van harde werk en meer as 200 donateurs se oop harte en hande.

“Die SFS is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand wat in 2008 van stapel gestuur is om behoeftige Afrikaanse jongmense te help om deur middel van rentevrye studielenings te studeer,” het Pieterse gesê.

“Lenings word toegestaan op die basis dat studente wat afstudeer slegs die geld moet terugbetaal wanneer hulle begin werk sonder dat enige rente of administrasiegeld gehef word. Studente wat by enige geakkrediteerde tersiêre instelling in Suid-Afrika wil gaan studeer, kan om dié lenings aansoek doen,” het hy gesê.

Volgens Pieterse werk dié model goed omdat donateurs kan sien hoe hul geld weer en weer aangewend word om ander studente te help finansier wanneer hul voorgangers afstudeer het en begin werk.

Pieterse het gesê die SFS help hierdie jaar die 5 000ste student om deur die Studiefondssentrum te studeer. Van die vele studente wat by dié inisiatief baat, is onder meer Taylor van Staden (19), ʼn kinderhuisstudent van Nylstroom wat nou in Pretoria studeer, en Navan Kyle Olivier (18) van Mount Pleasant in Hermanus.

Navan Kyle Olivier (18) van Mount Pleasant in Hermanus. Die Virseker Trust help vir Navan deur die SFS om vanjaar sy LLB-studies aan die Universiteit van die Wes-Kaap te befonds. Foto: Verskaf

“Taylor het die grootste gedeelte van haar kinderjare in ʼn kinderhuis in Nylstroom deurgebring, maar haar droom om eendag ʼn onderwyser te word kan nou waar word. Taylor vertel dat dinge nie altyd maklik was nie, sy sê ʼn mens moet maar net soos ʼn buffel jou kop laat sak en vorentoe beur,” het Pieterse bygevoeg.

Pieterse het gesê terwyl baie jongmense van Mount Pleasant nie wil of kan gaan studeer nie, het Navan ʼn groot droom om arm en weerlose mense te help om te gaan studeer deur ʼn voorbeeld vir die gemeenskap te wees. Die Virseker Trust help vir Navan deur die SFS om vanjaar sy LLB-studies aan die Universiteit van Wes-Kaapland te finansier.

“Met verwysing na die #FeesMustFall-beweging is Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient Group, van mening dat tersiêre onderrig, net soos enige ander produk, slegs waarde kan hê as dit teen ʼn prys kom,” sê Pieterse.

“Gratis onderrig is nie volhoubaar nie, geld moet eerder gevind word en daarom is ons dankbaar vir elke donateur se bydrae.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Karolis ·

Bravo SFS.
Taylor, bly voortbeur soos ‘n buffel. Jy gaan hoogtes bereik.
Rosarie, alle eer aan jou.

Lanie ·

Ek is baie bly hieroor. Ek nou net dat ALLE behoeftige kinders voordeel hier uit gaan trek.

Charles ·

Alle behoeftige AFRIKAANSE studente wat in AFRIKAANS wil studeer my broer.

Stefan ·

Mense moet ook kyk na Coursera en Edx en ander aanlyn instansies waar jy R1000 betaal vir n top universiteit se sertifikate.

Hans ·

Die regering sal hul belied jeens ekonomiese groei en werkskepping drasties moet aanspreek.

Charles ·

Wonderlik!
Die wonderwerk van Afrikaners (en ons bruin Afrikaanse familie) bly voortduur!!

Ons kan onsself ‘n lekker klop op die skouers gee!

Lees asb. in die verband Professor Jaap Steyn se “Trouwe Afrikaners”- (dis ‘n effe sal ek se verwaarloosde) ‘n Spreekwoordelike skatkis van onontdekte wyshede en waarhede omtrent ons erfenis en wie ons eintlik is en WAAROM ons is wat ons is en ons taal kwalik bo enigiets anders liefhet (behalwe vir Jahweh) ! (kan ook sy “Tuiste in eie taal” gerus probeer). Dit is ‘N fenomenale werk wat ‘n besonderse huldiging en validasie is van ons uithouvermoe, wilskrag as volk, ons integriteit en ons “kanniedood” houding!

Jan ·

Ek het my lidmaatskap van solidariteit oogeskort hulle is maar ook anti wit nes al die ander groit organisasies en hulle het nie veel tys vir blankes nie…hulle het my versoeke vir hulp vele maal geignoteer..

Belinda ·

Sal graag meer inligting wou hê oor hoe om te werk te gaan om vir finansiële hulp aansoek te doen. My seun was onderhoofseun en begin sy studies by TUT in Siviele tegnologie. Ons gesin se omstandighede het drasties verander. Beide my suster en moeder is skielik oorlede (5 Julie en 31 Oktober onderskeidelik). My pa is daarna gediagnoseer met dimensia en is nou in ñ versorgsentrum. My hele familie is binne ñ tydperk van 5 maande “uitgewis” en het ek nou twee ekstra kinders om te voog(suster se kinders). Dus het ek 4kinders, 19jaar 2x16jaar en 12jaar. Ek is ñ onderwyseres vir 22jaar en ook vir die afgelope 7jaar die enigste broodwinner. Ek hoor gereeld dat daar sulke hulp aan behoeftige kinders verleen word maar weet nooit hoe wat en waar nie. Sal dit waardeer as iemand met my in verbinding kan tree met meer inligting

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.