Raaisels waar taal, tegnologie ontmoet

Pierre Marais het drie apps ontwikkel wat in hierdie stadium nog net vir iOS-gebruikers beskikbaar is. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Blokkiesraaisels is ʼn gewilde tydverdryf wat menige woord- en taalliefhebbers ure lank besig hou. Sommige mense verkies om dit met ʼn potlood en slegs in hoofletters in te vul; ander meen jy kul deur ʼn woordeboek nader te trek. Hoe dit ook al sy, daar is ʼn lewendige blokkiesraaiselkultuur wat nie sommer sal uitsterf nie.

Pierre Marais, ʼn afgetrede IT-praktisyn van Pretoria, vertel hy en sy vrou stoei ook soms met blokkiesraaisels, maar hulle swoeg totdat al die leidrade ʼn antwoord het wat net soos legkaartstukke netjies inmekaar pas.

“Die liefde kom van my pa af,” sê Marais, en voeg dan by: “Dit is ʼn lekkerder tydverdryf as om televisie te kyk. Jou brein bly die heeltyd aan die gang.”

Dit is egter nie waar sy aandeel in blokkiesraaisels eindig nie. Trouens, ʼn mens sou eintlik kon sê dat Marais woordspeletjies inspan om vele van sy stokperdjies byeen te bring.

“Taal is my passie, en ek hou byna net soveel van elektroniese apparate (spesifiek selfone) om databasisse mee te ontwerp en sagteware te skryf,” verklap hy.

“Dit is ongelooflik om te ervaar hoe nuwe leidrade weekliks hul opwagting maak. As jy so na die databasis kyk, staan Afrikaans beslis nog sterk,” sê Marais.

Pierre Marais (Foto: Verskaf)

Marais is onder meer die samesteller van ʼn Afrikaanse blokkiesraaiselwoordeboek wat op die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) se Woordeboekportaal en die Apple iStore beskikbaar is. Hy het ook drie apps ontwikkel wat in hierdie stadium nog net vir iOS-gebruikers beskikbaar is: Blokkiesraaisel Woordeboek, ʼn Afrikaanse blokkiesraaiselwoordeboek; Crossword Dict,  ʼn Engelse blokkiesraaiselwoordeboek  en WoordeLyste, ʼn Afrikaanse woordelys.

Maroela Media het in 2013 berig dat Marais en Marius Greeff verantwoordelik is vir die data van die blokkiesraaiselwoordeboek. Greeff is ʼn Afrikaans- en Engels- raaiselontwerper vir bekende Suid-Afrikaanse tydskrifte en hy is ook outeur van ʼn aantal blokraaiselboeke.

Deur ʼn eenmalige betaling kry gebruikers toegang tot Marais se omvattende databasis. Terugvoer soos nuwe leidrade en antwoorde word deurgaans geverifieer, die databasisse word weekliks bygewerk en die apps vereis boonop nie ʼn internetverbinding nie.

“Die prys wat gebruikers vir die apps betaal is sonder twyfel die geld werd,” sê Marais.

Op 62 het dié blokraai-entoesias, ondanks uitdagings in die digitale omgewing, nog hope fut om sy blokkiesraaiselwoordeboek uit te brei. Hoewel dit ʼn enorme werk is, meen Marais dit is broodnodig dat iemand dit doen.

Marais meen sy apps is uniek en waardevol, en beslis nuttig vir woordbouspeletjies soos Wordle wat onlangs opslae gemaak het. Sedertdien het vertalers kopgekrap oor die vertaling van hierdie fenomeen.

Wordle gedy in Afrikaans

Nog ʼn Afrikaanse weergawe van Wordle, die Engelse woordbouspeletjie wat taalgebruikers wêreldwyd gaande het, het onlangs die lig gesien.

Hierdie weergawe met die titel Wortel werk presies net soos die oorspronklike speletjie: Gebruikers kry ses probeerslae om die vyfletterwoord van die dag te raai. Groen blokkies dui aan dat dit die regte letter in die regte blok is, oranje beteken dat die letter in die woord voorkom, maar in ʼn ander blok, en letters in grys blokkies moet liefs geïgnoreer word.

Wortel is deur Francois Botha, ʼn sagteware-ontwikkelaar, geskep uit die behoefte om hierdie woordspel in sy moedertaal te speel.

Botha het in ʼn onderhoud met My Broadband verduidelik dat dit redelik maklik was om ʼn Afrikaanse vertaling van Wordle aanlyn op te spoor danksy die toeganklikheid van React-Wordle, ʼn oopbronprojek wat deur talle medewerkers ondersteun word.

Hoewel dit ʼn lekker uitdaging sou wees om ʼn identiese weergawe van nuuts af te skep, het Botha die oopbronprojek verwelkom.

“Dit het my toegelaat om eerder tyd te bestee om ʼn Afrikaanse woordelys vir die speletjie te ontwikkel,” sê hy.

Botha het verskeie opsies oorweeg, gereeld sy vriende gevra om die speletjie te toets, aanpassings gemaak waar nodig en kort voor lank het Wortel die lig gesien.

“Uit die terugvoer wat ek tot dusver ontvang het, klink dit asof die meeste mense voel die Afrikaanse weergawe van die speletjie is moeiliker as die Engelse een,” sê Botha.

My Broadband berig dat Wortel reeds ongeveer 11 000 besoeke per dag ontvang.

Jeuk jou vingers om saam te speel? Afrikaanssprekendes kan nou saam in Afrikaans met woorde woeker. Klik hier om Wortel te speel, of klik hier om Watse, nog ʼn Afrikaanse weergawe van Wordle, wat deur AH Welgemoed vir Klyntji ontwikkel is, te speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.