Raak kreatief in Afrikaans saam met die FAK

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Sigmund/Unsplash)

Hoe gaan Afrikaans oor ʼn paar jaar van nou af lyk? Gaan rekenaarbreine oorneem? Sal die mensdom eendag dalk almal Mars toe moet vlug omdat hulle die aarde vernietig het?

Met die toekoms as tema vir die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) se Internasionale Afrikaans-Ekspo word leerders en studente se kreatiwiteit oor ʼn verskeidenheid onderwerpe, wat Afrikaans, tradisies en kultuur insluit, uitgedaag.

“Die toekoms kan onseker of duister wees, veral vir jongmense wie se vakkeuses hulle beroep moet help bepaal of wat besig is om toekomsplanne te beraam. Te midde hiervan kan ons wel ook uitsien na die hoop wat daar in die toekoms op ons wag,” sê Chrisna Nel, koördineerder van die Afrikaans-Ekspo.

Volgens haar lê die toekoms in die jeug se hande en juis daarom wil die FAK ʼn blik kry op hoe jongmense oor hulle leefwêrelde en die ganse planeet dink. “Droom hulle groot, en sien hulle uit na die toekoms? Gaan hulle ons taal, kultuur en geskiedenis laat voortleef?

“Daar is soveel maniere hoe hierdie tema geïnterpreteer kan word, en ons sal graag wil sien wat die jeug se opwindendste drome en visie vir die toekoms is. Hetsy dit vir hulleself, hulle skool, die taal of sommer fantasie oor iets totaal onrealisties is.”

Jongmense van graad R tot en met die ouderdom van 25 wat lief is vir Afrikaans is welkom om deel te neem. Dit beteken, al praat jy nie Afrikaans nie, of al is dit nie jou moedertaal nie, kan jy steeds deelneem.

Die laerskool en hoërskool met die meeste inskrywings staan die kans om R5 000 elk te wen. Daar is ook prysgeld op die spel vir individuele wenners in die verskillende kategorieë.

Alle inskrywings moet teen 29 Julie by die FAK se kantoor in Pretoria wees, hetsy dit gekoerier, ge-e-pos of aanlyn ingeskryf word. Besoek die Afrikaans-Ekspo se webwerf vir kategorievoorskrifte, algemene reëls en toegang tot die inskrywingsvorms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.