Radio-man, vrou trou steeds ná tragedie ure voor huwelik

Clarence en Wendy op hul troudag. Foto: Facebook

Die gewilde HeartFM-omroeper Clarence Ford sê sy vertroue in die mensdom is herstel nadat weldoeners die afgelope naweek verseker het dat hy en sy vrou se troudag kon voortgaan.

Dít ten spyte van die feit dat die bruid se rok én ander besittings oomblikke vroeër in ʼn brand verwoes is.

Ford en sy vriendin van die afgelope paar jaar, Wendy de Klerk, is die afgelope naweek by Tietiesbaai naby Saldanha in die Wes-Kaap getroud.

Die egpaar se groot dag het in ʼn nagmerrie ontaard toe die gastehuis waarin Wendy voor die troue tuisgegaan het, minder as vier uur voor hul troue afgebrand het. Wendy se trourok, paspoort en ander uitrustings soos dié van die gevolg, is in die brand verwoes.

“Die dag het geen tekort aan drama gehad het nie,” het die radio-omroeper op Facebook geskryf. “Om die waarheid te sê – dit was byna bonatuurlik. Die gevolg se rokke het alles gebrand, dít net drie en ʼn half uur voor ons troue. [Die bruid se gevolg] en die bruid het alles verloor – hulle trouklere, al hul ander klere en hul persoonlike besittings.”

Wendy en Clarence. Foto: Facebook

Ford sê weldoeners van Paternoster het ingespring om te verseker dat Wendy steeds dieselfde dag na die kansel kan stap. “Die inwoners van Paternoster het hulle oor die ontstelde vroue en meisies ontferm en hulle in ander trourokke geklee, insluitend ʼn rok vir die bruid.”

Die egpaar was veronderstel om hul wittebrood by die Victoria-watervalle deur te bring, maar moes dié planne kanselleer omdat Wendy se paspoort ook in die proses vernietig is.

Ford sê hy is nietemin dankbaar dat hy steeds te danke aan weldoeners kon trou. “Ek is verbaas en nederig en dankbaar gelaat oor die inwoners van Paternoster se gesindheid van vrygewigheid. Hulle het ʼn beeldskone troue moontlik gemaak. Meer as dit, is ek ook verbaas oor die innerlike krag wat Wendy gedurende hierdie beproewing getoon het. Soos die pragtige bruid by die seremonie aangekom het – drie uur laat – met ʼn trourok wat haastig pasgemaak is vir haar lyf, het die son, wat die hele dag [agter die wolke] weggekruip het, ʼn dramatiese verskyning gemaak. God is goed en my vrou is sterk – waarvoor kan ʼn man nog vra?”

Die Ford-egpaar is tans met wittebrood en kon nie onmiddellik bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Valerie ·

Ek sou dit eerder ‘n ramp noem…effens nader aan die waarheid. Maar Paternoster rocks soos Umhlanga.

Wonder ·

Weereens ‘n bewys dat ons bymekaar kan staan. Dankie vir almal wat hulle dag nog spesiaal gemaak het.

Andre ·

Nie `n goeie begin nie, hoop die huwelik staan die toets van tyd.

Geluk, en julle mis niks by Vic falls nie.

Bollie ·

..hulle in ander trourokke geklee, insluitend ‘n rok vir die bruid?

Ek hoop werklik nie die gevolg het ook TROUROKKE aangehad nie .. goeiste ..

Ek is egter bly alles het toe goed verloop . sterkte!

Hanlie ·

Ek dink dit wys ook dat wanneer mense regtig wil trou en jy om die regte redes trou ‘n rok nie die alfa en die omega is nie. Baie geluk aan die paartjie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.