Radio ʼn ware kanniedood

Argieffoto (Foto: Will Francis/Unsplash)

Volgens die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) is radio ʼn kragtige medium om die mensdom in al sy diversiteit te vier en dit bied ʼn platform vir demokratiese diskoers.

Radio is wêreldwyd een van die mediums wat die meeste gebruik word. Hierdie unieke vermoë om ʼn hand na die wydste gehoor uit te steek, beteken dat radio ʼn spreekbuis vir ʼn verskeidenheid stemme is en dat dit terselfdertyd ʼn ruimte vir hierdie stemme skep om gehoor en verteenwoordig te word.

Radiostasies behoort dus diverse gemeenskappe te bedien, ʼn wye verskeidenheid programme, standpunte en inhoud te bied, en die diversiteit van gehore in hul organisasies en bedrywighede te weerspieël.

Só vier radiostasies dit

Maroela Media het met ʼn paar radiostasies oor Wêreldradiodag (13 Februarie) gesels en uitgevind waarom die medium vandag nog ʼn groot rol in die samelewing speel.

Riaan Grobler, omroeper by Pretoria FM, sê hy is dankbaar vir Unesco se fokus op vertroue in die radiomedium. Hy voeg by dat alle radiostasies sover as moontlik daarna moet streef om betroubare nuus en inhoud aan luisteraars te verskaf.

Riaan Grobler (Foto: Instagram)

“ʼn Mens luister na die radio in jou huis, jou motor, en deesdae al hoe meer van jou selfoon af. Dit is so ʼn direkte bron van kommunikasie en ook die grootste inligtinggewer vir miljoene mense wêreldwyd.”

Radio is volgens Grobler veel meer as ʼn boodskapper, dit laat mense boonop geborge voel.

“Dit is werklik ʼn voorreg om op hierdie wyse met mense te gesels en inligting oor te dra. Vir baie luisteraars is dit daagliks die enigste geselskap wat hulle het, en as radio ophou bestaan, gaan mense wat reeds min kontak met die buitewêreld het, nog meer vereensaam.”

Grobler wys ten slotte op die belangrike rol wat omroepers in die gemeenskap speel.

“Elke keer wat omroepers hulle mikrofone aanskakel, het hulle ʼn verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap. Daarom is dit so belangrik dat die radiomedium geloofwaardigheid moet bly.”

Egbert Brink, stasiebestuurder van Radio Namakwaland, sê dit is vir hulle belangrik om betroubare nuus en inhoud aan luisteraars te verskaf.

egbert_Stefan.jpeg

Egbert Brink (Radio Namakwaland) en Stefan Saayman (Kanaal 7).

Dit is byna ʼn voltydse taak om feite na te gaan, sê Brink skertsend, en voeg dan by: “Ons wil weet wat is die storie agter die storie.”

Radio Namakwaland se luisteraarsgetalle het tydens die Covid-19-inperking gegroei, vertel Brink. “Ons is dankbaar daarvoor. Mense kon natuurlik nie hulle huise verlaat nie, en het daarom ʼn behoefte aan geselskap gehad. Radio was vir baie luisteraars ʼn reddingsboei in hierdie tyd.”

Johnny Nel, ateljeebestuurder van Waterberg Stereo se uitsaai-ateljee in Modimolle (Nylstroom), sê ook dat radio vir baie gemeenskappe in afgeleë gebiede ʼn noodsaaklike bron van kommunikasie is.

Waterberg-Stereo.jpg

Johnny Nel, Emsie Cilliers en Danny Doman van Waterberg Stereo.

“Met internet en ʼn rekenaar tot jou beskikking kan jy berge versit, maar daarsonder word jy so te sê ontneem van toegang tot die buitewêreld. Baie van ons luisteraars woon in verafgeleë gebiede en het nie op enige ander manier toegang tot inligting nie. Radio hou ons gemeenskap en luisteraars nie net op hoogte van gebeure nie, dit laat hulle ook geborge voel.”

RSG het ter viering van Wêreldradiodag op 10 en 11 Februarie reeds verskeie programme uitgesaai wat nou op die webwerf beskikbaar is.

“In ʼn moderne era waar Google en sosiale media hoogty vier, is radio steeds ʼn uiters kragtige medium. Dit is juis daarom dat RSG vanjaar Wêreldradiodag op ʼn hoë noot vier,” lui ʼn verklaring van dié stasie.

Jaap Lourens, ondersoekbeampte van Sentech, het vir Elsje van Jaarsveld, RSG se senior regisseur, tot bo-op die Brixton Sentec-toring geneem waar ‘n uitsonderlike uitsig oor Johannesburg sigbaar is. (Foto: Verskaf)

Gesoute uitsaaier en kunstenaar Coenie de Villiers het Donderdag by Sue Pyler-Slabbert aangesluit en self weer sy uitsaaivaardighede afgestof. Rolprentresensent en aanbieder Leon van Nierop het Donderdag met Willem Pelser tydens Spitstyd gesels oor sy wedervaringe in die uitsaaibedryf, en ander gesprekke met vorige stasiebestuurders en nuusankers was ook gedurende die dag op die lug.

Luisteraars kan nou op RSG se webwerf gaan luister na ʼn denkbeeldige toer na die Brixton Sentech-toring waar Jaap Lourens, ondersoekbeampte van Sentech, die werking van die toring verduidelik. Hy het van die afgelope week ter viering van Wêreldradiodag vir Elsje van Jaarsveld, RSG se senior regisseur, tot bo-op dié toring geneem waar ‘n uitsonderlike uitsig oor Johannesburg sigbaar is.

De Villiers het Vrydag ook saam met Esté Gross ‘n deel van alhoebekker aangebied en kykers kan hier na die insetsel op YouTube gaan kyk.  Om ʼn kykie agter die skerms te kry is verskeie ateljeevideo’s en argieffoto’s op RSG se webwerf en YouTube-kanaal te sien.

Wêreldradiodag 2022

Vanjaar se tema vir Wêreldradiodag dag fokus op die verband tussen radio en vertroue. Dit word verder in drie subtemas verdeel: Vertroue in radiojoernalistiek, vertroue en toeganklikheid, en vertroue en lewensvatbaarheid van radiostasies.

Elsje van Jaarsveld, RSG se senior regisseur, op die Brixton Sentech-toring. (Foto: Verskaf)

Volgens Unesco word dit toenemend ʼn al hoe groter uitdaging om die basiese standaarde van etiese joernalistiek te respekteer, veral in ʼn snelgroeiende digitale omgewing.

“Om luisteraars se vertroue te behou of te verhoog, moet joernalistiek egter voortgaan om op verifieerbare inligting gegrond te wees,” lui ʼn berig op Unesco se webwerf.

Soos blyk uit Unesco se radiodagviering vir 2022 is die toeganklikheid van radio belangrik vir integrasie en sosiale deelname.

“Om na ʼn geselekteerde gehoorgroep uit te reik, impliseer om die inligtingsbehoeftes van alle luisteraars te bedien en om ʼn katalisator te wees vir integrasie en sosiale deelname, ook vir persone met gestremdhede.

“Digitale radioplatforms bied gronde vir innovasie in die toeganklikheid van inhoud, soos die gebruik van gebaretale of outomatiese onderskrifte vir gehoorgestremde gehore tydens stromingsdienste, of aankondigings van inhoud vir blinde luisteraars.”

Die lewensvatbaarheid van radiostasies word ook vanjaar op die voorgrond geplaas. Unesco stel dié vrae aan stasies:

  • Hoe kan radio oorleef wanneer finansiële krisisse die mediamark tref?
  • Hoe kan lojale gehoorbetrokkenheid in finansiële volhoubaarheid omskep word?

Hierdie subtema koppel die ekonomiese voortbestaan ​​van radiostasies aan hul vermoë om lojale luisteraars te lok en te behou. Volgens Unesco versterk ʼn stewige luisteraarsbasis ʼn stasie se volhoubaarheid en dit help om luisterinteraksie by hulle besigheidsmodelle te inkorporeer.

Wêreldradiodag is in 2011 deur Unesco se lidlande geproklameer en in 2012 deur die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies tot internasionale dag verklaar.

Bykomende bron: Unesco

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

Ek het voorheen minder as ‘n uur tv gekyk elke dag. Toe breek my tv en dit is steeds gebreek, so vir die afgelope 3 maande word geen tv gekyk nie. Ek luister ook al hoe minder radio. Verbasend hoe baie tyd mens mors met hierdie goed. Heel bevrydend om weg van die goed af te kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.