Radiodramakompetisie vier ʼn kwarteeu

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Inskrywings vir RSG se gesogte jaarlikse radiodrama-kompetisie wat in samewerking met Sanlam aangebied word, is nou oop met prysgeld ter waarde van R115 000 op die spel.

Die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie, een van die oudste dramakompetisies in Suid-Afrika, bevorder al vir byna ʼn kwarteeu die Afrikaanse radiodramabedryf. Dit het oor dekades heen ook werk vir skrywers, akteurs en regisseurs geskep.

Volgens Kobus Burger, senior regisseur by RSG, is dit elke jaar verrassend om te sien hoe radiodramaturge die grense van klank en drama verskuif.

“Klank bied soveel moontlikhede, sonder dat ʼn skrywer hom- of haarself oor ʼn begroting hoef te bekommer.

“Daar is steeds nuwe horisonne wat oopgeskryf kan word en die verskeidenheid stories en temas wat die kompetisie lok, bewys dat ʼn soort opbloei in die wêreld van klank plaasvind.”

Daar is vanjaar geen voorgeskrewe tema nie, maar tekste moet ʼn nuwe en oorspronklike Afrikaanse radiodrama wees. Geen verwerkings van bestaande materiaal, verhoogdramas of stories wat al voorheen gepubliseer is, sal aanvaar word nie.

RSG

Die wenner van vanjaar se skryfkompetisie sal met prysgeld ter waarde van R50 000 wegstap, die naaswenner ontvang R25 000 en die wenner van die derde plek kry R15 000. ʼn Skrywer jonger as 30 jaar sal ook R15 000 ontvang en ʼn merieteprys van R10 000 word toegeken aan ʼn drama wat deur die beoordelaars gekies word uit die res van die finaliste. Buiten die prysgeld word die wendramas ook in 2022 op RSG uitgesaai.

In die eerste ronde van beoordeling word tussen 10 en 18 tekste gekies wat dan met die hulp van ʼn mentor vir die eindronde geslyp word. Die finaliste kan daarna hul tekste vir die eindronde van beoordeling voorlê.

Weens die Covid-19-pandemie kan die gebruiklike slypskole nie vanjaar aangebied word nie. ʼn Weeklikse rubriek met skryfwenke sal gedurende Junie en Julie as deel van Skrywers en Boeke uitgesaai word.

Besoek RSG se webwerf vir meer besonderhede oor die kompetisie, en om die kompetisie se handleiding gratis af te laai. Die sluitingsdatum is Maandag 16 Augustus en inskrywings kan per e-pos gestuur word na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.