Radiostasie, platejoggie voed duisende

Jacaranda FM se eie DJ Jazzy D en sy span besig om etes in ‘n sopkombuis in Eersterust, Pretoria van 03:00 die oggend voor te berei. (Foto: Kyle Cestari van KC Photography.)

DJ Jazzy D het saam met Jacaranda FM se Good Morning Angels op Martin Bester se ontbytprogram daarin geslaag om R850 000 in te samel sodat hulle, saam met sopkombuis reg oor Suid-Afrika en skenkers wat ook ingespring het om die inisiatief te ondersteun, meer as 93 000 mense kan voed.

Benewens luisteraars in Gauteng kon deelnemers wêreldwyd met die kliek van ʼn donasie-knoppie op die radiostasies se webwerf elkeen R67 skenk om ʼn gesin van vier te voed.

Die reaksie was oorweldigend en R572 538 is binne die eerste twee dae van die inisiatief se bekendstelling op 13 Julie ingesamel.

Boonop het Keystone Milling Co. ʼn ruim skenking van mieliemeel aan Jazzy D se projek gegee, waarin hy wou poog om minstens 67 000 mense Saterdag op Mandeladag te voed. Die ekstra geld in die projek is gebruik om vleis en groente aan te koop sodat behoeftige gesinne ʼn gesonde, gebalanseerde maaltyd kan ontvang.

Meer as 93 000 mense is Saterdag gevoed te danke aan DJ Jazzy D en Jacaranda FM se Good Morning Angels-inisiatief. (Foto: Kyle Cestari van KC Photography.)

Spanne vrywilligers by sopkombuise in Pretoria, Johannesburg, Kaapstad, Port Elizabeth, Oos-Londen, George, Pietermaritzburg, Grahamstad, Humansdorp, Graaff-Reinet, Kimberley en Nelspruit het oor die naweek behoorlik gekook om al hierdie maaltye betyds vir die dag voor te berei.

“Ek weet nie wat om te sê nie behalwe dankie. Baie van ons is bekommerd oor ʼn spesifieke handelsmerk van koffie wat ons nie meer in die winkel kan kry nie of wanneer ons weer kan gaan fliek, maar daar is talle mense wat regtig nie eens weet waar hulle volgende maaltyd vandaan gaan kom nie.

Dié platejoggie van Jacaranda FM wat op Saterdae en Sondae die draaitafels laat sing, het behoorlik gesukkel om sy trane in die onderhoud te keer terwyl Martin vir hom die totale bedrag wat vir die projek ingesamel is gegee het.

“Dit is ongelooflik wat ons kan doen as ons net na die persoon langs ons kyk en glo dis die moeite werd om vir hulle te leef, al glo hulle nie eers in hulself nie,” het ʼn oorstelpte Jazzy D gesê.

Etes en pakkies kos het gehelp om Saterdag ‘n warmer wintersdag in Suid-Afrika te maak vir talle behoeftiges. (Foto: Kyle Cestari van KC Photography.)

Deirdre King, besturende direkteur van Jacaranda FM, het op haar beurt gesê dit is byna ongelooflik om te sien watter verskil dié projek net in twee dae in duisende mense se lewens gemaak het. “Suid-Afrikaners het hul harte oopgemaak vir minderbevoorregte mense – mense wat hulle nie ken nie en ook nooit sal ontmoet nie. Ons innige dank aan elke individu en onderneming wat hierdie projek moontlik gemaak het.”

Bester, die aanbieder wat ook elke Woensdagoggend die Good Morning Angels-inisiatief dryf, glo steeds dié stasie het die vrygewigste luisteraars in die hele land, en moontlik nog ook ter wêreld.

“Dankie aan elkeen van julle wat vorentoe getree het en gesê het ‘ek sal help’. Dit was ʼn voorreg om Jazzy met hierdie wonderlike projek te ondersteun en so ʼn belangrike verskil op hierdie Mandeladag te kon maak met die duisende gesonde maaltye wat ons verskaf het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.