Radiostasie vat vyf vir voedselsekerheid

Die span by GROOTfm.90.5 het onlangs help tuine aanlê by vyf welsynsorganisasies. (Foto: Verskaf)

GROOTfm 90.5, ʼn gemeenskapradiostasie in die Jakarandastad, het saam met die span van Garden of Life hande gevat om vyf groentetuine by vyf niewinsgewende organisasies aan te plant.

Die vyf organisasies wat deelgeneem het aan die vyfdag-projek was Louis Botha Kinderhuis, Centurion Hospice, Kungwini Welfare Organisation, Ebony Park Hope Centre en Abba House, huis van veiligheid vir kinders en babas.

Weens die onluste vroeër die maand kon die span ongelukkig nie ʼn groentetuin by Ebony Park Hope Centre plant nie, maar het wel Genesis-voedselpakkies met behulp van ʼn borgskap van Laeveld Agrochem na Kerk Sonder Mure, Centurion, geneem.

Garden of Life, onder leiding van Steven Barnard, leer mense – van oud tot jonk – hoe om deur middel van herwinbare produkte ʼn volhoubare, waterspaarsamige groentetuin te plant. Die proses begin deur ʼn saadjie in ʼn eierboks te plant – twee per houer om sukses te verbeter. Nadat jy ʼn klein bietjie water oorgesprinkel het, bedek jy die eierboks met weggooiplastiek om sodoende ʼn mini-kweekhuis te skep. Nadat ongeveer 28 dae verby is, behoort jy plantasie-saailinge te hê wat gereed is om grond toe te gaan.

Hoe gemaak as jy nie plek in jou agtertuin het nie? Gebruik weggooibande. Vul hierdie bande met grond, gemeng met die nodige aanvullings soos hoendermis en kompos. Neem ʼn tweeliter-plastiekbottel, sny dit middeldeur, en maak 12 gate in die onderste helfte. Dit staan dan nie meer bekend as ʼn plastiekbottel nie, maar ʼn hidroponiese stelsel, volgens Garden of Life-lid Keith Fransch. Plaas dié helfte in die middel van jou grondgevulde buiteband. Plant nou sowat ses saailinge, een hand uit mekaar uit. Gooi weekliks water in die hidroponiese stelsel, en wanneer jou saailinge met koue weer bedreig word, gebruik die boonste helfte van die plastiekbottel om die saailinge te bedek en te beskerm.

Die inkomstepotensiaal? Spinasie kan byvoorbeeld ses keer geoes word. Ses plante vermenigvuldig met ses “oeste” is gelyk aan 36 bossies. Teen R10 ʼn bossie kan jy gemaklik R360 per keer verdien.

“Dit was deel van die radiostasie se Mandeladagviering en het aangesluit by vanjaar se tema vir die dag, naamlik voedselsekerheid,” het Sonet Stofberg, skakelbeampte en projekkoördineerder van dié radiostasie, gesê.

Volgens Stofberg is voedsel tans ʼn groot uitdaging in Suid-Afrika.

“Dit is nou wat die voorraad en die voorsiening betref. Om iemand wys te maak oor die plant van hul eie groente bemagtig nie net om hulle aan die voorraad te voldoen nie, maar ook die voorsiening. Dit bemagtig die organisasies en individue verder om ʼn potensiële inkomste te verdien.”

(Foto: Verskaf)

ʼn Paar feite oor die voedselsituasie in Suid-Afrika:

  • Tussen Januarie en Maart 2021 was meer as 11 miljoen (meer as 16% van ons bevolking) met hongersnood gekonfronteer.
  • 1 uit 7 kinders in Suid-Afrika word met hongersnood gekonfronteer.
  • Weens duurder brandstof, hoër energiepryse, die uitwerking van Covid-19 en ander faktore kan die gemiddelde jaarlikse toename van 5,4% in ʼn basiese kernkosmandjie vanjaar tot 10% wees.
  • Daar leef 155 miljoen mense wêreldwyd met akute honger, met Afrika wat verantwoordelik is vir 63% van die wêreldtotaal en 40,4 miljoen van diegene wat in Sentraal- en Suider-Afrika woon.
  • Volgens Statistiek Suid-Afrika kan die betrokkenheid van huishoudings by landbou-aktiwiteite vir bestaansboerdery ʼn belangrike rol speel in die vermindering van hongersnood en voedselonseker huishoudings. Studies toon dat 15,6% van huishoudings by landbou-aktiwiteite in Suid-Afrika betrokke is. Provinsies wat oorwegend landelik is met hoë vlakke van armoede soos Limpopo, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal het die meeste huishoudings gehad wat op landbou-aktiwiteite staatgemaak het om in hul eie voedsel te voorsien.

“Ons is dankbaar vir al die rolspelers betrokke by hierdie vrugtevolle, oftewel groentevolle vyf dae,” het Stofberg bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.