Radiostasie wil duisende blikkies vir behoeftiges insamel

Bosveld Stereo 107.5 hoop om met vanjaar se Blikkiesfees weer die rekordaantal van 22 000 blikkies kos vir liefdadigheid in te samel. (Foto: Verskaf)

Bosveld Stereo 107.5 hoop om met vanjaar se Blikkiesfees, wat op 27 Mei in Hartbeespoort plaasvind, weer die rekordaantal van 22 000 blikkies kos vir liefdadigheid in te samel.

“As elke persoon wat saam met ons by die fees kom kuier ʼn blikkie of twee saambring, sal ons dié teiken in ʼn japtrap klop,” sê Graat Pelser, voorsitter van Bosveld Stereo se direksie.

Hy vertel aan Maroela Media dat die Blikkiesfees vanjaar ʼn twaalfde keer aangebied word. Dit het destyds met ʼn paar honderd feesgangers op Brits se skougrond begin en hierdie naweek word meer as 8 000 besoekers by die Hartbeespoort Holiday Resort verwag.

Kunstenaars wat vanjaar vir groot vermaak op die Blikkiesfees-verhoog gaan sorg, is onder andere Irene-Louise van Wyk, Dirk van der Westhuizen, Jennifer Zamudio, Deon Groot en Steve Hofmeyr.

Verskeie organisasies en hulpbehoewende persone baat jaarliks by die projek: skole in die omgewing, welsynsorganisasies en individue wat na behoeftiges omsien. Hoewel Graat en sy span alles in hulle vermoë doen om ʼn verskil te maak, is dit bykans onmoontlik om in alle nood te voorsien.

“Een van die swaarste aspekte van die projek, is om te bepaal wie se nood die grootste is. Ons doen elke jaar ʼn behoeftebepaling om die verdienstelikheid van aansoekers vas te stel, en dit bly ongelooflik moeilik om vir mense te sê dat jy hulle nie kan help nie. Hoe bepaal jy wie meer kos nodig het as ʼn ander persoon?” meen Graat.

Nietemin pak die gemeenskapsradiostasie elke jaar hierdie inisiatief met ywer en entoesiasme aan. Graat sê hy is dankbaar vir sy span se gesindheid, en ook vir elke kunstenaar wat bereid is om gratis by die fees op te tree.

“Die span by Bosveld Stereo doen alles wat hulle kan om van hierdie projek ʼn sukses te maak. Hulle werk onverpoosd om die blikkies te sorteer, al beteken dit hulle moet soms na-ure werk.

Bosveld Stereo 107.5 se Blikkiesfees word vanjaar ʼn twaalfde keer aangebied. (Foto: Verskaf)

“Nie een van die spanlede doen dit omdat hulle erkenning of ʼn beloning verwag nie, maar ter wille daarvan om terug te gee aan die gemeenskap.”

Oor die jare het Graat dikwels verskillende emosies oor die aanbieding van die fees ervaar, maar in sulke oomblikke het ʼn spanlid se entoesiasme oor die projek, of die wete dat Bosveld Stereo ʼn baken van hoop in die gemeenskap is, vir hom vrede gebring. “Daar is mense wat opkyk na ons en dit dryf ons om aan te hou.”

Blikkieskos word reeds landwyd by versamelpunte ingesamel, en dit kan ook by die radiostasie afgegee word. Die groot aksie vind Saterdag plaas wanneer besoekers aangemoedig word om blikkies saam na die feesterrein te neem.

Besoek die Blikkiesfees se Facebook-blad om meer te wete te kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Harley Davidson ·

Baie goeie inisiatief ek sien meer en meer huidige benaadeelde mense by robotte en voor winkels bedel vir kos.

Wondermaarnet ·

Baie goeie idee, maar ek skenk slegs as ek weet aan wie dit presies gaan, daarom deel ek eerder uit in my onmiddellike omgewing.

melaney ·

Paar jaar gelede het ‘n ‘pastoor’ en sy ‘eggenote’ buite die Spar gestaan met ‘n trollie vol blikkies kos. Hulle wou ook vir die armes help en bydrae gevra het. Daar is later vasgestel dat hulle ‘kerk’ nie bestaan het nie. Nouja ……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.