Rede waarom volksverhale soos Racheltjie de Beer gunstelinge bly

Zonika de Vries vertolk die rol as Racheltjie de Beer (Foto: Verskaf)

’n Nuwe rolprent wys Suid-Afrikaners weer waarom die storie van Racheltjie nog net so gewild is, want ’n storie soos hare wat handel oor gewone mense wat swaarkry oorwin het, verpersoonlik oortuigings, tradisies en waardes wat tydloos is.

Die wonderlike verhaal van Racheltjie de Beer, die jong meisie wat haar broertjie se lewe gered het deur haar eie lewe op te offer, is ’n storie van onbaatsugtige liefde en opoffering. Omdat dit ’n storie is wat welbekend aan Suid-Afrikaners van alle kleure en ouderdomme is, kan dit as ’n volksverhaal vir alle tye beskryf word.

Hierdie tragiese dog inspirerende storie van Racheltjie de Beer word in Oktober op die grootskerm vrygestel en is waarskynlik die Afrikaanse rolprent van die jaar waarna die publiek nog die meeste uitgesien het. Matthys Boshoff is die regisseur aan die stuur van sake. Die rolprent Racheltjie de Beer is gebaseer op die topverkoperroman met dieselfde naam deur skrywer en filmmaker Brett Michael Innes, en vertel die storie van ’n Afrikanergesin, die De Beers, wat in die 1800’s gedwing word om skuiling te soek op ’n plaas in die Oos-Vrystaat, Suid-Afrika. Namate die winter naderkom en donker sneeuwolke oor die Drakensberge aangerol kom, is dit duidelik dat ’n tragedie onvermydelik is.

“Volksverhale word in alle samelewings vertel om die luisteraars te vermaak, op te voed en om kultuur te bewaar,” het regisseur Matthys Boshoff gesê. “Hulle speel ’n belangrike rol om mense nader aan mekaar te bring en beter begrip tussen hulle te verseker. Daar mag mense wees wat dink dat volksverhale outyds is, maar hulle invloed op die verskillende kulture van die wêreld bly baie belangrik en dít verseker volksverhale se voortbestaan.”

Boshoff sê dat volksverhale oor generasies heen behoue bly, aanhou ontwikkel en gevorm word ooreenkomstig die omstandighede van die tye. Hulle hou dus nooit op om relevant te wees nie ‒ en is daarom vandag nog tersaaklik.

“Ons eerste en breë benadering by die hervertel van Die verhaal van Racheltjie de Beer was om tydlose, universele temas op te diep sodat ons moderne gehore aanklank by die storie sal vind: temas soos gesinsdinamiek, verlies, om ’n nuwe lewe te begin, bitterheid, avontuur, oorlewing en uiteindelik liefde. Om meer op die man af te wees, die uitbeelding van Racheltjie is ons sterkste raakpunt met ’n millenniër-gehoor. Buiten dat sy besig is om volwasse te word, waarby enigiemand (veral jong vroue) aanklank kan vind, is haar karakter geskoei op voorbeelde van moderne leiers wat ons bewonder. Sy is ’n sterk, eiesinnige en onafhanklike jong vrou wat weet wat sy wil hê. Racheltjie is beslis nie ’n hulpelose jong meisie nie.”

Volgens Boshoff het die produksiespan wel die taal in die rolprent by die taalgebruik van die 1800’s aangepas, maar die rolprent weerspieël ook die visuele taal van sprokies en mites in sy kleurpalet, musiek, garderobe, stilering, klank en die gebruik van geheimsinnige elemente in die natuur, plante, diere en die dreigende storm. “Dit alles gee aan die prent ’n tydlose, magiese en bemagtigende kwaliteit,” het hy bygevoeg.

Die kennis en wysheid wat in volksverhale voorkom, anker ons aan ons tradisies en help ons om vorm aan ons kultuur te gee. Volksverhale beeld dikwels kleinboere en gewone mense uit, wat kinders ’n kykie gee in ’n wêreld waar goedheid en integriteit erken en beloon word. In die geval van Racheltjie, fokus die storie op ’n sterk meisie wat slim en dapper is, wat ’n hewige storm aandurf en daarin slaag om haar broertjie te red met haar kundigheid, wysheid en krag.

“Die rolprent vier die slim, sterk en skrander heldin van die Suid-Afrikaanse legende,” het Helen Kuun, besturende direkteur van Indigenous Film Distribution wat die rolprent in Suid-Afrika versprei, gesê. “Volksverhale verryk kinders se bewussyn en gee hulle opnuut waardering vir hul gemeenskap. Die rolprent blaas nuwe lewe in ’n klassieke storie wat aan ’n eietydse gehoor oorvertel word.”

Bekende sterre speel in Die Verhaal van Racheltjie de Beer, onder andere Stian Bam (Modder en Bloed, Verraaiers), Zonika de Vries (’n Man soos my Pa, Dis Koue Kos, Skat), Marius Weyers (Dis Ek, Anna, Faan se Trein), Sandra Prinsloo (’n Man soos my Pa, ’n Pawpaw vir my Darling), Antoinette Louw (Bram Fischer, Nul is nie Niks nie), Seputla Sebogodi (Isidingo, Scandal, Rhythm City) en Beate Opperman (Verraaiers, Roepman). Johannes Jordaan wat in sy heel eerste rolprentrol te siene is, vertolk die rol van Racheltjie se broertjie.

Die rolprent het onlangs tydens kykNET se Silwerskermfees 2019 weggestap met die prys vir beste akteur (Stian Bam) en beste produksie-ontwerp en ’n spesiale toekenning vir VFX ontvang.

Kom saam bioskoop toe!

Maroela Media bied jou die geleentheid om saam met ons die Pretoriase première van die langverwagte Racheltjie de Beer te kom kyk. Jou kaartjie na die eksklusiewe Maroela-première bied jou die geleentheid om saam met Maroela Media oor ʼn glasie wyn te kuier, saam peuselhappies te geniet voor die fliek begin, sowel as die geleentheid om op die rooi tapyt ʼn foto saam met die akteurs te neem.

Prys: R130 pp
Waar: Nu Metro VIP Parkview (Garsfonteinweg)
Wanneer: Donderdag 10 Oktober 2019
Tyd: 19:00 vir 19:45
Kry jou kaartjies nou!

Lees ook ʼn resensie van Racheltjie de Beer op Maroela Media.

Kyk hier na die lokprent:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.