Reeks webinare wil ouers toerus om kinders by te staan

(Foto: J. Kelly Brito/Unsplash)

Deur Reon Janse van Rensburg

Elke ouer raak soms raadop en het nie altyd die antwoorde vir hul kinders nie. As ouer wil jy graag jou kind teen alles beskerm, insluitend alles wat met die huidige inperkings gepaardgaan.

Hoewel jy as ouer nie altyd die antwoorde het nie, is daar egter geen twyfel nie dat jy die beste vir jou kinders wil hê. Dit is juis daarom dat Solidariteit jou as ouer wil bemagtig sodat jy in staat is om die beste vir jou kind te kan lewer.

Solidariteit se Onderwysgilde en S-leer bied vir ouers ʼn reeks webinare aan oor hoe jy jou kind op ʼn akademiese, emosionele, fisieke en psigiese vlak kan bystaan.

Die webinaarreeks wat in vier dele opgedeel is, fokus op verskeie aspekte wat belangrik is vir jou kind se ontwikkeling en sluit die hulp en advies van kundiges in wat in verskeie gebiede werksaam is. Die kundiges gaan tydens die #HelpMyKind-webinaarreeks verskeie hulpbronne aan ouers bekendstel wat ouers sal bemagtig om na hul kinders se welstand om te sien.

Die webinaar spruit uit onlangse navorsing deur Solidariteit se Onderwysgilde wat aangedui het dat onderwysers bekommerd is oor ouers se betrokkenheid by hul kinders se welstand. Navorsing dui daarop dat ouers nie noodwendig onbetrokke by hulle kinders se akademie is nie, maar dat hulle eerder moontlik nie toegerus is om die uitdagings te oorkom nie. Die webinaarreeks is daarop gemik om ouers in staat te stel om met meer gemak betrokke te raak.

Besoek die volgende skakel om vir die webinaarreeks te registreer.

Die kundiges wat aan die webinaarreeks deelneem sluit in:

  • Anlia Archer – organiseerder by Solidariteit se onderrigsektor
  • Anéll Harper – konsultant vir die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Kleutervereniging (Voorskoolse ondersteuning)
  • Valentyn van der Merwe – hoof van innovasie by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS)
  • Chris Denysschen – hoof van Hoërskool Waterkloof (Hoërskoolse ondersteuning)
  • Louis Dekker – hoof van Laerskool Wierdapark (Laerskoolse ondersteuning)
  • Johan Smith – skrywer, motiveringspreker, mentor en ouer
  • Elsha Hermann – hoof van maatskaplike ontwikkeling en navorsing by Solidariteit Helpende Hand
  • Juan Nagel – adjunkhoof by Hoërskool Waterkloof
  • Peet du Toit – PhD in Fisiologie, Universiteit van Pretoria
  • Natasja Visser – professionele berader en eienaar van haar eie praktyk (Let’S EXplain)
  • Danie Brink – BCom aan die Universiteit van Pretoria, MEd aan die Radford Universiteit (VSA) en PhD in Wiskunde-onderrig aan die Universiteit van Georgia (VSA)

Waar en wanneer word die webinaarreeks aangebied?

Akademiese welstand

Die eerste deel van die webinaarreeks vind reeds vandag (22 Julie) om 20:00 plaas en die eerste onderwerp wat in die reeks bespreek word, is die akademiese welstand van jou kind. Die betrokke sprekers is Anéll Harper, Louis Dekker, Chris Denysschen en Valentyn van der Merwe.

Emosionele welstand

Die tweede deel van die webinaarreeks word op Dinsdag 27 Julie van 20:00 aangebied en fokus op jou kind se emosionele welstand. Dr. Johan Smith tree as spreker op tydens dié geleentheid.

Fisieke welstand

Die derde deel van die webinaarreeks fokus op die fisieke welstand van jou kind en dit vind op 28 Julie om 20:00 plaas. Sprekers vir die geleentheid sluit in prof. Peet du Toit, dr. Elsha Hermann en Juan Nagel.

Die doel van hierdie webinaar sal wees om klem te lê op die belangrikheid van fisieke aktiwiteite vir kinders en hoe om die balans te handhaaf.

Dissipline

Die laaste deel van die webinaarreeks fokus op jou kind se dissipline en hoe jy as ouer jouself kan bemagtig terwyl jy na jou kind se dissipline omsien. Die webinaar vind op 29 Julie om 20:00 plaas. Sprekers vir die geleentheid sluit in Natasja Visser en dr. Danie Brink.

Diegene wat die webinaarreeks wil bywoon, gaan ook na die afloop van die reeks by ʼn hele lys hulpbronne kan baat wat hulle in staat sal stel om na hulle kinders se algehele welstand om te sien.

Bemagtig jouself sodat jy in ʼn posisie is om jou kind te kan help om hom- of haarself te kan bemagtig. Saam help ons jou kind!

  • Besoek gerus die volgende skakel om vir enige van die webinare of die hele reeks te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.