Rekordtal besoekers op Aros se ‘koue’ opedag

Aros-opedag (13 Mei 2017) Foto: Aros

Sneeu op die berge het nie verhoed dat besoekers van heinde en ver Aros se opedag bygewoon het nie. Die gratis koppie koffie het dit natuurlik makliker gemaak om die koue aan te durf.

Stephné du Toit (bemarkingsbestuurder by Aros) vermeld dat ongeveer 700 mense Aros op 13 Mei besoek het, waarvan 240 voornemende studente is. Besoekers kom hierdie jaar van ʼn veel groter verspreidingsgebied as vorige jare. Van so ver as Sannieshof tot Swaziland, Welkom tot Witrivier, Swartruggens, Parys, Mokopane (Potgietersrus) en Polokwane (Pietersburg) het voornemende studente nuuskierig kom loer.

“Besoekers is op ʼn toer deur die huidige kampus geneem en het geleentheid gekry om iets van die vriendelike atmosfeer van die Aros-kampus op ʼn normale klasdag te beleef,” verduidelik Du Toit. “Hul kon sien hoe die dosente klasgee, die studente sosialiseer en ook hoe die biblioteek lyk, waarby ons hoop die studente baie gereeld sal uitkom.”

Een van die trekpleisters was die studentestraatteater. Studente van Aros-kreatief het soos standbeelde doodstilgestaan tot iemand ʼn munt in hul boksie laat klingel. Sou iemand ʼn sagte donasie gee, het die studente sommer ʼn paar dankbare dansbewegings uitgevoer. Dit was nogal iets om te beleef. Sommige het dit so geniet dat hulle al hul kleingeld uitgegee het om te sien hoe die studente van posisie verander.

Een van die voornemende studente se ouers som die dag soos volg op: “Wil net vir julle sê hoe ongelooflik beïndruk ons was met alles. Julle vriendelikheid, behulpsaamheid en die hele opset is so georden. Ons hoop rêrig ons kan deel van julle wees volgende jaar. My kind is baie opgewonde en sien baie uit daarna.”

Die Aros-opedag was ʼn groot sukses. Daar was ʼn rekordtal besoekers, selfs al was dit bitterkoud en het dit later begin reën. In vergelyking met vorige jare het al meer studente wat die opedag bygewoon het reeds geweet wie Aros is. Heelwat het reeds ingeskryf en wou net die uniekheid van die kampus beleef.

“Die sukses wat hier beleef word kan nie net beperk word tot die harde werk van mense nie, maar ons wil dit bo alles toeskryf aan die seën van die Here. Die Here is regtig goed vir Aros in ʼn tyd waar die hoër onderwys omgewing in Suid-Afrika toenemend uitdagend word,” het Du Toit bygevoeg.

Diegene wat die geleentheid misgeloop het kan later vanjaar nog ʼn opedag bywoon. Hou gerus Aros se Facebookblad dop vir meer inligting hieroor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.