Video: Renostereienaar wil 25 aande buite slaap vir bewaring

Die platform waar Deon Cornelius saam met sy renosters onder die sterre elke aand gaan slaap. (Foto: Verskaf.)

Deon Cornelius, ʼn private renostereienaar van Mpumalanga, gaan die koel lenteweer aandurf en buite saam met sy renosters slaap as deel van ʼn projek om geld in te samel vir die bewaring van dié sagmoedige grys reuse.

Cornelius se plaas was verlede week ʼn miernes van aktiwiteit soos hy saam met Rhino Connect gewerkskaf het om alles gereed te kry om die 25 nagte saam met sy renosters buite te slaap. Daar is ʼn platform gebou op die stuk grond waar sy renosters gewoonlik hul wintervoer kry en elke aand van 19:00 af tot 07:00 die oggend sal hy buite saam met sy geliefde renosters deurbring.

Twee mense kan ook elke aand ʼn ete saam met die renosters op die platform onder die sterre geniet en die nag saam met hom en die diere buite deurbring.

Die niewinsgewende organisasie Rhino Connect sal ook sorg dat daar elke aand ʼn uitdaging aan Cornelius gestel word om dinge nie te gemaklik vir hom op die platform te maak nie. Elke aand se verrigtinge sal ook regstreeks op dié organisasie se webblad gestroom word.

“My mikpunt is om op die wyse ʼn R1 miljoen in te samel vir private renostereienaars wat vir voer en mediese uitgawes van die bewaring van hierdie diere gebruik kan word,” verduidelik hy.

Die grootste aantal renosters is in die besit van private eienaars, en terwyl hulle saamwerk om die diere te bewaar, het hulle met die afsonderingstyd in die Covid-19-pandemie geen steun van die staat ontvang vir hulle bewaringswerk nie.

“Ons het ook geen ander manier gehad om ʼn inkomste te genereer nie; daar was geen toeriste nie, geen skoolkampe nie en jag is nie eers op die wildplase toegelaat nie.”

Ondertussen het renosters steeds sekuriteit, voer en mediese sorg nodig gehad terwyl die plaaseienaars steeds hulle werknemers moes betaal.

Dit het Cornelius laat besluit om Wêreld Renostermaand te gebruik om iets te doen om die gemeenskap van renostereienaars te help wat swaar in hierdie tyd getrek het.

Tersia Jooste van Rhino Connect meen Cornelius se renosterplaas by Middelburg is net die regte plek om so ʼn geldinsamelingsprojek aan te bied.

“Die renosters op die plaas is karaktervolle diere en ʼn mens kan hulle sommer maklik op die plaas raaksien. Verder is die nodige veiligheidsmaatreëls reeds getref omdat almal weet die plaas het renosters en daar gewoonlik meer as 30 skoolkampe per jaar hier aangebied word.”

Jooste meen dit is wonderlik dat ʼn private renostereienaar opstaan om ander eienaars van die diere te help.

“Alhoewel die droogte plek-plek goed gebreek is, moet baie wildsboere byvoer gee omdat die nuwe reënseisoen nog nie aangebreek het nie.

“Talle wildsveeartse het oor die laaste vyf maande hulle dienste gratis aan boere gebied wat nie enige inkomste gehad het nie. As ons hulle met die projek tot ʼn mate kan terugbetaal of help om toerusting aan te koop, versterk ons weer mekaar se hande.”

Jooste sê daar sal in die maand ook elke naweek bykomende aktiwiteite tydens die projek vir die gemeenskap aangebied word.

“Ons beplan ʼn verjaarsdagpartytjie vir die twee renostersversies en alle 4‑ tot 6-jariges kan saam met hulle kom partytjie hou. Daar sal ook ʼn pretdraf wees saam met die polisie se rolstoelklub om die projek op 26 September af te sluit.”

  • Besoek Rhino Connect se webwerf of Facebook-blad vir meer inligting oor Deon se projek of om deel te word van die projek deur in September saam met die renosters onder die sterre te kom slaap. Donasies vir die projek kan ook deur Rhino Connect gemaak word.
  • Kom loer hier wat die renosters doen:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.