Renosterwesie nou ’n Voortrekker

Arthur, die renosterbulkalf. (Foto: Verskaf)

’n Agt maande oue renosterkalf wat in Mei vanjaar wees gelaat is, het ’n nuwe aangenome familie in die Voortrekkers gevind.

Arthur, die renosterbul van die Krugerwildtuin, is onlangs deur die Nelspruit Voortrekkerkommando as een van hul eie ingelyf as deel van ’n bewaringsinisiatief deur dié beweging.

Arthur spog gevolglik met sy eie Voortrekker-uniform. Die enigste verskil is dat sy blou onderbaadjie uit perspeks eerder as lap gemaak is. Hy kan dit natuurlik nie dra nie, maar mettertyd sal dié baadjie, nes dit ’n waardige Voortrekker betaam, met kentekens toegerus word soos hy onderskeie mylpale bereik. Dié mypale sluit in veldvernuf, spoorsny en selfbehoud.

Volgens Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, wil die Voortrekkerbeweging “met die inlywing van Arthur sê dat ons omgee, ook vir die natuur”.

Arthur is vroeër vanjaar naby Skukuza in die wildtuin langs sy ma se karkas aangetref nadat veldwagters in die omgewing ’n geweerskoot gehoor het. By hul aankoms op die toneel was Arthur en sy ma se horings reeds verwyder. Arthur het ook ernstige beserings aan sy rug en poot tydens die stropingsvoorval opgedoen.

Hy is gevolglik in Care for Wild, ’n renosterweeshuis-toevlugsoord, se sorg geplaas.

Dié oord is een van ’n klein hoeveelheid rehabilitasiesentrums in Mpumalanga wat amptelik deur die Krugerwildtuin gebruik word om renosterwesies te huisves en na hulle om te sien. Die ligging van die oord word egter geheim gehou om stropers weg te hou.

Care for Wild sien sedertdien na Arthur om en die Voortrekkers is in verbinding met dié renosterbulkalf gebring nadat dié groep R100 000 aan die oord geskenk het.

Arthur word deur die Nelspruit Voortrekkerkommando as een van hul eie ingelyf. (Foto: Verskaf)

Dié geld is ingesamel deur hul bewusmakingsprojek “Renoster red is vet pret”. Sowat 2 000 renosterspaarbussies is onder verskeie Voortrekkerspanne as deel van die projek versprei vir die doel van renosterbewaring.

Volgens genl.maj. Johan Jooste, hoof van spesiale projekte in die Krugerwildtuin, sal die geld beslis help om hul werk voort te sit en ’n wesenlike verskil maak in renosterstropery. “Hierdie staatmakerinstansie (Care for Wild) genereer sy eie fondse en steun soos hierdie dra direk by tot die versorging en uiteindelike vrylating van nog ’n renoster. Dit is ’n baie duur proses,” sê hy.

“Die aanslag [op renosters] duur voort soos kriminele netwerke geld maak uit die vraag na renosterhoring. Daar is tot agt voorvalle of [stropings]pogings per dag in die Krugerwildtuin.”

Volgens Jooste sal die stropingsyfer vir die derde agtereenvolgende jaar daal, “maar te veel renosters word steeds gestroop”.

Petronel Nieuwoudt, die stigter van Care for Wild, glo “almal kan daartoe bydra dat renosters gered kan word”.

“Renosters laat mense weer saamstaan nes die Voortrekkers saamgestaan het om dié geld met spaarbussies in te samel. Renosters gee mense weer hoop,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Patat ·

Ek sal bly wees as jul liewer nie die plekke van bewaring se name noem nie.
Poachers lees ook koerant ek kyk ook nuus, sodoende kry hul die inligting.
Ek sê ook maar net!

Johnnie ·

Voortrekkers julle is tops ons is almal trots op julle en ons hoop en vertrou dat julle nog baie jare se liefde en omgee sal he vir die renoter al is hy groot en oud.

AW ·

Operation Lock and the War on Rhino Poaching (John Hanks)

Killing for Profit – Exposing the Illegal Rhino Horn Trade (Julian Rademeyer)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.