Reuse kosskenking vir Witbank

Eiers

Die boer, wat verkies om anoniem te bly, het dadelik besluit om 18 000 eiers aan Solidariteit Helpende Hand se afleggingsnoodfonds te skenk. Foto: Verskaf

ʼn Goedhartige boer van Paulpietersburg in KwaZulu-Natal het deur sy kinders se sport te hore gekom van die krisis in Witbank ná grootskaalse afleggings by staalfabrieke in die gebied. Die boer, wat verkies om anoniem te bly, het dadelik besluit om 18 000 eiers aan Solidariteit Helpende Hand se afleggingsnoodfonds te skenk.

Mededinging in die Suid-Afrikaanse Nasionale Skoleskutterunie (SANSSU) is straf en leerders neem dit ernstig op. Daarom reël SANSSU jaarliks kompetisies tussen KwaZulu-Natal en Mpumalanga, maar vanjaar was daar min kinders van die Witbank/Middelburg-omgewing wat kon deelneem. Die boer se seun en dogter is albei kranige skuts en hy het by hulle gehoor van die situasie op Witbank.

Die boer, wie se familie al meer as 40 jaar in KwaZulu-Natal met pluimvee boer, het met Cornelius van Leeuwen, plaaslike Solidariteit-verteenwoordiger, in verbinding getree. Van Leeuwen het op 23 Februarie die vrag eiers op Paulpietersburg gaan haal en gereël dat die eiers verkoel word totdat dit uitgedeel kon word.

Nagenoeg 2 200 mense is deur die afleggings by Highveld Steel en Vanchem Vanadium Products geraak, van wie 300 Solidariteit-lede is. Volgens Marius Croucamp, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit se metaal- en ingenieursbedryf, moes baie van die afgelegde personeel sonder hul laaste maand se salaris en sonder ʼn skeidingspakket hul werkplekke verlaat.

Solidariteit Helpende Hand het op 19 Februarie bykans agt ton se kospakkies uitgedeel, in wat moontlik die eerste van vele uitdeelaksies in die gebied gaan wees.

Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand, het onlangs ʼn dringende beroep op die publiek gedoen om te help om die nood te verlig. “Ons het beslis die publiek se hulp nodig om hierdie mense by te staan en die onmiddellike nood te verlig. Ons is baie dankbaar vir die ruim skenkings wat ons reeds van die publiek ontvang het,” het Brink gesê.

Helpende Hand versoek die publiek om hulp aan te bied deur “Witbank” na 38969 te SMS om R10 aan die afleggingsnoodfonds te skenk, of deur www.helpwitbank.co.za te besoek vir Helpende Hand se bankbesonderhede as jy ʼn groter bedrag wil skenk . ʼn Lys van voorgestelde voedselskenkings is ook beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tommie ·

President Zuma bedank al die witmense wie altyd noodverlenings bydrae lewer vir alle rasse wat werkloos en honger is. Die woorde sal nooit oor sy lippe kom nie!

Izzy ·

Baie dankie aan hierdie boer. Mag hy vir ons elkeen ‘n voorbeeld wees…..elke bietjie help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.